top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Watter mag het die tong?


Nêrens in die Bybel word die krag wat met die tong geassosieer word letterlik verstaan nie; die gesag agter woorde lê nié in die tong of die woorde self nie. Hierdie verkeerde verstaan daarvan is niks anders as bygeloof en animisme nie en word eerder in die wêreld van fantasie gevind. Bygeloof word juis gedefinieer as ‘n valse geloof met die klem op geheimsinnige invloede of magte buite God. Selfs wanneer Gód op hierdie wyse deur die uitspreek van menslike woorde misbruik word, verander dit in afgodery omdat Hy valslik as vrymagtige God misken word. Soos die Heidelbergse Kategismus vraag 95 dit stel: “Afgodery is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom, iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.”

Al die teksgedeeltes wat handel oor die effek van die tong en woorde, en wat gebruik word om onder andere die lewe-spreek-praktyk te onderskryf, soos byvoorbeeld Spr 12:18, Spr 15:4, Spr 18:20 en 21 asook Ps 34:13, het alleenlik te make met die skadelike effek van die tong wanneer dit kwaadwillig spreek, maar nié met bonatuurlike krag wat kwansuis in die tong self of in die spreek van woorde sou lê nie. In die tong as natuurlike biologiese liggaamsdeel is daar géén bomenslike of supernatuurlike krag opgesluit nie, en so ook nie in die fisiese uitspreek van woorde nie. Alleen binne die spiritisme funksioneer die tong en woorde op hierdie onnatuurlike wyse.

Indien die tong dan nie insigself krag het nie, waarin lê die gevaar van die tong? Volgens Jak 3:1-12 is die tong wél uiters gevaarlik. Let egter op die konteks van die uitsprake in vers 1 en vers 13 – dit gaan oor lering en die Goddelike wysheid om die tong in toom te hou. Die mag wat die tong hier het, het egter niks met ‘n bonatuurlike krag in die bonatuurlike dimensie te make nie, maar liewer met die fisiese seer en skade wat die tong van ‘n kwaadwillige mens ander kan berokken. Daar lê géén supernatuurlike krag in die tong self nie. Uitsprake van mense kan sonder twyfel seermaak en emosionele skade berokken, maar niemand hoef dit te glo of te aanvaar nie. Jesus waarsku ons in Mat 12:36 en 37 om te waak teen ligsinnige uitsprake. Ook hier gaan dit net soos in Jakobus oor die lewens van mense wat in lyn met hulle woorde moet wees.

30 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page