top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Nie alles wat liefde is, is lekker nie


Bybelse liefde is grenslose liefde, binne liefdesgrense. Alhoewel hierdie stelling soos ‘n paradoks mag klink, is beide waarhede gelyktydig geldig: God, as die liefdevolle Een, se grenslose liefde staan nié teenoor Hom as die regverdige Een, en sy eis om gehoorsaamheid bínne liefdesgrense nie. Liefde vra gehoorsaamheid, want juis dáárin kom die liefde tot vervulling. Jesus verklaar in Joh 14:15 en 21 dat wie Hom liefhet, sy opdragte uitvoer, en 1 Joh 5:3 sowel as 2 Joh:5 en 6 beaam dat liefde vir God beteken om binne die grense van sy gebooie in liefde te leef. Ef 4:15 ondersteun hierdie tweeledige gedagte dat gelowiges nie deur dwalleringe meegevoer moet word nie, maar in liefde by die waarheid moet bly.

Paulus het persoonlike pyn vanweë sy intense omgee vir die Korinte-gemeente ervaar. Sy verhouding met die gemeente het vertroebel nadat hy hulle in liefde oor hul sonde moes konfronteer – 1 Kor 3:1-3. Hy dryf hierdie liefdeskonfrontasie in 1 Kor 4:18-21 tot die spits, wanneer hy vra of hy dan met ‘n slaanding na hulle moet kom, of in liefde met ‘n gees van vriendelikheid. In 1 Kor 4:14 verduidelik Paulus dat hy hulle nie aangespreek het om hulle skaam te maak nie, maar om hulle as sy kinders, soos ‘n geestelike vader, tereg te wys. 1 Tess 2:11 en 12 deel hierdie selfde trant van Paulus se ouerlike aanmoediging wat volgens hom as aansporing moet dien om te leef soos die Here verwag.

In 2 Kor 2:1-4 is Paulus aanvanklik jammer oor sy liefdeskonfrontasie met die gemeente, en skryf hy oor die seer en beklemming wat dit by hom veroorsaak het omdat hy hulle moes hartseer maak oor hulle sonde. Later, in 2 Kor 7:8-12, erken Paulus dat hy nie langer jammer is oor die pyn wat hy die gemeente aangedoen het nie, omdat dit tot hulle berou, bekering en redding gelei het. Hy vertel in 2 Kor 2:5-11 van ‘n individu wat die konflik tussen hom en die gemeente aangevuur het, en verwys onder andere na die gemeente se liefdestug teen daardie persoon deur die bestraffing van die meerderheid. Hy pleit dan by hulle om vergifnis vir daardie kwaadstoker wat intussen tot inkeer gekom het, en versoek die gemeente om hom te vergewe en in liefde te bemoedig deur hom weer volledig by hulle in te neem.

Heb 12:4-13 leer ons dat die bedoeling van die Here se liefdestug nie is om ons mismoedig te maak nie, maar dat dit as aanmoediging dien omdat dit beteken dat God ons as sy kinders beskou wat Hy as ons Vader teregwys. Alhoewel dit aanvanklik pynlik mag wees, lewer dit uiteindelik goeie vrug omdat dit ons gehoorsaam aan die Here se wil maak. Goddelike tugtiging is nooit bedoel om ons moedeloos te maak nie, maar aan God se wil te onderwerp. In Op 3:19 bevestig die Here dat sy bestraffing en tugtiging ‘n liefdesaksie is.

Elke geestelike leier wat in die Naam van die Here optree, word in Hand 20:28 opgeroep om hulleself sowel as die kudde van die Here op te pas, en selfs in die Naam van die Here liefdestug toe te pas deur teregwysing en aanmoediging wat in dieselfde sin as twee kante van die een muntstuk gebruik word – Tit 2:15. In 2 Tim 4:1-5 word woorde soos verkondig, weerlê, bestraf, bemoedig en onderrig met geduld in dieselfde asem gebruik om te toon dat teregwysing in liefde en nederigheid, maar met erns en eerlikheid geskied. 2 Tim 3:16 beskryf die bediening van die Woord van die Here in terme van onderrig in die waarheid en ontbloting van die leuen. Jak 5:19 verduidelik dat ‘n gelowige wat iemand terugbring wat van die waarheid afgedwaal het, immers in diens van die Here optree.

Gal 6:1-5 steun die korrekte gesindheid waarmee liefdestug toegepas moet word: iemand wat in die sonde val, moet in ‘n gees van sagmoedigheid reggehelp word, terwyl gewaak moet word teen ‘n gesindheid van oordeel omdat ons elkeen ook in die versoeking kan val. 1 Tim 5:1 en 2 versterk die erns van die regte houding waarmee geestelike korreksie toegepas moet word, terwyl 1 Tim 5:20 weer die ander kant stel, naamlik dat diegene wat met verkeerde dinge besig is, openlik bestraf moet word sodat dit ander sal afskrik. Paulus konfronteer volgens Gal 2:11-14 dan juis ook vir Petrus in die openbaar omdat dit vir ‘n openlike regstelling vra.

Verwydering of afskeiding van mense as deel van liefdestug, is ‘n tema wat deurlopend in die konteks van liefdeskonfrontasie na vore kom: van mense wat verdeeldheid veroorsaak of mense van die waarheid afvallig maak, moet volgens Rom 16:17 en 18 weggebly word. Ook mense wat nog die uiterlike skyn van die godsdiens het, sonder om die krag van die godsdiens te ken, moet volgens 2 Tim 3:5 vermy word. Isolasie van ongehoorsames het juis as liefdesaksie ten doel om hulle tot inkeer te bring en reg te help – Gal 6:1. In 2 Tess 3:13-15 skryf Paulus dat iemand wat aan die Woord van die Here ongehoorsaam is, afgesonder moet word sodat hy of sy skaam kan kry. So iemand mag egter nooit as ‘n vyand behandel word nie, maar moet as ‘n broer of suster tereggewys word.

1 Kor 5:9-13 lê die beginsel neer dat afskeiding van medegelowiges wat in sonde leef, die taak van die gemeente is: met hulle moet nie eens saamgeëet word nie! Oor diegene buite die gemeente kan ons nie oordeel nie, en ons kan hulle ook nie noodwendig vermy nie, maar ons moet wél oor ons eie mense oordeel ter wille van die getuienis en die suiwerheid van die kerk – 1 Pet 1:14-16. Paulus vertel selfs in 1 Tim 1:20 hoe hy Himeneus en Aleksander, wat teen God gelaster het, aan die Satan oorgegee het, en bekragtig hierdie handeling van oorgawe aan die bose ook in 1 Kor 5:5 teenoor die man wat in ‘n sondige liefdesverhouding geleef het.

Jesus se liefdestugbeginsels word duidelik in Mat 18:15-17 uiteengesit, naamlik dat daar eers persoonlik en in privaatheid met die oortreder gepraat word, daarna een of twee getuies saamgeneem word om die erns van die saak te stel wanneer die persoon nie tot insig gekom het nie, dit daarna na die gemeente geneem word indien daar steeds geen ag daarop geslaan word nie, en wanneer selfs na die gemeente nie geluister word nie, afskeiding moet plaasvind. Hierdie beginsel van twee vermanings, en daarna afskeiding, word ook in Tit 3:10 en 11 onderstreep. 1 Kor 5:1-5 deel die riglyn dat iemand wat in sonde leef, uit die kring van die gelowiges verwyder moet word. Paulus se argument is dat hierdie aksie juis die bedoeling het om inkeer en redding te bewerkstellig. Hierdie afskeiding moet daarom nie as afskryf of verwerping verstaan word nie, maar as liefdes-isolasie wat juis die betrokke persoon tot inkeer moet bring.

In 1 Tim 5:19 hoor ons dat ons nie ‘n beskuldiging teen ‘n ouderling moet aanneem sonder die korrekte feite en die bevestiging deur twee of drie getuies nie. Vinnige reaksie, oorreaksie, gou praat en kwaad word, word volgens Jak 1:19 ten sterkste ontmoedig. Aan die ander kant, deur die woord “tensy” te gebruik, is die implikasie van 1 Tim 5:19 dat wanneer die werklike feite ingewin en geverifieer is, so ‘n beskuldiging nie langer geïgnoreer kan word nie. In so ‘n geval moet die bestraffing selfs openlik geskied. Liefdestug vra egter altyd om versigtigheid en sensitiwiteit, sodat die persoon in die proses teruggewen kan word.

40 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page