top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Liggeraaktheid in die kollig

Gelowiges het dikwels lang tone wat maklik raakgetrap kan word. Liggeraaktheid is egter teen God se wil, net soos ongevoeligheid, kwaadwilligheid, skinder en die afkraak van mense teen sy wil is: 1 Kor 13:5. Soms dink ons dat fyngevoeligheid ons reg is. Wanneer iemand ons seergemaak het of kwaadgemaak het deur iets wat hulle oor ons gesê of teen ons gedoen het, glo ons dat dit ons reg is om kleinserig op te tree. Ons vererg onsself wanneer dinge nie is soos ons dit wil hê nie; ons onttrek, ons bly weg, ons staak ons bydrae of ons val aan: ons raak krities, afbrekend en negatief, en ons glo dis ons reg om so op te tree! Maar dit is nie – die liefde is nie liggeraak nie, en die liefde is God se wil – kleinserigheid is dus nié God se wil nie.

Hoekom is ons dikwels so fyngevoelig? Ons ly soms aan ‘n slagoffermentaliteit: ons voel verontreg – ons kry nie wat ons meen ons verdien nie. Dit ly na selfbejammering of woede: wanneer ons onsself bejammer trek ons terug en vermy die persoon of situasie – ons onttrek en vlug; wanneer ons kwaad word, reageer ons met wraak en wil ons die persoon terugkry of straf – ons veg. Ons voel tenagekom, seergemaak en verneder. Wanneer iemand uit kleinserigheid optree, is dit belangrik om nie met wraak te reageer nie: ons moenie die persoon summier gevoelloos hanteer en afkraak nie; ons moet verstaan wat agter die reaksie sit – dalk is dit bloot manipulasie, maar dalk is dit legitieme seer. Ons moet mekaar help om hierdeur te groei: ons moet die seer in ander raaksien. Don Miguel Ruiz het gesê: “It is not what I am saying that is hurting you; it is that you have wounds that I touch by what I have said…”

Natuurlik moet ons kan onderskei tussen mense wat ons kwaadwillig en onregverdig seermaak; en mense wat eerlike legitieme kritiek in ons lewens inbou om ons te help groei. In beide gevalle vra die Here van ons om nie met liggeraaktheid te reageer nie. Ons reaksie van kleinserigheid verander niks; ons kan nie noodwendig die onregverdigheid van die lewe systap nie; die lewe is nie altyd regverdig nie – ons kan nie altyd ons omstandighede kies nie, maar ons kan wel kies hoe ons daarop gaan reageer:

  1. Kies om dit te sien as ‘n uitdaging om te groei

Indien dit legitieme kritiek is, raak kalm, stop, tel tot tien, moenie oorhaastig reageer nie, neem dit eerder na die Here en leer daaruit. Kyk hoe jy kan verbeter en groei: moenie bang wees vir mense se insette nie – dit kan jou net help. Groei is natuurlik en God se wil. Indien dit onregverdige kwaadwillige kritiek is, kies om nie te reageer deur te veg of te vlug nie, maar deur dit na die Here te neem vir genesing en vrede. Vergewe daardie persoon wat jou doelbewus seergemaak het, sodat jy kan aangaan met jou lewe en vry kan wees van daardie seer.

  1. Vind jou identiteit in Christus

Mat 22 leer ons om ons naaste so lief te hê soos onsself: ons moet dus onsself liefhê – nie met ‘n selfgesentreerde liefde wat net oor die eie-ek bekommerd is nie, maar deur te ontdek dat ek in Christus ‘n nuwe mens is wat nie meer die slaaf van ander mense se woorde of goedkeuring is nie. Dit gaan oor Christus – nie mense nie. Ander het jou nodig: besef dat jy ‘n belangrike rol kan speel en ‘n verskil kan maak. Onthou, die bose verkies fyngevoelige mense, want hulle maak nie ‘n positiewe bydrae nie – hulle tap eerder ander se energie en berokken groter skade.

  1. Lê jou reg neer om beledig te voel

Ons voel dis geregverdig om ons te vererg of kleinserig te wees; ons voel die ander persoon is alleen skuldig, ons is onskuldig en daarom mag ons so optree. Gee jou reg om so te voel en te reageer weg.

In Mat 15:21-28 stel Jesus die nie-Joodse vrou voor 4 toetse:

Toets 1: Jesus swyg – Hy ignoreer haar! Sou jy bly? Sy het!

Toets 2: Die dissipels wys haar gevoelloos weg! Sou jy bly? Sy het!

Toets 3: Jesus antwoord haar dat Hy nie vir haar gekom het nie! Sou jy bly? Sy het!

Toets 4: Jesus sê Hy kan nie Israel se kos vir hondjies – nie-Jode – gee nie! Sou jy bly? Sy het!

Sou ek en jy die 4 toetse slaag? Hoe lank sou ek uithou voor ek my vererg het?

In die NLV word Luk 9:23 vertaal: “As julle My volgelinge wil wees, moet julle julle eie-ek prysgee…” Dit is nie die groot “Ek” wat in my lewe moet regeer nie, maar die groot “Ek is.”


107 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page