top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

God kwalifiseer dié wat Hy roep, máár…


In die kerk word die gewilde sê-ding: “God kwalifiseer dié wat Hy roep, Hy roep nie dié wat gekwalifiseer is nie,” dikwels as ‘n algemene feit gestel, asof dit ‘n Bybelse beginsel sou wees. Ongelukkig is die gevolg van hierdie gesegde dat kennis van die Bybel en veral geleerdheid in die teologie, in sommige kringe as tweederangs afgemaak word asof dit eerder in die pad sou staan om deur die Here gebruik te word. Hierteenoor word dan die persepsie geskep dat “gewone” en “eenvoudige” mense wat nie deur hierdie oënskynlike “meulstene” van kundigheid en geleerdheid afgetrek word nie, meer bruikbaar vir God sou wees. Op dieselfde wyse word teoretiese vaardighede soms ondergeskik aan praktiese vermoëns gestel, asof die Heilige Gees Homself alleenlik deur laasgenoemde sou openbaar.

Natuurlik kan die Here enige iemand gebruik soos Hý goeddink en wil, maar kennis van die Bybel en verantwoordelike omgang met die Woord van God word nooit daarteenoor gestel, asof dit uit die bose sou wees of sou verhoed dat God werk nie. Inderdaad is kennis nie ‘n voorvereiste vir roeping of bruikbaarheid deur God nie – Hý is die Een om Wie dit gaan, en sý gawes en wysheid is telkens die deurslaggewende wanneer Hy mense roep. Tog is die Bybel nooit gekant teen kundigheid, geleerdheid of harde werk om die Woord van die Here oop te breek of in sy diens aangewend te word nie. Inteendeel, hoor ons dikwels dat iemand wat hom of haar in die Woord van God ingrawe en kennis van die Skrif bekom, daarmee sy of haar liefde en erns vir die Here illustreer en juis wýs optree – Ps 119:13-16, Spr 1:7, Matt 22:29, Hand 17:11 en 2 Tim 3:14 en 15.

Jesus sélf het as kind tuisonderrig in die Joodse geloof ontvang, van Joodse ouers wat getrou aan die Joodse wette was en die Joodse tradisies en feeste streng onderhou het – Luk 2:22-24 en 41. Hy kon die skrifte met gemak in sy prediking aanhaal, interpreteer en toepas, en is ook erken as Een wat die Skrif in die sinagogebyeenkomste kon voorlees en uitlê – Luk 4:17-30. Soos enige Joodse seun het Jesus alreeds op ‘n jong ouderdom die eerste vyf boeke van die Tora of Joodse wet gememoriseer. Hy is verder ook tot en met die ouderdom van 12 jaar in die plaaslike sinagogeskool opgelei, waarvan sy gereelde deelname as volwassene in Luk 4:16 later steeds getuig het. In Luk 2:47 lees ons van die absolute verbasing van almal by die tempel oor die kennis en insig van die seun Jesus wat sy toehoorders verstom het. Hy kon op 12-jarige ouderdom die tempel besoek as teken daarvan dat sy formele opleiding suksesvol voltooi is, en hy nou as volwasse Joodse gelowige in die geloofsgemeenskap opgeneem kan word – Luk 2:41-52.

Die kritiek wat daar in Matt 13:54 teen Jesus se prediking gelewer is, moet ‘n mens verstaan teen die agtergrond van die dorpie waarin hy as kind opgegroei het, asook sy gehoor se verbasing oor sy vermoë en insig as afstammeling van ‘n gewone Joodse man wat voor hulle grootgeword het. In hierdie sin het Jesus in Matt 13:57 opgemerk dat geen profeet in die plek waar hy grootgeword het, of binne sy eie familiekring, enige erkenning sal geniet nie. Jesus word van die begin van sy bediening af as “Leermeester” of “Rabbi” aangespreek (Joh 1:49; Joh 3:2) wat die formele titel was vir “My Heer,” en gebruik is vir persone met die hoë reputasie van geleerdes in die wet van God. In Mat 23:8 verwys Jesus dan ook na Homself as “Rabbi” en “Leermeester.” Jesus word in Joh 1:35-42 as ‘n meerdere Leermeester erken wanneer twee leerlinge van Johannes die doper, hulle huidige leermeester verlaat en by Jesus as dissipels aansluit en Hom as “Rabbi” begin volg.

Josef, die aardse vader van Jesus, was ‘n afstammeling van Dawid (Mat 1:16) en soos sy naamgenoot in die Ou Testament, ‘n “Tsadik,” wat beteken het dat hy sy vader – in hierdie geval sy hemelse Vader – gewillig gehoorsaam het – Mat 1:24. Josef word in die Joodse Talmud as ‘n “Tekton” of ‘n “Naggar” beskryf: ‘n skrynwerker, maar ook ‘n vaardige hanteerder van God se Woord en dus ‘n hoogsgeleerde in die Tora en ‘n wyse man van God. Alhoewel Josef nie ryk was nie, sou hy en Maria – wetende Wie Jesus volgens Mat 1:21 was – alles in hulle vermoë gedoen het om te verseker dat hulle seun die volle stel geskrifte van die Ou Testament sou kon besit ter wille van sy opleiding. Om dit te kon regkry, sou hulle minstens 180 werksdae se volle vergoeding, ongeveer 20% van hulle inkomste oor ‘n tydperk van minstens drie jaar, moes spandeer om die volledige versameling handgeskrewe afskrifte vir Jesus te kon aankoop, sodat hy teen die tyd dat hy vyf jaar oud was alreeds die Tora sou kon begin lees.

Volgens Hand 4:13 was die meeste van die dissipels van Jesus ongeleerde en eenvoudige mense. In hierdie konteks was dit egter die Joodse Raad wat uit hooggeleerde mense bestaan het, wat dié persepsie bevorder het. Soos enige ander Jood, het die dissipels met Joodse agtergrond ook die volledige Joodse opleiding ondergaan. In Mat 9:9 lees ons dat Matteus ‘n tollenaar was, wat beteken het dat hy die tale van sy omgewing (Grieks, Aramees en Latyn) vlot sou kon praat sodat hy hierdie werk na behore kon doen. Volgens Kol 4:14 was Lukas ‘n mediese dokter van beroep. Luk 8:3 vertel van Johanna, die invloedryke vrou van ‘n hoë amptenaar in Koning Herodus se paleis, wat saam met ander vrouedissipels uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg het. Josef van Arimatea, was volgens Luk 23:50-53 welvarend genoeg om vir Jesus ‘n graf te kon voorsien, en hoog genoeg in aansien om met die owerhede te kon onderhandel. Johannes het ook as Joodse seun die gepaste opleiding ondergaan en kon sekerlik die eerste vyf boeke van die Tora uit sy kop aanhaal. In Joh 18:15 en 16 lees ons dat Johannes, die ander dissipel, aan die hoëpriester bekend was, en in Luk 22:59 is slegs Petrus se eenvoudige Galilese aksent in die binnehof herken, wat beteken dat Johannes ‘n ander agtergrond moes gehad het.

Wat dikwels misgekyk word, is die feit dat die dissipels die besondere geleentheid gehad het om onder die beste leermeester van alle tye, Jesus Christus, hulle opleiding te kon ontvang. Die dissipels se drie jaar van intensiewe en voltydse opleiding, was indiensopleiding aan die voete van hulle Meester, wat in die antieke konteks van onderrig as ‘n hoogstaande kwalifikasie beskou sou word. Hierdie drie jaar tydperk van toerusting word later in Hand 20:31 en Gal 1:18 ‘n simbool van volledige en behoorlike opleiding. Jesus het verskeie onderrigtegnieke aangewend in die opleiding van sy dissipels. In Luk 9:1-17 stuur Hy sy dissipels prakties uit om die koninkryk van God te gaan verkondig; in Luk 7:18-34 gebruik Hy die tipiese tegniek van vraag-en-antwoord om hulle te onderrig. Elke situasie, interaksie of insident is deur Jesus in ‘n leermoment omskep om sy volgelinge toe te rus en voor te berei.

Jesus se opleiding van sy dissipels het uit drie fases bestaan: in die eerste fase, volgens hoofstuk 1-4 van Johannes, het hulle tot geloof gekom en Jesus na bepaalde geleenthede van blootstelling vergesel; in die tweede fase het hulle hul permanente werke agtergelaat om Jesus voltyds te begin volg – Matt 4:18-22; in die derde fase het Jesus ‘n spesifieke groep binne ‘n nouer kring en ‘n besondere band uitgekies sodat hulle tot apostelskap afgesonder kon word – Mat 10:1-4. Dit het beteken dat hulle vir ‘n onbeperkte tydperk saam met Hom tyd sou spandeer, Hom fisies sou sien en hoor optree, en eerstehandse getuies sou wees van sy lewe en prediking wat hulle dan later betroubaar sou kon weergee.

As seun van ‘n toegewyde Joodse familie, ontvang Paulus die streng Joodse onderrig in sy ouerhuis asook in die plaaslike sinagoge in Tarsus. Sy formidabele herkoms en agtergrond word goed in Fil 3:4-6 beskryf. Hy was onder andere ‘n lid van die party van die Fariseërs, en sou heel waarskynlik in lyn wees om die volgende Hoëpriester in Jerusalem te word. As jong man word hy na Jerusalem gestuur om onder die groot leermeester en Rabbi, Gamaliël, te studeer – Hand 22:3. Gamaliël was die bekende hoof van die Joodse raad, en hoogleraar van die wet van Moses met hoë aansien en invloed onder die Joodse volk – Hand 5:33-39. Hier het Paulus in die Hillel-skool ondermeer filosofie, etiek en klassieke literatuur bestudeer asook Grieks as tweede taal bemeester. Hy haal dikwels van die ou klassieke digters in sy briewe of preke aan: Hand 17:28, 1 Kor 15:33 en Tit 1:12. Hy was ‘n toegewyde student van die Hebreeuse geskrifte, en kon ook grootliks uit die Griekse vertaling daarvan aanhaal. In Gal 1:14 vertel Paulus hoe hy onder die volksgenote van sy tyd, uitgestyg het as fanatiese yweraar van die tradisies van die voorvaders.

Ná sy bekering het Paulus eers vir drie jaar die geskrifte en openbaring van God in Arabië bestudeer, voordat hy Jerusalem toe is om met die ander apostels kennis te maak – Gal 1:17 en 18. In hierdie afsonderingstyd in die woestyn, het hy net soos Elia en Moses voor hom, direkte toerusting van God ontvang – diesélfde tydperk onder Christus se onderrig as die ander apostels. Hy het ook by geleentheid sy openbaring en lering met die ander apostels getoets – Gal 2:2. In totaliteit spandeer Paulus 14 jaar aan voorbereiding vir sy bediening aan die nie-Jode, vanaf sy bekering tot en met sy eerste sendingreis. Lukas wy slegs een hoofstuk – Handelinge nege – aan hierdie veertien jaar van opleiding, maar sestien hoofstukke aan die volgende tien jaar van sy bediening tydens die drie sendingreise. Paulus het ook sterk in die onderrig en opleiding van geestelike leiers geglo en dit ook persoonlik so toegepas – Hand 20:31 en 2 Tim 2:1-2.

Uit die bostaande voorbeelde blyk dit duidelik dat die persepsie van ongeskooldes wat ‘n voorsprong by God sou hê en daarom meer bruikbaar in sy hande sou wees, nie enige grond hou nie. Inderdaad rus die Heilige Gees mense toe om in sy diens op te tree, en gee Hy dan ook die nodige wysheid wat vir daardie roeping noodsaaklik is. Uiteraard is Hy nie van menslike vaardighede afhanklik nie, maar Hy negeer ook nie daardie vermoëns nie. God neem juis die mens in totaliteit as vennoot in sy arbeid op, sonder om daardie mens op enige wyse te minimaliseer. Om daarom af te lei dat studie in die Woord van die Here, goeie navorsing en die verantwoordbare omgang met die teks, oorbodig of selfs destruktief is, is eenvoudig om die koöperatiewe wyse waarop die Here in en deur mense werk, te ontken.

30 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page