top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Mag ons nooit oordeel nie?

Een van die mees gebruikte sinsnedes van ons tyd is: “Ons mag nie oordeel nie.” Mense gebruik graag hierdie uitdrukking wanneer daar gesprekke plaasvind waar van mekaar verskil word. Verskille word dan outomaties gesien as veroordeling, veral as die een party ‘n uitspraak sou maak wat die ander party se standpunt of argument beoordeel of bevraagteken. Matteus 7:1-5 en Luk 6:37-42 word graag aangehaal as motivering vir hierdie standpunt, waar Jesus die beeld gebruik van die balk of die splinter in die oog.

Vers 6 word egter gewoonlik nie saam met die eerste vyf verse van Matteus 7 gelees nie: “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.” Aanvanklik blyk hierdie ‘n ernstige teenstrydigheid in Jesus se woorde te wees: aan die een kant sê Hy dat ons nie oor ander mag oordeel nie; aan die ander kant ver

wag Hy van ons om tussen reg en verkeerd te onderskei en selfs valse profete uit te ken – Mat 7:15-19.

Weerspreek Jesus Homself? Uiteraard is hierdie teks ‘n goeie voorbeeld van die paradoks van die Skrif waarin juis die waarheid lê: in die Bybel is die oordrewe klem op een kant van die waarheid altyd ‘n halwe waarheid. Tussen die twee uiterstes lê die volle waarheid, ook in hierdie geval. Gelowiges moet eers na hulleself onder die vergrootglas kyk, en daarna na mekaar deur diesélfde vergrootglas. Let wel dat Jesus nooit sê dat ons glad nie oor ander mág oordeel nie: ons mag net nie véroordelend en skynhelig optree asof ons nie gebroke of sondig is nie – vergelyk met 1 Kor 5:12 en 13.

Jesus sê dat met dieselfde maat waarmee ons meet, ons ook gemeet sal word. Ons moet dus verantwoordelik en verantwoordbaar met mekaar omgaan. Ons mag natuurlik nie mense verdoem of onsself aanmatig om regter oor hulle te speel deur hulle na die verderf te stuur nie – net God kan as Regter optree. Ons moet egter kan onderskei wanneer ander se optrede of standpunte hulleself onder die oordeel bring en na die verdoemenis lei. Ons moet leer om raak te sien wanneer ons tussen die honde of varke is wat die heilige pêrels onder hulle pote vertrap.

In 1 Tess 5:19-22 hoor ons dat ons nie die werking van die Heilige Gees moet teenstaan of profesieë moet geringskat nie, maar alles moet toets, die goeie moet behou en van die slegte moet wegbly. Selfs Paulus se prediking is nie sondermeer aanvaar nie: in Hand 17:10 en 11 het die Bereane elke dag die Skrif ondersoek om te kyk of dit wat Paulus sê regtig van God af kom. Met belydenisaflegging beloof voornemende lidmate dat hulle in die belydenis van die leer van Christus se kerk sal volhard en alle leringe wat daarvan afwyk sal verwerp. Om ‘n leerstelling te verwerp, beteken egter nie dat die mens verwerp word nie, maar wel die bepaalde lering wat in stryd met die Skrif is. Deel van ons profetiese roeping is om krities te beoordeel wat mense sê, doen en glo – dis óók liefde…

36 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page