top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Wie is ek?

Die vraag: “Wie is ek?” is moeiliker om te beantwoord as wat ek dalk mag dink! Ek is nie my naam nie (dis net wat ek genoem word); ek is nie my herkoms nie (dis bloot die volk waaruit ek kom); ek is nie my nasionaliteit nie (dis net die land waarin ek woon); ek is nie my werk nie (dis bloot wat ek elke dag doen); ek is nie my godsdiens nie (dis net die geloofsgroep waaraan ek behoort). Wie is ek régtig? Wat is my essensie?

Jesus beantwoord hierdie vraag op ‘n verrassende wyse in Hand 1:6-11: Hy gee ons nie net vir ons ‘n nuwe identiteit nie, maar ook ‘n nuwe werk! As die dissipels probeer uitvis wanneer Jesus sy koninkryk gaan vestig, antwoord Hy dat dit eintlik nie vir hulle is om te weet nie, maar dat hulle eerder moet bekommerd wees oor dit wat húlle moet doen – vers 8: “MAAR júlle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees…” Met hierdie woorde gee Jesus beide vir ons ‘n nuwe identeit én ‘n nuwe werk: ons is GETUIES!

‘n Getuie getuig nie oor homself of haarself nie – ons is Jésus se getuies! Ons is in sý diens, ons praat oor Hóm; sý koninkryk is ons enigste agenda! Ons kan slegs getuig oor wat ons van Hóm weet en ervaar; ons deel nie ons eie stories nie; ons praat ook nie op hoorsê nie; ons deel Jesus se groot storie van verlossing en hoop. Ons is daar om Hóm te laat goed lyk – nie onsself nie. Hy is nie in óns diens nie; Hy is nie óns getuie wat óns lewens moet verbeter en óns moet laat goed lyk of óns koninkrykies moet laat kom nie. Alles gaan oor Hóm.

My nuwe identiteit is getuie van Jesus! Wat ek is en wie ek is word daardeur bepaal. Oral in Handelinge word die apostels getuies genoem; Paulus word ‘n getuie genoem; Stefanus word ‘n getuie genoem: hulle het verstaan dat hulle hele lewe daardeur gekenmerk word. Dit was die essensie van wie hulle is!

My nuwe werk is getuie van Jesus! Dit is waaraan ek my hele lewe wy: ek leef nie meer vir myself en my eie koninkryk nie, maar vir Jesus en sý koninkryk. My loopbaan, my verhoudinge, my stokperdjies, my talente, my geld het alles net EEN doel: om oor Jesus te getuig en sy koninkryk te help kom!

4 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page