top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Wat doen dominees nou eintlik?

“Wat doen dominees nou eintlik?” Dis ‘n vraag wat mens baie hoor, en gewoonlik veronderstel dit dat mense dink dominees doen nie veel nie – hulle werk mos net op Sondae, só grap ons. Sondae is hulle onverstaanbaar; weeksdae is hulle onverkrygbaar – só spot ons. Maar alle grappe op ‘n stokkie – een ding is waar: dominees doen nie altyd wat hulle veronderstel is om te doen nie!

Vandat die Heilige Gees in Handelinge 2 op álle gelowiges uitgestort is, het iets dramaties verander: die Gees word nou aan almal gegee, nie net aan konings of profete soos in die Ou Testament nie! Nie net sekeres word nou met die Gees gesalf om namens God op te tree nie, maar almal wat in Christus glo ontvang die Gees. Die Heilige Gees word op groepe uitgestort – saam ontvang gelowiges die Gees as gemeenskaplike gawe! Die Gees werk nou in groepe en deur groepe van gelowiges!

Elke gelowige het nou ‘n werk in God se nuwe bedeling; almal is nou deel van die nuwe beweging van die Gees. Verby is die tyd van geestelike superhelde wat alleenreg op die Gees gehad het. Verby is die tyd van enkelinge wat met superkragte toegerus is asof hulle alleen belangrik is. Jesus het immers in Handelinge beloof dat almal krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom, en almal sy getuies sal wees.

In Ef 4:11-12 hoor ons hoe die Here oor geestelike leiers in die kerk dink: hulle werk is nié om namens die res van die gelowiges hulle geloof uit te leef nie; leraars is nie professionele Christene wat betaal word om te doen wat elke gelowige eintlik moet doen nie. Hulle taak is om die gelowiges toe rus vir húlle bediening! Almal staan nou in die bediening! Almal is nou Geesvervuld! Almal is nou deel van God se taakmag wat moet uitreik en omgee! En solank net van dominees of pastore verwag word om dit te doen, gaan hulle eintlike werk verlore: om lidmate toe te rus vir húlle roeping!

Kerke word nie meer deur supersterre volgepreek nie, maar deur gewone lidmate volgeleef wat na mekaar uitreik en ander in liefde innooi. Verby is die tyd dat geestelike leiers namens die res kan omgee, uitreik, bid, bedien en versorg – dis nou élkeen se taak! Pleks van vra: “wat doen dominees nou eintlik?” moet ons eerder vra: “Wat móét dominees nou eintlik doen?” En dalk is die heel belangrikste vraag: “Wat moet lidmate nou eintlik doen?”

5 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page