top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Christene leef nie in twee wêrelde nie!

Toe Jesus 2000 jaar gelede mens geword het, het Hy die geestelike en die vleeslike in Homself versoen (Kol 1:20). Van toe af was daar nie meer ‘n dualistiese skeiding tussen aards en hemels, vleeslik en geestelik, natuurlik en bonatuurlik, heilig en sekulêr nie. Jesus, wat al voor die skepping daar was (Joh 1:1) het ín hierdie wêreld kom woon (Joh 1:14). Dit noem ons die inkarnasie of vleeswording (Kol 1:15-20). Nou leef ons holisties: alles is heilig, alles is geestelik, alles is gewyd, want alles is tot eer van God, gefokus op God, gewy aan God, verander en nuutgemaak deur God (Rom 14:1-6; Fil 3:7 en 8).

Ons kan nou ook “gewone” dinge tot eer van God doen. Ons kan selfs eet en drink tot God se eer (1 Kor 10:31). ‘n Gelowige se hele lewe word Christus (Fil 1:21). In alles wat ons doen, wil ons God verheerlik (Ef 5:10). Ons kan selfs oor geld praat en met geld werk tot eer van God (2 Kor 9:11). Ons verstaan nou dat nie eers geld opsigself boos is nie, maar eerder ‘n instrument in die hande van God is (Luk 16:9; Rom 14:14). God gee immers alles ryklik aan ons om te geniet – selfs materiële dinge en rykdom, solank ons steeds ons hoop op Hóm plaas en nie op daardie dinge vertrou nie (1 Tim 6:17).

Hierdie beginsel van holisme geld natuurlik ook in die kerk self: álles in die kerk is tot eer van God en juis dáárom geestelik. Salarisse, water-en-ligte, telefone, instandhouding, stoele en tafels, koffie en tee, fotostaatmasjiene en begrotings is ook deel van bediening – nie net gebed, Bybellees, barmhartigheid en uitreik nie. Elke personeellid se roeping is om die gemeente en gemeenskap te bedien, bedieninge na binne en buite te ondersteun, die koninkryk sodoende uit te brei en die evangelie op hierdie wyse te versprei. Selfs “normale” dinge soos grassny en matte suig sê iets van God, en dien die groter visie van sy eer en Goddelike agenda. Soos Martin Luther tereg gesê het: “’n Christen skoenmaker sit nie kruisies op sy skoene nie – hy maak net goeie skoene…”

14 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page