Waarom die wegraping nie regtig in die Bybel is nie
- Ben van Tonder
- Sep 25
- 3 min read
Baie mense het al gehoor van die idee van ’n wegraping: op ’n dag verdwyn die gelowiges skielik, en die res van die wêreld word in chaos agtergelaat. Ná ’n tyd van verdrukking kom Jesus weer om die nasies te oordeel. Hierdie prentjie is bekend uit boeke en films soos Left Behind. Maar is dit wat die Bybel regtig leer?
Die kort antwoord: nee. Die leer van die wegraping is eintlik baie jonk. Dit het eers in die 1830’s ontstaan, en is deur John Nelson Darby gepopulariseer. Van daar het dit vanuit Brittanje in Amerika posgevat en saamgesmelt met ’n nuwe manier van Bybel lees – die dispensasionalisme. Daarvolgens verdeel God die geskiedenis in “bedelings” en werk Hy anders in elke tydperk. Cyrus Ingerson Scofield se bekende Bybel het hierdie manier van lees gewild gemaak.
Maar as ons na die Bybel self gaan kyk, lyk die prentjie heel anders. Twee sentrale tekste word meestal vir die wegraping aangevoer:
Matteus 24: Die dae van Noag
Die verse wat dikwels as bewys vir die wegraping aangehaal word, is Matteus 24:40–41:
“Twee mans sal in die veld wees; een sal geneem word en een agterbly. Twee vroue sal maal; een sal geneem word en een agterbly.”
Op die oog af klink dit na ’n geheime verdwyning van gelowiges. Maar lees die konteks: in verse 37–39 sê Jesus dat sy koms soos in die dae van Noag sal wees. Toe het die sondvloed gekom en die goddeloses weggeneem, terwyl Noag en sy gesin agtergebly het in die ark.
Met ander woorde: dié wat “geneem” word, is nie die gelowiges nie, maar diegene wat geoordeel word omdat hulle nie in Christus is nie. Lukas 17 stel dit selfs skerper. Wanneer die dissipels vra: “Waarheen, Here?” antwoord Jesus:
“Waar die aas is, daar sal die aasvoëls saamkom.” (Lukas 17:37)
Dit klink nie na ’n hemelse redding nie, maar na oordeel. Diegene wat weggeneem word, beland nie by Christus in die hemel nie, maar in die plek van verwoesting. In die groter geheel handel die verse oor die wederkoms van Jesus.
1 Tessalonisense 4: Die Here tegemoet
Die tweede teks wat gewoonlik gebruik word, is 1 Tessalonisense 4:16–17:
“Die Here self sal uit die hemel neerdaal met ’n bevelsgeroep, met die stem van ’n aartsengel en met die geluid van die basuin van God; en die dooies in Christus sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word om die Here in die lug te ontmoet; en so sal ons altyd by die Here wees.”
Op die oppervlak klink dit soos ’n dramatiese wegvoering. Maar let op na Paulus se bedoeling. Hy skryf om die gemeente te bemoedig wat bekommerd was oor geliefdes in Christus wat reeds gesterf het. Sy boodskap is eenvoudig: wanneer Christus kom, sal die dooies eerste opstaan, en saam met die lewendes Hom tegemoetgaan.
In die antieke wêreld was dit gebruiklik dat ’n stad sy koning buite die poorte tegemoetgaan wanneer hy van ’n oorwinning terugkeer, en hom dan met eer teruglei die stad in. Dit is presies die beeld wat Paulus gebruik. Gelowiges word nie weggevoer om die aarde permanent te verlaat nie; hulle ontmoet Christus om saam met Hom sy oorwinningsintog te vier.
Die basuin wat hier beskryf word, herinner aan die openbare oorwinningsaankondiging: die Koning keer terug, en sy volk gaan Hom in triomf verwelkom. Die koms van Christus sal nie in die geheim nie, maar skielik en openlik gebeur.
Die ware Christelike hoop
As ons hierdie tekste eerlik lees, sien ons dat die Bybel nie ’n geheime wegraping leer nie. In Matteus wys Jesus dat dit die ongelowiges is wat weggeneem word in die oordeel. In 1 Tessalonisense beskryf Paulus die groot dag van Christus se terugkeer, die opstanding van die dooies en die bemoediging van gelowiges – nie ’n stille verdwyning van die kerk nie.
Die ware hoop van die evangelie is dus nie dat ons eendag uit die wêreld “weggeraap” gaan word nie. Ons hoop lê in die sigbare terugkeer van Christus, die opstanding van die dooies, en die dag wanneer Hy alles nuut maak en sy koninkryk in heerlikheid kom vestig.
Dáárdie hoop is ryker, dieper en sterker as enige ontsnappingsplan!








Comments