top of page
Search

Hoe kan ek vir Trump bid?

Writer's picture: Ben van TonderBen van Tonder

Daar is sekere mense waarvoor ons nié graag wil bid nie. En wanneer ons wel vir hulle bid, is dit eerder vir hulle onheil as hulle heil. Ons wens hulle eerder slegte dinge toe sodat hulle volgens ons oordeel tot inkeer sal kom of ’n les sal leer. Sodoende word gebed ’n soort ‘heilige’ wraak of straf, eerder as die opregte soeke na die voordeel van ’n ander. As ons net kan bid vir die mense waaroor ons positief is of volgens ons waardig is, dan is gebed nie meer die vertroue in God nie, maar in ons eie oordeelsvermoë. Sou ons slegs glo dat God oor mense voel soos ons oor hulle voel, dan is die ‘God’ waarin ons glo ’n blote bousel van ons eie denke en voorkeure.



In Matteüs 5:43-48 leer Jesus ons dat Christelike liefde én gebed nooit ons vyande uitsluit nie. Gebed is nie bedoel om allerlei dinge by God te kry of Hom by ons planne te laat inkoop nie – dit is die onderwerping aan sý wil. God se wil moet seëvier, en ons eie wil moet aan sy wil ondergeskik gestel word. Jesus het ons immers leer bid: “Laat u wil geskied.” Hy bid sélf ook in Lukas 22:42 die heel belangrikste en mees ingrypende gebed in die hele geskiedenis: “Laat nie my wil nie maar u wil geskied.” Gebed is oorgawe aan God. Solank as wat ons bloot op ons eie behoeftes fokus, gaan Jakobus 4:3 ook vir ons geld: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle eie selfsugtige begeertes bevredig.”

Hoe kan ons dan “reg” bid? Gaan dit oor die regte tegniek of woorde? Nee, ‘n mens bid verkeerd wanneer jou motief nie suiwer is nie of jy vir die verkeerde dinge vra. Om reg te bid, is om bínne God se wil te bid! God se wil is ook nie so moeilik om te vind nie – dit is duidelik en volledig in sy Woord opgeteken. Sou God byvoorbeeld ‘n gebed verhoor waar ons vra dat Trump ‘n hartaanval moet kry en sterf sodat die VSA hom met ‘n nuwe president kan vervang? Nee, want God maak nie dood en bring nie slegte dinge oor mense nie (Jakobus 1:17) en ‘n nuwe president is nié die oplossing solank die res van die land en sy mense steeds dieselfde bly nie.

As ons ophou om nié vir Trump te wil bid nie, en ook nie téén hom te wil bid nie, maar liewer vír hom te bid, sal ons ‘n beter kans hê op gebedsverhoring. Ons sal reg begin bid as ons eers vra vir ‘n hartsverandering by onsself. Dalk iets soos: “Here, wat moet by mý verander, sodat ek vir Trump kan bid?” Natuurlik moet ons hard en duidelik sê as leiers dinge doen wat nie volgens God se wil is nie. Daar ís ruimtes en maniere om dit te doen, en ons moet vreesloos daarvan gebruik maak. Solank ons egter vernederende en beskuldigende boodskappe oor ander rondslinger, of gebed as 'n wapen gebruik, bewys ons aan almal dat daar nog niks by onsself verander het nie. Dan is ons nog deel van die probleem eerder as die oplossing.

50 views0 comments

Recent Posts

See All

Yorumlar


bottom of page