top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Die verskoning van skinder

Baie mense gebruik die verskoning dat kwaadpraat nie verkeerd is solank dit wat ons met ander deel die waarheid is nie – dán is dit volgens hulle nie skinder nie. Natuurlik hang dit eerstens alles af van elkeen se eie weergawe van die waarheid – sê nou mý “waarheid” is dalk nie die volle waarheid nie? Ongelukkig sit ons tweedens steeds die pot mis: skinder gaan veel meer oor die gesindheid as die inhoud. Skinder is die kwaadwillige bedoeling om private feite aangaande iemand (waar óf onwaar) met ander te deel met die liefdelose intensie om skade vir daardie persoon te berokken of hom of haar in ‘n slegte lig te stel. Selfs as ál die feite rondom daardie persoon of situasie waar is, bly dit skinder!

In die OT spreek God Hom hard en duidelik daarteen uit. In Lev 19:16 hoor ons dat ons nie mag loop en skinder nie; in Spr 10:18 word gesê dat diegene wat skinder dwaas is en haat versprei; in Spr 16:28 hoor ons hoe skinder en die verdraaiing van die waarheid met mekaar in verband gebring word; in Spr 20:19 word ons aangemoedig om weg te bly van mense wat baie praat en skinder; in Ps 34:14 word ons opgeroep om ons tonge te weerhou van kwaadpraat en leuens terwyl God in Ps 101:5 verklaar dat hy mense wat skinder wil uitwis omdat hy nie hoogmoed en vermetelheid verdra nie.

In die NT word die tema van skinder en kwaadpraat op die spits gedryf. Jesus self verklaar in Mrk 7:20 dat dit wat van binne af kom mense onrein maak soos onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed en ligsinnigheid. Rom 1:29-31 borduur op hierdie ernstige tema voort deur te bevestig dat kwaadpraat en skinder in dieselfde lysie van gruwelike sonde hoort as ongeregtigheid, hebsug, gemeenheid, jaloesie, moord, twis, bedrog, haat vir God, hooghartigheid en verwaandheid. In 2 Kor 12:20 waarsku Paulus die gemeente teen twis, kwaadpratery en nuusdraery. In Ef 4:29 word ons opgeroep om slegs te praat wat goed en opbouend is sodat dit ons hoorders ten goed kan kom. Kol 3:8 moedig ons aan om die ou dinge soos vuil taal, leuens, woede, haat en nyd te laat staan. In 1 Tess 4:11 hoor ons dat dit vir ons ‘n saak van eer moet wees om ons met ons eie sake besig te hou. Timoteus word in 2 Tim 2:16 aangemoedig om weg te bly van onheilige en sinlose praatjies omdat dit tot goddelose verval lei en soos kanker vreet. In Tit 2:3 word vroue gewaarsku teen die verslawing van kwaadpraat sodat die woord van God nie in diskrediet kom nie. Tit 3:2 bevestig dat gelowiges van niemand moet kwaadpraat of moet rusie soek nie.

Jak 1:26 sê dat iemand wat dink hy is godsdienstig maar nie sy tong in toom kan hou nie, homself bedrieg en sy godsdiens waardeloos maak. Jakobus 3:1-12 beskryf die ernstige gevare van die tong en wys veral op die feit dat ons nie God kan loof en ander vervloek met dieselfde tong nie. In Jak 4:11 word ons aangesê om nie van mekaar kwaad te praat nie omdat ons nie in God se plek regter kan speel nie. Jesus waarsku ons in Mat 12:36 dat ons van elke ligsinnige woord wat ons uiter sal moet rekenskap gee. Die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 31 ondersteun die punt: “Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen, en sover moontlik sonder murmurering, twis en tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.” Alle kwaadpraat is skinder, en skinder is sonde!

53 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page