top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

God is met die wêreld op pad!

Waarheen is die wêreld op pad? Waar gaan alles heen? Die einde moet nou naby wees! Jesus moet nou terugkom! Erger kan dinge nie gaan nie! So praat mense dikwels wanneer die nuus of koerante hulle oorweldig. Elke generasie dink natuurlik húlle tyd is die ergste. Elke geslag voel die einde van die wêreld gaan in húlle tyd kom. Deur ons bril lyk dit of die bose en sonde regeer – dis óns werklikheid, maar ons werklikheid is nie die volle waarheid nie!

Deur die bril wat God ons gee lyk dinge anders. In Openbaring gee Hy vir ons ‘n klein kykie deur hierdie bril. Openbaring beskryf nie net die laaste paar jaar van die wêreldgeskiedenis wat nog moet aanbreek nie, so asof dit vir die eerste 20 eeue heeltemal irrelevant was. Openbaring beskryf die laaste dae wat aangebreek het met Jesus se koms: die tydperk tussen sy eerste en tweede koms – Hand 2, Heb 1, Jak 5, 1 Joh 2. Ons leef rééds vir die afgelope 2000 jaar in die eindtye.

Die wêreldgeskiedenis is soos ‘n groot passasiersboot; almal is op die boot, besig met hulle eie lewens, máár die boot beweeg. Die mense op die boot mag hulle eie agendas hê en soms die boot vir ‘n oomblik van rigting laat verander of die spoed beïnvloed, máár die eindbestemming van die boot is nié in die hande van die passasiers nie; dit is in die hande van die kaptein. Hy is in die beheerkamer, en hy is besig om die boot na sy bestemming te stuur. Al steur die mense hulle nie aan die koers van die boot, die boot self of die kaptein nie; al kom daar storms wat die boot se rigting of spoed beïnvloed – die boot beweeg!

God gee Johannes ‘n nuwe bril om deur te kyk. Hy nooi ons na die brug van die boot. Op 4:1: “Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur.” Ons kry ‘n blik op God se beheerkamer; die troonsaal van die hemel; die beheersentrum van die kosmos. En wat sien ons deur die bril wat God gee? God sit op die troon! Hy regeer oor die kosmos! Niks kan Hom van sy bestemming met die wêreld laat afsien nie; nie sonde of keuses of gebrokenheid of ongeloof kan die boot laat sink nie. Nee, God beheer nie die boot deterministies soos ‘n poppemeester nie, máár Hy stuur die boot na die eindbestemming, te midde van die invloed van mense of sonde…

‘n Paar proffies het in die teekamer van ‘n teologiese fakulteit gesprek gevoer oor die boodskap van Openbaring. Hulle was later in ‘n vurige debat gewikkel, en om die situasie te ontlont, vra een van die proffies grappenderwys aan ‘n skoonmaker wat daar rondom hulle besig was: “En, wat sê jý is die boodskap van Openbaring?” Die skoonmaker het hulle verras met sy antwoord: “God wen!” Dit is sekerlik die beste beskrywing van Openbaring se boodskap. Openbaring is nie ‘n bangmaakboek nie, maar ‘n feesvierboek. Dit is ook nie ‘n toekoms-voorspel-boek nie, maar ‘n boek wat vertel hoe die geskiedenis gaan afloop. Waar gaan die wêreld heen? Na God se eindbestemming – sy núwe wêreld!

16 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page