top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Daar’s nie iets soos geloof in geloof nie

Geloof kan maklik gesien word as ‘n teenprestasie waardeur God se beloftes waargemaak moet word, of as ‘n hefboom waardeur God beweeg kan word om te doen wat ons wil hê, of as ‘n bo-en-behalwe-aksie naas Christus se verdienste. Sodoende word die vertroue eerder in geloof geplaas as in God – ons geloof is dan in geloof meer as in Christus. Dis asof ons animisties oor geloof nadink: daar is krag in geloof liewer as in God, en daardie krag word vrygestel ómdat óns glo. Die krag lê dan nie meer in God in Wie geglo word nie, maar in die een wat glo en sy of haar “groot” geloof.

Geloof self is egter nie ‘n reddingsaksie nie. Geloof is nié die verlosser nie – Jesus is! Ons hoop word nie op geloof geplaas nie, maar op Christus. Soos Johan Heyns tereg skryf: geloof is ‘n gehoorsame reaksie op God se werk in my hart; ek gryp in geloof omdat ek rééds deur God gegryp is – Fil 3:12. Geloof is nie ‘n prestasie nie, maar ‘n gawe van God – Fil 1:29. Dit is vertroue in God en nie vertroue in geloof of in die een wat glo nie. Die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 22 stel dit goed: “Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n halwe Verlosser is.”

Ongelukkig wil ons dikwels die volgorde omkeer: ons voel dat ons die eerste tree gee en God dan daarop reageer – daar moet dus eers iets van óns kant af gebeur voordat God se heilswerk in werking kan tree. Christus bring egter die vólle verlossing, en geloof bevestig slegs daardie verlossing in die lewe van die een wat glo. Ook redding is immers ‘n gawe van God – Ef 2:8. God neem élke keer die inisiatief: Hý begin die aksie, en ons reageer met die geloof wat Hy rééds in ons geplant het. Sodra ons meer op geloof staatmaak as op God, begin allerlei probleme: dan fokus ons maklik op ons eie potensiaal; dan wil ons onsself oordoop omdat ons voel die reddingsaksie begin by ons; dan wil ons onderskei tussen groot en klein geloof of gelowiges; dan wil ons slegte gebeure aan swak geloof toeskryf, of goeie dinge aan sterk geloof toedig. Jesus is egter die Begin en die Voleinder van die geloof – Heb 12:2. Ons kan nooit oor geloof nadink los van Hom nie…

7 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page