top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Gebed is nie ‘n ontduiking van verantwoordelikheid nie


Direk ná die terroriste-aanval in San Bernardino, Californië, op 2 Desember 2015, het verskeie politici op twitter die slagoffers en hulle families van hulle gebede verseker. In reaksie daarop het die New York daily ‘n voorbladartikel die lig laat sien met die titel: “God isn’t fixing this.” Die kritiek was dat leë trooswoorde en gebede geen verskil maak solank die persone wat die wapenwetgewing kan verander, hulleself verryk en slegs oor hulle eie politieke loopbane bekommerd is nie. ‘n Bekende kerkleier het daarop gereageer met die woorde: “I believe that it is long past time we got up from our knees and got to work.”

Gebed is nié ‘n ontduiking van verantwoordelikheid nie. Hierdie boodskap het duidelik in die koerantartikel na vore gekom. Dit is nie dat gebed onbelangrik is nie – dis net dat gebed veronderstel is om ons na die wêreld toe te vat. Telkens nadat Jesus eenkant gaan bid het, het Hy opgestaan en gaan dien! Wanneer die dissipels Jesus vra om die skare weg te stuur omdat dit laat raak en almal honger is, is sy reaksie: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Wanneer Jesus na die soekende mense kyk en hulle sien as ‘n land ryp vir die oes, versoek Hy sy dissipels om te bid vir die arbeiders wat daardie oes moet insamel; direk daarna stuur Hy húlle uit. Gebed is nooit om alles op God af te skuif en dan te voel dat ons iets gedoen het nie. Gebed lei tot aksie; dit is om by die regte adres te begin. Gebed moet ons die waagmoed gee om op te staan en iets te gaan dóén. Dit is ‘n mandaat wat ons direk by God kry – aanmelding vir diens!

23 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page