top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Om reg te bid

Gebed word soms gesien as ‘n “bonatuurlike tegniek” waarmee geestelike kragte of potensiaal losgemaak kan word. Dit behels die aktivering van ’n bonatuurlike mag (God) wat vir enigeen wat die kuns bemeester, tot voordeel strek. Gebed kan egter nie op so ’n animistiese wyse verstaan word nie, asof dit gebed sélf is wat krag besit – die krag lê alleen in God tot Wie gebid word. Daardie krag word ook nie vrygestel ómdat gebid word nie, maar slegs omdat God binne sy genadige alwyse wil besluit om te reageer. Jak 5:16b kan maklik verstaan word asof die krag in gebed sélf lê, terwyl dit eerder na die kragtige gevolg van geloof in God verwys – vers 15.

Soms word gebed ook verstaan as die verbalisering van geloof wat in sterk vertroue uitgespreek word. Deur positief oor die toekoms, gesondheid of voorspoed te spreek of bid, word die groot geloof in God bevestig wat vervul sal word omdat Hy daardie individu se geloof beloon. Geloof word dan gesien as ‘n subtiele hefboom waardeur God beweeg kan word en bepaalde uitkomste verseker kan word. Sodoende ontaard dit in ‘n addisionele aksie of teenprestasie waardeur God se heilsdade bewaarheid word, terwyl die vertroue eerder in geloof sélf as in God gestel word. In die groter konteks van Jakobus 5 help Jak 4:13-17 egter om te verstaan dat wat uitgespreek word steeds ten volle van God se wil en vrymagtigheid afhang.

In 1 Joh 5:14 en 15 word gestel dat God gebede beantwoord indien dit binne sý wil is – nie binne mense se wil of onder die beperking van hulle eie verbeeldingskrag nie – Ef 3:20. Selfs Jesus het sy eie wil aan die Vader se wil ondergeskik gestel – Luk 22:42. Die mens weet immers nie altyd wat en hoe om te bid nie, en kan dus nie sélf die hoogste gesag of begrensing van gebed wees nie – Rom 8:26 en 27. Wanneer Jak 5:15 sê dat gelowig gebid moet word, beteken dit egter nié dat geloof ‘n tegniek is waardeur God gemanipuleer kan word nie. Geloof is ’n genadegawe van God, nooit ’n kwalifikasie nie – Ef 2:8; Fil 1:29; Hand 3:16b.

Gebed is dus nie ’n metode nie, maar ’n geloofserkentenis en opregte oorgawe aan God (Heidelbergse Kategismus Sondag 45 vraag en antwoord 117). Gebed het uitsluitlik ten doel om die mens binne ‘n verhouding met God aan sy wil ondergeskik te stel. Nóóit is gebed ’n “positiewe geloofsvisualisering” waardeur ‘n bidder reeds in die gedagtes die eindresultaat van die gebedsbehoefte voorstel, sodat God weens die manipulasie van sekere “gebedswette” verplig word om daaraan gehoor te gee nie. Só word mense uiteindelik mislei om op hulle eie verbeelding en insig te vertrou, eerder as op God. Indien wat mense glo, gebeur ómdat hulle glo, het God uiteindelik niks daarmee te doen nie.

Soms word ook op die trant van animisme geglo dat om in die Naam van Jesus te bid, soos die een of ander “towerspreuk” funksioneer wat telkens die gewensde resultaat lewer. Dit word begrond op tekste soos Joh 14:13 en 14 sowel as Joh 16:23 en 24, waar Jesus gesê het dat wat ookal in sý Naam gevra word, verkry sal word. In Joh 16:26 verklaar Jesus egter dat Hy nie meer as voorspraak dien nie omdat gelowiges nou direkte toegang tot die Vader verkry deur hulle geloof in Christus. Om in Jesus se Naam te bid, beteken bloot om “namens” Hom te bid – met ander woorde volgens sý wil en soos Hý wil hê – Rom 8:27; Kol 3:17. Om sy Naam in gebed aan te roep, is ’n geloofsreaksie en nié ’n gebedswet of magiese woord nie – Hand 22:16.

In Bybelse gebed gaan dit altyd oor die liefdesgemeenskap tussen God en mens eerder as resultate of mag. Daar is nooit ’n direkte oorsaak-en-gevolg wat veronderstel dat die mens God se arm met spesifieke aksies of wette kan draai, sodat Hy sal doen wat die mens wil hê nie. Christelike gebed is altyd ondergeskik aan God se soewereine genade en liefde. Inteendeel, is die Bybel ernstig daaroor dat gebede wat in selfsug of met ‘n eie agenda gebid word, nié beantwoord sal word nie – Jak 4:3.

129 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page