In die Nuwe Testament word gelowiges aanhoudend opgeroep om ernstig teen dwaalleer van alle aard te waak. Jesus sélf het verklaar dat slegs hulle wat aan sý woorde getrou bly (nie aan hulle eie woorde of die interpretasie van sy woorde nie) werklik sy dissipels is – Joh 8:31. Juis sy eie woorde is die waarheid (Joh 8:32), want Hy ís die Waarheid (Joh 14:6) en verkondig die waarheid wat van die Vader kom (Joh 14:10). Daarom is sy Vader en Hyself die énigste ware God – Joh 17:3. Hierdie oorlewering van die apostels en die bewaring van hierdie ware evangelie, word uiteindelik een van die sterkste temas in die hele Nuwe Testament. Jesus het alreeds in Mat 7:15 gewaarsku teen valse profete; ’n waarskuwing wat Hy weer later in Mat 24:4, 11 en 23-27 herhaal wanneer Hy spesifiek oor valse christusse praat. In Mat 7:16-19 verklaar Hy dat die lewens van mense aan die vrug wat hulle dra getoets moet word.
In Handelinge 20:29-30 waarsku Paulus die ouderlinge van Efese om op die uitkyk te wees vir wrede wolwe wat die kudde van God uit hulle eie geledere sal binnedring met leuens wat gelowiges sal verlei. Hy versoek die ouderlinge in Hand 20:28 om die gemeente op te pas en te versorg, en aan die waarheid soos wat hy aan hulle geleer het vas te hou – Hand 20:31.
In die Romeine-brief druk Paulus dit sterk op die gelowiges se harte dat hulle versigtig moet wees vir mense wat verdeeldheid veroorsaak deur gelowiges van die apostoliese leer wat hulle ontvang het, afvallig te maak – Rom 16:17 en 18. Let wel dat hy nie hier pleit teen verdeeldheid nie, soos sommige ekumeniesgesindes sou wou beweer, maar teen hulle wat verdeeldheid en onmin met valse leringe saai.
Aan die gemeente in Korinte spreek Paulus in 1 Korintiërs sy voorneme uit om Timoteus na hulle te stuur om juis die gelowiges wat deur dwaalleraars geteister word, aan die leer van Paulus te herinner – 1 Kor 4:17. In 1 Kor 11:1 gebruik Paulus sy eie voorbeeld waaraan die gelowiges moet vashou, en in vers 2 prys hy hulle dat hulle aan die leer bly vashou wat hy aan hulle oorgedra het. Hierdie leer het hy immers van die Here sélf ontvang – 1 Kor 11:23. In 1 Kor 15:1 herinner hy hulle aan hierdie oorgelewerde leer, wat volgens vers 3 in die opstanding van Jesus die kulminasiepunt bereik, en brei dan in vers 2 daarop uit deur te sê dat hierdie die ware evangelie is waardeur mense gered word, en dat hulle wat aan ander dinge vashou, tevergeefs glo.
In Galasiërs blyk dit dat dwaalleraars die gemeente ingedring het met ’n ander evangelie as wat Paulus daar verkondig het – Gal 1:7b. Paulus skryf hierdie brief om hulle terug te bring na die enigste evangelie – Gal 1:7a. Hy stel dit dat selfs as ’n sogenaamde engel uit die hemel of een van die apostels ’n ánder evangelie sou verkondig, God se vervloeking hom of haar sal tref – Gal 1:8. Hierdie evangelie is immers nié deur ’n mens uitgedink nie, maar het Jesus Christus self in ’n openbaring aan Paulus gegee – Gal 1:11 en 12. Hy het hierdie openbaring egter nie net op eie meriete aanvaar nie, maar aan die openbaring van die ander apostels getoets deur dit aan hulle persoonlik voor te lê – Gal 2:1 en 2. Paulus se openbaring het die toets van die medegelowiges onder leiding van die Heilige Gees deurstaan – Gal 2:6-10. Selfs toe die hoof van die kerk in Jerusalem, die apostel Petrus, op ’n keer gedwaal het, is hy dadelik deur Paulus reggehelp – Gal 2:14. Só help Paulus nou ook die gemeente reg wat deur ’n valse evangelie mislei is – Gal 3:1-4. In Gal 4:9-20 pleit Paulus juis dat hierdie gelowiges nie weer moet toelaat dat hulle aan die uiterlike wettiese reëls verslaaf word nie. Hulle was tog so goed op pad (Gal 5:7 en 8). Hy reageer ook baie sterk op die mense wat hierdie valshede aan die gelowiges verkondig – Gal 5:10b en 12.
In sy brief aan die gemeente in Efese, waarsku Paulus die gelowiges teen mense wat hulle met allerlei onwaarhede wil mislei en vra hy dat hulle met diesulkes niks te doen moet hê nie – Ef 5:6 en 7. Hulle word opgeroep om alles te toets en God se wil te bly soek – Ef 5:10 en 17. Paulus se pragtige beeld van die wapenrusting van God in Ef 6:13-18, weerklink van die aantrek van die waarheid van die evangelie, sodat daar teen die aanslae van die leuenagtige bose verweer kan word.
In Fil 1:15-17 word die gemeente van Fillipi geleer om te onderskei tussen ware en valse leraars, en hulle geensins deur die teenstanders van die evangelie (Fil 1:27) te laat afskrik nie – Fil 1:28. Paulus waarsku hulle in Fil 3:2 teen die dwaalleraars wat bloot wil kwaad stig deur die besnydenis as uiterlike teken vir Christene te beklemtoon. Hy moedig hulle ook in Fil 4:1 aan om vas in die geloof te staan en aan die Here getrou te bly.
Ook in die gemeente van Kolosse het dwaalleraars, met die beklemtoning van geestelike magte wat deur die nakoming van wettiese godsdienstige reëls oorwin moet word, ingesypel. Daarom waarsku Paulus die gelowiges dat hulle hulself nie moet laat losruk van die hoop wat by hulle gewek is deur die evangelie wat hulle gehoor het nie, en waarvan Paulus ’n dienaar en verteenwoordiger is – Kol 1:23. Hulle hoef geen magte te vrees nie, want Christus is ín hulle – Kol 1:27b en 2:2. Hy beklemtoon hierdie waarheid juis sodat niemand hulle met valse redenasies kan mislei nie – Kol 2:4. Paulus waarsku hulle teen misleidende argumente en teorieë wat hulle van Christus kan wegvoer – Kol 2:8-23.
Uit beide die briewe aan die gemeente in Tessalonika, blyk dit dat daar by hulle verwarring bestaan oor die wederkoms van die Here. Hulle het sy koms in hulle eie leeftyd verwag, en daar was selfs die bewering dat Hy reeds gekom het. Hierdie regstellings word nou in albei briewe deur Paulus gemaak: in die eerste brief verduidelik hy aan hulle hoe dit by die wederkoms sal wees, tesame met die antwoord op die vraag wat met diegene gebeur wat nou reeds dood is, en in die tweede brief wys hy daarop dat die wettelose mens eers moet kom voordat die wederkoms sal plaasvind. Ons hoor in 2 Tess 2:2 dat daar waarskynlik ’n valse brief onder die naam van Paulus aan die gemeente gestuur is wat hulle verder verwar het. Hy moedig hulle aan om nie so gou van stryk gebring te word nie – 2 Tess 2:3. In 1 Tess 2:3 verdedig Paulus sy gesag as prediker van die evangelie, deur te bevestig dat hy deur die Here sélf hiervoor gekeur is – 1 Tess 2:4. In 1 Tess 5:19 en 20 word die gelowiges aangespoor om alle profesieë te toets, dít wat goed is te behou en dit wat sleg is te verwerp. Paulus versoek hulle laastens in 2 Tess 3:14 om sy voorskrifte in hierdie brief te gehoorsaam, en hulleself in liefdestug af te sonder van daardie mense wat dit nié wil doen nie – 2 Tess 3:15.
In die briewe aan die jong Timoteus kom die aansporing dat hy homself nie met dwaalleerstellings moet bemoei nie, sterk na vore. Hy moet mense wat sulke valshede verkondig, aanspreek en hulle verbied om dit te doen – 1 Tim 1:3-7. Paulus bevestig dat die gesonde leer in ooreenstemming is met die evangelie wat aan hom toevertrou is – 1 Tim 1:11. Daarom is dit ’n betroubare woord wat sonder voorbehoud aanvaar kan word – 1 Tim 1:15. Paulus verwys selfs in 1 Tim 1:19 en 20 met name na mense wat van hierdie geloof afvallig geraak het. In 1 Tim 3:14-16 omskryf Paulus hierdie geopenbaarde waarheid van die geloof, en in 1 Tim 4:1-9 gee hy ’n opsomming van wat die misleiers verkondig, en motiveer hy Timoteus om daarvan weg te bly. Ook in 1 Tim 6:3-7 spreek Paulus die dwaalleringe sterk aan, en versoek hy Timoteus in 1 Tim 6:20 en 21 sowel as 2 Tim 1:13 en 14 om standvastig te bly aan dit wat aan hom toevertrou is. In 2 Tim 3:14-17 word hy opnuut aangespoor om aan die Skrif vas te hou as enigste rigsnoer vir sy lewe, onheilige en sinlose praatjies te vermy (2 Tim 2:16-19), nie met dwase en sinlose strydvrae rusie te veroorsaak nie maar in liefde die teenstanders tereg te wys sodat hulle tot inkeer kan kom (2 Tim 2:23-26) en die suiwer boodskap van die Skrif te blý verkondig te midde van afvalligheid – 2 Tim 4:1-5. Timoteus word in 2 Tim 4:15 selfs teen ’n spesifieke persoon gewaarsku wat kwaad teen Paulus se verkondiging gesaai het.
In die brief aan Titus bevestig Paulus dat hy die waarheid verkondig in opdrag van God – Tit 1:1-3. In Tit 1:10-16 word Titus gesensiteer vir gelowiges wat ander verlei en in opstand kom teen gesag, en word hy versoek om hulle die mond te snoer en hulle tereg te wys. Hy word verder ook aangemoedig om die leer te verkondig wat in ooreenstemming met die gesonde leer is (Tit 2:1) en hom nie met dwase en sinlose strydvrae in te laat nie – Tit 3:9. Paulus lê selfs die tugreëling van twee vermanings vas ten opsigte van mense wat skeuring met hulle verdigsels wil veroorsaak – Tit 3:10 en 11.
In die brief aan die Hebreërs waarsku die skrywer teen afvalligheid (Heb 6:4-9) en deel hy sy frustrasie oor hierdie gelowiges wat geestelik eintlik al so ver moes wees, maar steeds kinders in die geloof bly omdat hulle so traag is om te leer – Heb 5:11-14. Hulle word in Heb 12:12 opgeroep om die slap hande en lam knieë te versterk, die reguit pad te loop, en nie van die genade van God afvallig te raak nie – Heb 12:15.
Die apostel Jakobus erken in Jak 5:19 dat gelowiges van die waarheid kan afdwaal. Dit is juis ’n toets vir die standvastigheid van hulle geloof – Jak 1:12-18. Die wysheid wat egter van God kom, is opreg, nederig en sonder bybedoelings – in teenstelling met die aardse bose wysheid wat van naywer en selfsug getuig – Jak 3:14-18.
Ook die apostel Petrus bevestig dat lyding en vervolging as gevolg van die geloof in Jesus Christus ’n toets van die opregte en ware geloof is – 1 Pet 1:6 en 7. Hier is die implikasie dat alleen die ware geloof hierdie toets sal kan deurstaan. In die tweede brief van Petrus waarsku hy spesifiek teen dwaalleraars wat die gelowiges se geloof ondergrawe en hulle aanmoedig om in onsedelikheid te lewe – 2 Pet 2:1-22. Petrus bevestig nét soos Paulus dat die evangelie nie van mense af kom nie, maar van die Heilige Gees – 2 Pet 1:20 en 21. Hy sluit homself juis hiermee by Paulus aan – 2 Pet 3:15. Petrus skryf hierdie briewe om die gelowiges op die waarheid van die Woord van God te laat fokus deur hulle aan daardie waarheid te herinner – 2 Pet 3:1 en 2. Sodoende sal hulle nie deur oningeligte en onstandvastige mense verlei word wat daaraan ’n verkeerde uitleg gee nie – 2 Pet 3:15-17.
Die apostel Johannes waarsku die gelowiges in 1 Johannes teen dwaalleraars wat verwarring gebring het met die bewering dat die Seun van God nie werklik mens geword het nie, en dat Jesus nie die Christus is nie. Wie egter hierdie leuens verkondig, is ’n antichris – 1 Joh 2:22. Hierdie mense het selfs uit die geledere van die gelowiges gekom, maar was nooit werklik deel van hulle nie – 1 Joh 2:19a. Hulle het immers nié by die gelowiges gebly nie (1 Joh 2:19b), en is nie deur die Heilige Gees gesalf nie – 1 Joh 2:20. Johannes skryf juis hierdie brief om die gelowiges te bemoedig om nie mislei te word nie, aangesien die Heilige Gees sélf in hulle is en hulle leer – 1 Joh 2:26 en 27. Alleen diegene wat lewe soos God dit van ons verlang, is werklik sy kinders – 1 Joh 3:8, 9, 10, 18 en 24. Johannes waarsku die gelowiges in 1 Joh 4:1-3 teen valse profete wat voorgee dat hulle die Gees van God het. Hulle word gekenmerk deur die onvermoë om Jesus as die Christus en die Verlosser te bely. Só kan ons onderskei tussen die gees van die dwaalleer en die Gees van die waarheid – 1 Joh 4:6. Alleen hulle wat glo dat Jesus die Christus is, is kinders van God – 1 Joh 5:1. Wie nié glo dat Jesus God se Seun is deur Wie ons die ewige lewe ontvang nie, maak God sélf tot leuenaar – 1 Joh 5:10 en 11.
Ook in die tweede brief van Johannes, waarsku hy opnuut teen baie misleiers wat te voorskyn kom – 2 Johannes vers 7. Hierdie mense erken nie dat Jesus die Christus is wat mens geword het nie, en daarom staan hulle as die antichris bekend. In 2 Johannes vers 8 en 9 word die lesers versoek om by hierdie leer te bly, en selfs nie eens iemand wat na hulle toe kom met ‘n ander leer in hulle huise te ontvang of te groet nie – 2 Johannes vers 10. Selfs in Johannes se derde brief, waarsku hy teen ’n individu wat slegte en valse gerugte oor die apostels versprei, en nie hulle gesag aanvaar nie – 3 Johannes vers 9 en 10. Gaius, aan wie hierdie persoonlike brief gerig word, word opgeroep om nie hierdie persoon se voorbeeld te volg nie – 3 Johannes vers 11.
In Judas se derde vers word gelowiges aangespoor om aan die geloof in God soos deur die apostels aan hulle geleer getrou te bly.
Bybelse geloofseenheid word dus vanuit die Nuwe Testament, nooit bereik deur ekumeniese gesprek en dialogiese konsensus of kompromie nie, maar is rééds ’n werklikheid deur die openbaring van die Heilige Gees aan die apostels, waarin gelowiges se eenheid opgesluit lê – Ef 4:3. ‘n Eenheid waar mense bloot ooreenkom om te verskil, ken die Skrif glad nie, maar wél eenheid op grond van die waarheid van die evangelie. Inteendeel, waarsku Jesus telkens dat wie in Hom glo, verdeeldheid en skeuring sal ken – Luk 12:51-53; Mat 10:34-39.
Ons word dus duidelik opgeroep om soos die Bereane dag na dag die Skrif te ondersoek en elkeen wat die Woord verkondig daaraan te toets – Hand 17:11. Die Bybel is juis deur God aan die mens gegee om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek – 2 Tim 3:16. Alhoewel ons nie oor gesindhede kan oordeel nie (Mat 7:1) moet ons beslis lering en dade toets en beoordeel. Hierdie beoordeling moet selfs in die openbaar geskied waar die valshede in die eerste plek verkondig word – Gal 2:14. In hierdie voorbeeld gaan dit nié om ’n onreg wat Petrus teen Paulus persoonlik gedoen het nie, maar om skade wat aan die evangelie en die kerk as geheel berokken word. Daarom kan die regstelling nie in die privaatheid geskied soos wanneer dit gaan om ’n gelowige wat teenoor ’n ander gelowige verkeerd gedoen het nie – Mat 18:15. Ook 1 Tim 5:20 onderskryf die openbare tugtiging van gemeenteleiers.
Gelowiges het dus die verantwoordelikheid en opdrag om seker te maak dat die evangelie suiwer verkondig word, en dat die Woord suiwer geïnterpreteer word. Hierdie verantwoordelikheid geld net soveel vir binne (Op 2:12-16) as buite die kerk. Juis in Hand 20:28-32 spreek Paulus die ouderlinge van Efese toe en bevestig hy hierdie taak van waaksaamheid ten opsigte van lering wat aan hulle opgedra is. Ouderlinge het juis hierdie spesifieke opdrag om toesig oor die gemeente te hou, wat lering en onderrig insluit – 1 Pet 5:2-4. Binne die NG kerk se aflegging van die openbare belydenis van geloof, maak elke lidmaat onder andere ook die volgende belofte: “Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Christus deur sy genade in die belydenis van die leer tot die einde van jou lewe te volhard, en alle leringe wat daarvan afwyk, te verwerp?” Hierdie is die verbintenis wat élke gelowige lidmaat van die kerk voor die Here en sy gemeente maak.
Selfs al sou ’n engel uit die hemel ’n ander evangelie verkondig as die een wat deur die apostels aan ons gebring is, moet ons dit ten sterkste verwerp – Gal 1:8 en 9. Inderdaad word hierdie “ander evangelie” dikwels in ’n doodonskuldige gewaad geklee. Soveel so, dat dit alleen met die onderskeiding van die Gees van God en ‘n ernstige studie van die Bybel geïdentifiseer kan word. Die rede hiervoor is heel eenvoudig: die beste leuen is ’n halwe waarheid. Van die heel begin af het die “vader van die leuen,” die satan (Joh 8:44), juis hierdie taktiek gebruik – Gen 3:1-4. Hy verkondig nie ’n volle leuen nie, maar gebruik dele van die waarheid om die leuen te verdoesel, sodat die mens moeiliker kan onderskei. Ook vandag bly die “beste” dwaalleraars diegene wat vanuit die Christelike tradisie stam (2 Kor 11:12-15), en halwe evangeliewaarhede in hulle teologiese beredenerings kan aanwend.
Hierteen waarsku die Bybel pertinent. In die term, “vals christusse,” wat deur Jesus in Mat 24:24 gebruik word, impliseer die selfstandige naamwoord dat dit leraars moet wees wat so goed verdoesel is, dat hulle met die ware Christus verwar kan word. Mense sal hulle selfs so erken en proklameer – Mat 24:5 en 23. Jesus gebruik ook die uitdrukking, “wolwe in skaapklere,” in Mat 7:15, waarmee Hy dit duidelik maak dat hierdie valse profete hulleself as onskuldig sal voordoen. Ook die term waarmee Paulus die satan in 2 Kor 11:14 beskryf, veronderstel dat die satan homself sóós ’n engel van die lig voordoen – in ander woorde die valse illusie van egtheid en waarheid skep.