top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Is slegte goed God se skuld?

Ons hoor soms mense sê hulle glo nie meer nie, want kyk hoe lyk die wêreld; as God daar was, sou Hy slegte dinge keer; as Hy liefde was, sou Hy ons weghou van lyding; as Hy genadig was sou Hy nie slegte goed toelaat nie! Maar dit gebeur nie. Hy beskerm ons nié altyd teen slegte dinge nie, Hy beskerm ons wel te midde daarvan! Hy keer ook nie altyd slegte goed nie, nie omdat Hy harteloos of magteloos is nie, maar omdat Hy nié daarvoor verantwoordelik is nie!

God het ‘n groot deel van hierdie wêreld se verloop in die hande van mense gegee: mense is gemaak met ‘n vrye wil; keuses; besluite – goed of sleg. God het ons nié robotte of zombies gemaak nie – ons skryf sáám aan die draaiboek van die lewe. Ons is nie willose akteurs wat bloot die voorafgeskryfde draaiboek moet opvoer nie. Ons dink so verkeerd oor God se wil en die dood: Hy trek strepies, Hy neem lewens, Hy pluk blommetjies, Hy kom haal mense – so praat ons, amper asof ons pionne op ‘n skaakbord is, en God al die skuiwe maak.

Hoor maar hoe gelowiges mekaar troos as slegte dinge gebeur: “Jy sal nie nou verstaan nie, maar eendag sal jy verstaan;” of “God het ‘n plan daarmee;” of “Dit was God se wil en ons moet daarby berus.” Wat sou God se plan wees met die dood? En as ek nie nou verstaan nie, hoekom sal ek later verstaan? En waarom moet ek berus, as God nie berus by slegte dinge nie, maar sy lewe daarvoor gegee het? Ons bedoel sulke trooswoorde goed, maar dit kom nie altyd goed oor nie! Dit gee die verkeerde boodskap: God sit agter die slegte dinge in die wêreld; Hy kry die skuld vir lyding; Hy orkestreer pyn, Hy is die outeur van sonde; Hy is die bron van die bose. Ons kan dan maklik die blaam verskuif en al die skuld op God pak.

Natuurlik is dit glad nie wat die Bybel oor God leer nie. In Jak 1:13 hoor ons dat God nooit mense verlei om te sondig nie – ons eie begeertes verlei ons. In Jak 1:17 hoor ons dat elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk van God af kom – slegte dinge kom nié van God af nie. Ons kan nie God die skuld gee vir ‘n stukkende wêreld as gevolg van mense se keuses nie. En selfs as ons ly weens siekte of natuurrampe is dit die gevolg van die sondeval – dit was nóóit God se wil nie. Daar gebeur baie dinge in hierdie wêreld wat teen sy wil is; sy wil is lewe, nie dood nie – daarom het Hy die dood kom oorwin. En elke keer as sy wil hier op aarde geskied soos in die hemel, sien ons ‘n stukkie van sy koninkryk wat kom.


9 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page