top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Is geloof en positiewe denke dieselfde?


Om positief te dink word soms met geloof in verband gebring, wanneer mense opgeroep word om negatiewe denke te laat staan en te glo dat dinge goed en mooi sal uitwerk. ‘n Goeie gelowige word dan beskou as iemand wat van nature optimisties oor die lewe is. Positiewe denke word egter gedefinieer as ‘n ingesteldheid of houding van positiwiteit wat vanuit eie innerlike krag geput word. Dit geskied vanuit die mens se persoonlike motivering en slaag wanneer die individu oorwinning oor sy of haar negatiewe emosies of wanhoop verkry. Hierdie positiwiteit word gedryf deur ‘n persoon se eie oortuiging en hang af van elkeen se inherente krag of redelike vermoë.

Volgens Hebreërs 11 is geloof egter iets heeltemal anders as om bloot positiewe denke te openbaar. Geloof is om seker te wees van die dinge waarop ons as gelowiges hoop en oortuig te wees van die dinge wat ons nog nie kan sien nie. Hierdie geloof hang dus nie af van ‘n algemene positiewe ingesteldheid of ‘n lewe van optimisme nie, maar van God se geopenbaarde beloftes in sy Woord. Geloof word direk gekoppel aan die Here se waarborg van verlossing en hoop, en hierdie hoop is in samehang met die oorwinning van Jesus Christus aan die kruis. Geloof hang dus nie af van die individu se prestasie of krag of innerlike motivering of emosionele intelligensie nie, maar van God wat die sekerheid en vastigheid van ‘n gelowige se lewe is te midde van twyfel en onsekerheid.

Om te glo gaan uiteraard tot ‘n groter lewe van positiwiteit lei, maar hierdie hoopvolle gesindheid word gebore uit die hart van God en hou direk aan Jesus Christus se verdienste vas. Daarom is geloof nie ‘n prestasie of ‘n getuienis van die mens se vermoë of sterkte nie, maar ‘n resultaat van God se genadewerk wat in die hart van die gelowige sigbaar word. Waar positiewe denke as ‘n selfverbeteringstegniek beskou word wat selfs ongelowiges kan bemeester, is geloof ‘n gawe van die Gees van God wat nooit los van Jesus staan nie, en kan dit slegs ‘n werklikheid word gepaardgaande met ‘n hartsverandering en oorgawe aan God. Positiewe denke maak staat op die individu of die tegniek, maar geloof maak alleen staat op God. Positiewe denke gaan oor sukses, welvaart en die verbetering van die self; geloof gaan oor Christus se eer en sy koninkryk.

63 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page