top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Is armoede of rykdom ‘n vloek?

In die welvaartsteologie bestaan die gedagte dat slegte dinge nie vir gelowiges bestem is nie; negatiewe omstandighede word selfs as ‘n vloek beskou wat gebreek moet word. So byvoorbeeld word verkondig dat mense arm is omdat ‘n vloek in die verlede oor hulle finansies of besittings uitgespreek is. Verder word verklaar dat dit nooit God se wil is vir mense om te ly nie, alhoewel lyding nie altyd in die Skrif negatief beoordeel word nie: 2 Kor 1:4-9; 1 Pet 1:6 en 7; 1 Pet 2:20 en 21; 1 Pet 4:12-19. Natuurlik gebeur daar baie dinge buite God se wil, maar dit kan nie outomaties as ‘n vloek van God gesien word nie. Indien armoede wel ‘n vloek is wat teen God se wil vir sy kinders is, moes hierdie vloek dan sekerlik ook op Jesus en die apostels gerus het, aangesien húlle arm was – Luk 9:58; 1 Kor 4:11-13; Hand 3:6. Nooit is daar egter in die Nuwe Testament enige sprake daarvan dat armoede as ‘n “vloek” beskou is wat “gebreek” moes word nie. Inteendeel, volgens Jak 2:5-7, is armes wat ryk is in geloof, vir God meer aanneemlik as rykes sonder geloof, en is armoede dus nie die gevolg van een of ander vervloeking nie.

Teenoor die welvaartsteologie staan die teenreaksie van die armoedeteologie, wat nie minder gevaarlik is indien dit oorbeklemtoon word nie: leef eenvoudig, gee alles weg, moenie baie besittings en geld hê nie. Aanvanklik klink dit edel, totdat dit ook aan die konteks van die Nuwe Testament getoets word. Saggeus gee net die helfte van sy geld aan die armes terug, en steeds noem Jesus hom gered – Luk 19:9; die ryk jongman se probleem was nooit geld nie, maar arrogansie en sy liefde vir geld – daarom dat Jesus hóm uitdaag om alles te gaan verkoop, alhoewel dit nooit ‘n algemene beginsel vir almal met geld was waarmee Jesus in aanraking gekom het nie. In 1 Tim 6:17 sê Paulus dat God geld gee om te geniét; die konteks van vers 5-10 help ons om die negatiewe reaksie op rykdom beter te verstaan: party gelowiges het wins uit godsdiens probeer maak en daarom word hulle gewaarsku teen hooghartigheid en vertroue op rykdom. Vir die kritici van die vrou wat Jesus met duur olie gesalf het, sê Jesus dat hulle haar moet los; die armes sal altyd by hulle wees – Mark 14:6. Dit is dus nie korrek dat Jesus altyd gesê het om alles weg te gee en arm te leef nie. Kyk byvoorbeeld wat met Jerusalem se gemeente in Handelinge gebeur het: die gelowiges het weens ‘n spoedige wederkomsverwagting alles verkoop en die geld onder mekaar verdeel; uiteindelik het hulle ondermeer as gevolg daarvan in armoede verval; Paulus moes ‘n spesiale kollekte by die ander gemeentes insamel om hulle van ondergang te red.

‘n Gesonde balans is daarom noodsaaklik: gelowiges word opgeroep tot verantwoordelike rentmeesterskap – Matt 24:45-51, Matt 25:14-30. Die barmhartige Samaritaan sou nooit in staat gewees het om die man langs die pad te help indien hy nie verantwoordelik met sy geld omgegaan het sodat hy genoeg gehad het om te kon help nie. In Ef 4:28 word gelowiges aangemoedig om deur harde werk op ‘n eerbare wyse geld te verdien sodat daar ook nog iets vir die armes kan oor wees. Aan die een kant kan ‘n mens dus nie roekeloos met geld wees en dit dan geloof noem nie; aan die ander kant kan ‘n mens ook nie bo jou vermoë leef en dan verwag dat God sal verstaan as jy nooit kan gee nie. Iewers tussen hierdie uiteenlopende teologieë, in die spanning van die paradoks, lê die waarheid.

74 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page