top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Aan die einde van my kragte


Daar is die populêre gesegde dat God nooit iets oor ons pad sal bring wat ons nie sal kan hanteer nie, of dat Hy ons nie meer sal gee as wat ons sal kan dra nie. Hierdie gedagte ontstaan natuurlik na aanleiding van 1 Kor 10:13, waar Paulus skryf dat God nooit sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. Natuurlik is die konteks hier juis versoeking: Paulus praat met gelowiges wat uit ‘n heidense agtergrond gekom het en dus aan die versoekings van die heidense tempels en feeste uitgelewer was. In hierdie situasie bedoel hy dan dat ons nie bo ons kragte versoek sal word nie, maar dat God ook uitkoms sal gee sodat die versoekings weerstaan kan word.

Wanneer ons egter na Paulus se persoonlike omstandighede in 2 Kor 1:9 en 10 kyk, word dit duidelik dat die bogenoemde beginsel, geensins geld vir moeilikhede en probleme wat oor ons pad mag kom nie. Hier beskryf Paulus ‘n tyd in sy lewe toe sy swaarkry ver bo sy eie menslike kragte gegaan het – soveel so, dat hy selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het! Paulus het dus tye beleef toe hy aan die einde van sy kragte gekom het, en God hom méér gegee het as wat hy sélf kon hanteer.

Vers 10 gee die motivering vir hierdie tye van swaarkry, wanneer ons geen uitkoms meer sien of enige krag oor het nie: sodat ons nie op onsself sal vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot lewe. Solank ons slegs tot en met die maksimum van ons eie kragte uitgedaag word, bly ons steeds in beheer en is ons afhanklikheid van God oorbodig. Wanneer ons egter aan die einde van ons kragte kom, is ons aan die begin van God se krag! Die einde van hoop op myself is die begin van hoop op Hom! Ons moet eerder die gesegde aanpas: “God sal nooit dinge oor ons pad bring wat Hý nie sal kan hanteer nie.”


135 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page