"Ek het geen rede om te kla nie,” hoor ons iemand sê… So asof die persoon teleurgesteld is dat hy of sy geen gronde kon vind om wél te kla nie! “Ek wou kla, maar kon nie!” Hoe is dit dat ons so maklik na die negatiewe eerder as die positiewe neig?
![](https://static.wixstatic.com/media/871ead_84b842db3dbe4630920c7138c0b3370a~mv2.jpg/v1/fill/w_248,h_203,al_c,q_80,enc_auto/871ead_84b842db3dbe4630920c7138c0b3370a~mv2.jpg)
Vanuit die sielkunde is daar al veel oor die voorkeur vir negatiwiteit nagedink:
· Dit is makliker om negatiewe dinge van ander, maar positiewe dinge van jouself te glo. Hierdie vooroordeel word toekenning genoem, die verskynsel van die akteur-toeskouer effek. Wanneer dit oor ons eie negatiewe aksies gaan, volg ons ’n meer toegeeflike aanpak omdat ons die agtergrond en motivering daaragter persoonlik verstaan.
· Vergelyking met ander het ten diepste te make met die beskerming van die ego, of met die paranoia waarmee ander bejeen word weens die beveiliging van die self. Hierdie selfbeskerming is ‘n tipies menslike reaksie op die omgewing, wat tot uiting kom in die meer kritiese benadering tot ander.
· Ons samelewing is gekondisioneer in die perspektief van die soeke na die slegte – selfs in ’n goeie situasie. Die mens is geprogrammeer vir die klem op die negatiewe. Daar bestaan in die menslik psige ’n positief-negatief assimetrie: ’n natuurlike voorkeur vir die negatiewe.
· Katastrofisering of katastrofiese denke, die geneigdheid om by negatiewe uitkomste stil te staan of altyd die ergste scenario voor te stel, word ook as ’n psigologiese verklaring aangedui. Dit is die neiging om op ’n pessimistiese wyse na ’n saak of situasie te kyk.
· In enige interaksie, is ons geneig om eerder die negatiewe raak te sien en dit helderder in herinnering te roep. Ons onthou negatiewe traumatiese ervaringe beter as positiewe ervaringe; ons word dieper geraak deur beledigings as komplimente; ons respons op negatiewe stimuli is sterker; ons dink meer gereeld aan negatiewe as positiewe dinge; ons reageer heftiger op slegte as goeie gebeure.
· Om die wending tot negatiewe selfspraak te verhoed, is daar vier rooiligte waarop ons fyn moet let:
(i) Oordramatisering: ‘dis klaarpraat,’ ‘ek wil nie meer nie…’
(ii) Negatiewe refleksie: een fout oorskadu alles anders in die dag…
(iii) Slagoffermentaliteit: ‘hoekom ek?’ ‘n Gevoel van onregverdigheid…
(iv) Hulpeloosheid: ‘ek kan nie,’ pleks van... ‘ek kan probeer...’
· Die verskynsel van negatiewe uiterlike dialoog, waar jy eerder iets in die negatiewe as die positiewe stel, is aangeleerde gedrag wat ons kan verander. Hier is 20 praktiese maniere om negatiewe dialoog na positiewe dialoog oor te skakel:
Negatief | Positief |
Dit gaan nie te sleg nie | Dit gaan goed |
Ek kan nie kla nie | Ek voel goed |
Dit help tog nie ek kla nie | Kla is buite die kwessie |
Ek kan nie daarmee stry nie | Ek stem daarmee saam |
Ek kan nie vir meer vra nie | Ek is heeltemal tevrede |
Ek kan nie daarvan verskil nie | Ek stem saam |
Ek verwag nie minder nie | Dit is wat ek verwag |
As jy nie, sal ek nie… | As jy, sal ek… |
Ek hoop nie ek misluk nie | Ek hoop ek slaag |
Ek kan nie sien hoekom nie | Kom ons doen dit |
Ek sal jou nie keer nie | Ek ondersteun jou |
Ek sal nie kan sê nie | Ek sal sê |
Ek kan nie anders nie | Ek kan dit só doen |
Dis geen probleem nie | Dit is ‘n plesier |
Dis nie sleg nie | Dis goed |
Dis nie so sleg soos dit lyk nie | Dis beter as wat dit lyk |
Waarom gaan ons nie… | Kom ons… |
Dis nie ‘n slegte plan nie | Dis ‘n goeie plan |
Dis nie wat ek bedoel nie | Dis wat ek bedoel |
Hoekom kan ons nie… | Kom ons oorweeg om… |
Comments