top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Jesus se uitkenningsparade

Hoe ken ons die regte Jesus uit tussen al die nagemaaktes? Hoe sou ons Jesus identifiseer in ‘n uitkenningsparade?

(i) Natuurlik aan sy Woord – Hy praat en doen áltyd in lyn met die Bybel!

(ii) Natuurlik aan sy liefde, genade en vergifnis – Hy het áltyd en oral genoeg daarvan vir almal!

(iii) Maar die belangrikste manier om Jesus uit te ken, is aan sy karakter. Daar is 4 kenmerke van sy karakter waaraan ons Hom kan uitken:

*Aan sy tyd: Jesus is áltyd ontydig! Dis een ding waarmee Hy altyd op tyd is en tyd het: sy ontydigheid! In Luk 24 ontmoet Hy die 2 Emmausgangers nié in ‘n geskeduleerde formele erediens nie; sommer op die stofpad tussen niks en nêrens! Hulle het Hom nie daar verwag nie, en daarom eers nie herken nie. J daag dikwels onverwags op en vra offers wanneer jy die minste tyd, lus, geld, gawes of energie het! Jesus kan ontydig wees…

*Aan sy plek: Jesus is áltyd uit plek uit! Dis waarom dié 2 Emmausgangers Hom byna nie raakgesien het nie – Hy moes eers iets “geestelik” doen daar by hulle ete waar Hy die brood breek soos met die nagmaal ‘n paar dae vantevore, voordat hulle Hom sien. Eers toe Hy “in karakter” is en doen wat vlgs hulle by Hom pas, sien hulle Hom. Hulle het Hom nie daar en so verwag nie – Hy was totaal uit plek uit wanneer Hy sommer so informeel saam met hulle stap! Hy moes eintlik nou in die doderyk gewees het – en waarom sou Hy húlle 2 kies om sy opstandingsdag mee te spandeer? Jesus kan totaal uit plek uit wees…

*Aan sy styl: Jesus is áltyd uit styl uit! Die 2 Emmausgangers het Hom byna gemis omdat hulle húlle prentjie van Hom gehad het; hulle het Hom geken as die wonderwerker en prediker! Nie as die goeie vriend wat sommer net kuier nie. Hy is nooit “in” nie – Hy is altyd uit want Hy is altyd by die wat “uit” is! Die kerk kan Hom nie beheer nie; polities inkorrek! Hy oortree al die mensgemaakte sosiale reëls! Jesus kan nogal uit styl uit wees…

*Aan sy vriende: J het áltyd vreemde vriende! Leonard Sweet: “Dis een ding om ‘n hart vir armes te hê – dis ‘n ander ding om hulle badkamers te gebruik!” J ruik selfs soos sy vriende – na sweet en stof soos die 2 Emmausgangers; Hy ruik soos die melaatses en die prostitute en die vissermanne; Jesus ruik na vis en na hout; Hy is vriende met gewóne mense! Hy hanteer almal gelyk en dieselfde – Hy glo nie in bandjies vir boeties of verskillende standaarde vir verskillende mense nie! Hy deel mense nie in klasse op nie! Jesus kan met vreemde vriende meng…

As ons Jesus wil raaksien en uitken, dan moet ons gereed wees om ons tradisionele prentjie van Hom op te skeur, en moet ons Hom op vreemde plekke en in vreemde situasies verwag! Jesus kan maklik uitgeken word aan die plekke waar Hy rondhang, en aan die mense met wie Hy uithang…

6 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page