top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Gedagtes oor die kinderdoop

Wat is die waarde daarvan om die kinderdoop beter te verstaan?

Die doop bly steeds vandag ‘n ernstige kwessie vir baie gelowiges en kerke. Alhoewel daar by sommige die standpunt bestaan dat mense nie oor sulke onbenullighede moet stry nie, voel ander weer dat hierdie wel ‘n saak van groot erns is. Vele mense wat as babas gedoop is, voel onseker oor die Bybelse korrektheid en betekenis van die kinderdoop. Hierdie twyfel word dikwels gesaai deur groeperinge wat die kinderdoop kritiseer of ontken, asook weens die behoefte wat by party gelowiges mag ontstaan om as volwassenes gedoop te word sodra hulle ‘n geestelike verdieping of bekeringservaring gehad het.

2. Moet die Nuwe Testament se konteks nét so na vandag oorgedra word?

Begronding vir die grootdoop of volwasse doop funksioneer vanuit die liniêre Woordbegrip dat alles wat met Jesus en die eerste geslag gelowiges gebeur het en wat Hy of hulle gedoen het, ook presies is soos ons vandag moet doen. Indien Jesus as volwassene gedoop is, geld dit ook vir ons; indien Jesus die Heilige Gees direk ná sy doop ontvang het, dan moet dit natuurlik presies so met ons wees; indien die eerste gelowiges as volwassenes gedoop is, moet dit net so op ons vandag van toepassing gemaak word. Wanneer iets volgens hierdie veronderstelling nie duidelik of direk in die Bybel staan nie, moet dit dus afgewys word: byvoorbeeld dat daar oënskynlik nêrens staan dat die Nuwe Testamentiese doop in die plek van die besnydenis gekom het óf dat die babadoop nie in die Bybel voorkom nie. Hier onder andere word die debat tussen Paulus en die Joodse Christene oor die plek van die besnydenis in Romeine 2 en 4, 1 Kor 7:18-20, Gal 5:2-12 en Kol 2:11 en 12 geïgnoreer.

Hierdie liniêre Skrifbeskouing doen die konteks van die Bybel in totaliteit egter groot onreg aan: nêrens staan byvoorbeeld ook in die Bybel dat ons Sondag moet vier en nie meer die Sabbat op Saterdag moet onderhou nie, en tog is dit die praktyk van die Christelike kerk oor al die eeue. Ook sou ons dan sekerlik steeds vandag besny moes word soos inderdaad met Jesus en sommige van die eerste generasie gelowiges gebeur het, aangesien dit so in die Bybel staan – Luk 2:21 en Gal 5:2-12. ‘n Oorvereenvoudiging van Bybelgebeure om ‘n saak te ondersteun of te verwerp blyk gruwelike oneer aan die Bybel te doen. Verder word die Ou Testament dramaties genegeer en vervlak dit onomwonde die teologiese nadenke oor elke saak – ook die doop. ‘n Uitgangspunt dat die Christelike geloof ontstaan het los van die konteks en historisiteit van die Antieke Midde-Oosterse Joodse geloof, sou ‘n ernstige miskenning van die wortels van die kerk beteken.

3. Is die doop onderdompeling of besprinkeling?

Kol 2:12 en ander soortgelyke tekste word soms aangehaal om te ondersteun dat die doop ‘n werklike onderdompeling behels. Hier word egter nie kennis geneem van die historiese feit dat Jesus nié vertikaal begrawe is nie, maar horisontaal en ook so opgestaan het. Onderdompeling as doopmetode kon dus moeilik in die Nuwe Testament as simboliese voorstelling van begrafnis en opstanding dien. Alhoewel Paulus in Kol 2:12 en Rom 6:4 byvoorbeeld daarna as ‘n begrafnis verwys, is sy veronderstelling nie noodwendig onderdompeling nie, maar eerder gelowiges se deelname aan die sterwe en opstanding van Christus – Rom 6:8.

Indien daar wél enige simboliek in die wyse van doop lê, sou dit eerder baie gemakliker by die ruimer konteks van die Ou Testamentiese reinigingsgebruike deur besprinkeling inskakel. Hierdie onderdompelingsbeeld van die afwassing van sondes skiet te kort aangesien niemand wat bad of stort onderdompel word nie, maar eerder besprinkeling toepas. Verder is daar heelwat getuienis in die Nuwe Testament van doopgeleenthede waar onderdompeling net eenvoudig nie prakties moontlik sou wees nie, byvoorbeeld in Hand 16:32-34 en Hand 2:41.

4. Wat is die kritiek teen die doop as besprinkeling?

Binne die ryke verskeidenheid van die Christendom is daar selfs tradisies wat babas onderdompel en ander wat volwassenes besprinkel. Indien dit dus hier gaan om die hoeveelheid water of die metode van doop, verloor die doop die eintlike betekenis as sakramentele teken – Heb 10:22. Ook gaan dit nie om ‘n stryd tussen onderdompeling of besprinkeling nie, net soos dit nie gaan oor ‘n stryd tussen grootdoop of kinderdoop nie. Binne die NG kerk word beide dope erken en toegepas! Besprinkeling wil eerder aantoon dat die hoeveelheid water nié die teken van die doop enigsins versterk óf verskraal nie. Indien die volume water belangrik word, bevestig dit die klem op die eksterne ritueel wat na wettisisme of bygeloof sou neig en op ‘n magiese verstaan van die doop kan dui.

Nietemin word daar egter dikwels beweer dat daar geen Skrifgronde vir die besprinkeling is nie. Tekste soos 1 Kor 10:2, 1 Pet 1:2, Heb 9:13-22 en Heb 12:24 wat duidelik besprinkeling vanuit die Ou Testamentiese tradisie van reiniging (Lev 16; Num 19, Eks 24 en Eseg 36:25) met afwassing van sondes deur die doop in die Nuwe Testament in verband bring, word geïgnoreer en ontbloot die liniêre Skrifbeskouing wat die Bybel as ‘n versameling van historiese en kultureel-eie dokumente ontken.

5. Hoe moet die verhouding tussen die verbond en die doop verstaan word?

In die wyse waarop die verbond dikwels in gesprekke rondom die doop geïnterpreteer word, kom die misverstand oor die doop duidelik na vore, naamlik dat die Ou verbond lynreg deur die Nuwe verbond vervang is. Hier bestaan enkele mistastinge:

(i) Die Ou verbond het hiervolgens slegs vir Israel gegeld. Tekste soos Rom 9:6-7, Rom 11:1-5; Joh 8:31-47 en Rom 2:28-29 skets ‘n ander prentjie.

(ii) Die Ou verbond word gesien as die Abrahamverbond, terwyl die Ou verbond in die Nuwe Testament ook na die Sinaïverbond verwys (vergelyk Jer 31:31-33, 2 Kor 3:14 en Gal 4:24-26). God se verbond met Abraham is ‘n blýwende verbond en is dus nie afgeskaf of vervang nie – Gen 17:7. Rom 11:29 bekragtig dat God se roeping van Israel nooit teruggetrek word nie.

(iii) In die Nuwe Testament word die wet wel as heilsweg afgeskaf, maar nié as lewensreël nie – Rom 3:31. Dit is die eintlike konteks van Hebreërs 8 waarna soms verwys word.

(iv) Die verbond met Abraham in Genesis 17 word in Christus bevestig volgens tekste soos Gal 3:14 en 17-29 sowel as Hand 2:38 en 39, Hand 13:23 en Hand 26:6.

(v) Die Nuwe Testament se beskouing van die besnydenis as teken van die verbond is nie noodwendig in alle kontekste negatief of afwysend nie, byvoorbeeld in Rom 2:25, Fil 3:3 en Hand 16:3.

6. Wat is die argumente teen die kinderdoop?

Jesus sélf het die Christelike doop as opdrag ingestel (Mat 28:19). Maar hoekom doop ons kinders? Verbondsouers moet hulle kinders doop omdat die kinders as gevolg van die ouers se geloof alreeds deel van God se verbond is. Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 34: “En waarlik, Christus het sy bloed nie minder vir die reiniging van die gelowiges se kindertjies as vir die volwassenes vergiet nie.” Heidelbergse Kategismus vraag 74: “Moet jong kinders ook gedoop word? Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is. Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes nie deur die bloed van Christus die verlossing van sondes en die Heilige Gees wat die geloof werk beloof.”

(i) Kinders verstaan nie wat by die doop gebeur nie: Die verbondsouers verstaan wél, en verstaan is in elk geval nie ’n voorvereiste vir God se genade of liefde nie – Gen 17:11-14 en Rom 5:6 en 8. God kies kinders reeds van kleins af om uiteindelik in Hom te glo – die Heilige Gees wek sélf daardie geloof en die geloofsbegrip neem mettertyd by hulle toe. In die doopformulier staan daar: “Al verstaan kinders nog nie die doop nie, verander dit nie aan die geldigheid daarvan vir hulle nie. Trouens, dit beklemtoon juis die feit dat dit God is wat uit vrye genade ook in húlle geval die inisiatief neem in hul verlossing.”

(ii) ’n Mens moet eers glo voordat jy gedoop kan word: God se genade hang nie van ons geloof af nie – dit is juis genade ten spyte van. Hý neem die inisiatief – nie ons nie. In Gen 17 is dit Hý wat die verbond na Abram bring. God hoef nie op ons te wag voordat Hy mense in genade kan aanneem nie.

(iii) Jesus is sélf groot gedoop: Jesus is met Johannes se bekeringsdoop gedoop (Joh 1:24-28 en Mat 3:11), wat in sy geval eerder ‘n salwingsfunksie as reinigingsfunksie gehad het, en nié met die Christelike doop in die Naam van die Drie-enige God wat eers heelwat later in Matteus 28 deur Jesus ingestel is nie.

(iv) Soos Jesus moet ons ook groot gedoop word: Jesus is ook op agt dae as baba besny (Luk 2:21-24) – die Ou Testamentiese verbondsteken wat nog op daardie stadium geldig was. Kennis moet geneem word van byvoorbeeld Kol 2:11-15 oor hoe die doop die besnydenis ingesluit het eerder as bloot net vervang het.

(v) Al die mense in die Nuwe Testament is groot gedoop: Volwassenes is in die Nuwe Testament gedoop omdat hulle eerste geslag Christene was. Daarná is hele gesinne ook gedoop. Voorbeelde hiervan kry ons in Hand 16:15; Hand 16:31, 33 en 34; Hand 11:14; Hand 18:8 saam met 1 Kor 1:14 asook 1 Kor 1:16. Volgens 1 Kor 7:14 behoort kinders van gelowiges juis aan God.

(vi) Kinderdoop is nie geldig nie – sulke mense moet oorgedoop word: Hierdie argument ontken God se keuse en sê eintlik dat wat Hy gedoen het ongeldig is, en dat die doop eers geldig is as ek sélf daarvoor gekies het en persoonlik daaroor besluit het. Alles hang dus van myself af en nié van God nie – die inisiatief vir verlossing lê by my. Hierdeur word ‘n streep deur die Evangelie getrek, terwyl die gedoopte nou self besluit om God se doop ongeldig te verklaar asof hy of sy dit persoonlik geïnisieer het.

(vii) Mense wat as kinders gedoop is, het geen gevoel van God se keuse nie: Gedoopte kinders ontdek juis later die wonderwerk van God se genade. Net soos Hy alreeds twee duisend jaar terug vir ons sondes betaal het (voordat ons nog daar was en daarop kon reageer) kies Hy ons ook nog voordat ons dit weet. Elke keer as mens ’n babadoop sien, word jy opnuut aan jou eie doop herinner soos hierdie Evangeliewaarhede sterker vasgelê en bevestig word.

(viii) God se verbond sluit nie kinders in nie: Petrus se preek op Pinksterdag waartydens hy mense oproep om gedoop te word, bevestig God se verbondsbelofte (Gen 17:7) aan die hoorders én hulle kinders (Hand 2:38 en 39). Kinders speel van die begin af ‘n groot rol in God se plan met sy volk en kerk (Deut 6:6 en 7; Ps 78:4; Ps 71:18; Joël 1:3; Mat 18:1-6; Mat 19:13-15; Luk 1:14; Hand 21:5 en 6).

(ix) God het slegs kinders – nie kleinkinders nie: Volgens hierdie argument kan ouers nie namens hulle kinders glo of hulle heil verwerf nie. Sodoende word die inisiatief vir verlossing deur die mens teruggeneem. In Gen 15:1-21 maak ons egter die ontdekking dat dit die Here is wat die verbond met Abram sluit – selfs terwyl hy in ‘n diep slaap geval het. Wanneer ‘n baba dus by die verbond ingesluit word, is dit nie as God se “kleinkind” nie, maar as volwaardige kind van God wat deur sy genade aangeneem word op grond van sy verbond wat reeds milleniums bestaan.

(x) Die doop se uiterlike teken is heilsnoodsaaklik en verpligtend vir volwassenes: Mense wat hierdie argument gebruik, mag hulleself moontlik aan animisme skuldig maak – die uitwendige doop verkry ritualistiese status in die bonatuurlike domein wat opsigsélf afwassing van sondes verseker. In 1 Pet 3:21 spreek Petrus hierdie misverstand aan en bevestig dat ons redding in Christus se heilswerk eerder as die doopritueel gesetel is. Heidelbergse Kategismus Vraag 72: “Is die uitwendige waterbad self dan die afwassing van die sonde? Nee, want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes.” Nooit kan die doop as ‘n addisionele heilsinstrument naas Christus se verlossingsbloed dien nie – as teken gaan die doop nooit om die uitwendige water of wettiese voorskriftelikheid van die doopplegtigheid nie, maar om die inwendige reiniging deur die Gees.

(xi) Om oorgedoop te word is bloot net simbolies en dus nie verkeerd nie: Hierdie uitgangspunt ignoreer die erns van God se verbondskeuse, asook die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 34 wat sê: “Ons glo dat iemand wat tot die ewige lewe wil kom, slegs een maal gedoop moet word sonder om dit ooit te herhaal, want ons kan tog ook nie twee maal gebore word nie. Hierdie doop is nie alleen nuttig solank die water op ons is en ons dit ontvang nie, maar vir ons hele lewe.”

(xii) Jesus se opdrag veronderstel éérs geloof en daarna doop: Mat 28:19-20, waar Jesus se doopopdrag aangehaal word, word volgens hierdie argument hanteer as ‘n kronologiese resep van hoe die proses van bekering en doop moet geskied, terwyl dit egter die historisiteit van sy opdrag misken, naamlik dat Hy die opdrag gee aan die eerste groep dissipels wat na die eerste generasie gelowiges sou uitreik wat alreeds op daardie tydstip volwasse mense was en dus nie as kinders gedoop kon word nie. Uiteraard sou die doop in húlle geval as die oorgangsgeslag op geloof volg, maar dit kan nie as ‘n resep vir alle tye hanteer word nie.

7. Wat is die misverstande rondom Jesus se doop?

Jesus se doop in Mat 3:16 word soms geïnterpreteer as presies dieselfde doop as dié van gelowiges. Johannes se aanvanklike weiering om Jesus te doop (asook Jesus se antwoord in Mat 3:15) bevestig dat hyself verstaan het met watter doop hy besig is en Jesus nie daarvoor “kwalifiseer” nie – Mat 3:14. Ook die neerdaling van die Heilige Gees op Jesus in Mat 3:16 word in ‘n direkte lyn deurgetrek na die heilshistoriese uitstortingsgebeure van die Pinkstermoment in Handelinge, wat eers ná die opstanding van Jesus as antwoord op sy beloftes in Joh 14:15-17, Joh 14:25-26 en Joh 16:7-15 ‘n werklikheid geword het. Die volgende afleidings word gemaak:

  1. Jesus se doop is gelyk aan die Christelike doop waartoe Hy ons in Mat 28:19 opgeroep het. Jesus is egter met Johannes se bekeringsdoop gedoop, wat uiteraard ‘n heel ander funksie in die geval van Jesus gehad het aangesien Hy sonder sonde was en nie afwassing van sondes benodig het nie. Jesus het die Christelike doop soos ons dit vandag ken eers ná sy kruisiging en opstanding ingestel en dáár het dit vir die eerste keer begin.

  2. Die duif se neerdaling het eerder ‘n salwingsfunksie gehad as geestesvervulling, aangesien Jesus sélf God is en nie deur die Heilige Gees “vervul” kan word nie.

8. Wat is die verband tussen die doop en die besnydenis?

Rom 4:11 en 12 mag aanvanklik voorkom asof Abraham se geloof sy besnydenis voorafgegaan het en dat die kinderbesnydenis op agt dae dus foutief sou wees. Tog verwys Paulus na die besnede sowel as onbesnede groep as béide Abraham se kinders (byvoorbeeld die verwysing na Isak in Gal 4:28 na aanleiding van Gen 17:19-21). Abraham se vryspraak het reeds gekom toe hy onbesnede was, nie toe hy besny is nie – Rom 4:10. Hy het die besnydenis bloot as ‘n teken van die vryspraak ontvang – Rom 4:11. In Abraham se geval het hy eers geglo omdat God na hom as die eerste generasie van die verbond en as ‘n volwassene gekom het. In sy nakomelinge se geval het die geloof uit die besnydenis gevloei. Daar is egter geen verskil tussen Abraham wat eers geglo het en toe besny is en almal wat ná hom gekom het wat eers besny is en toe geglo het nie. Vir almal geld die besnydenis as geloofsteken. Dieselfde argumente sou dus ook vir die doop geld. Kol 2:11 en 12 wys hoe die doop ook die betekenis van die besnydenis insluit: deur die doop ontvang ‘n mens die besnydenis van Christus. Sodoende word die doop die vervulling van die besnydenis en kan die doop nie anders as die besnydenis verstaan word nie.

9. Hoe moet die korporatiewe karakter van die Bybel verstaan word?

Volgens die veronderstelling van die grootdoop werk God met individue, wat egter deur ‘n moderne Westerse verstaan van individualisme eerder as ‘n Antieke Midde-Oosterse verstaan van ‘n inklusiewe verhoudingsbegrip tussen God en mens gekenmerk word. In die Ou Testament sowel as die Nuwe Testament werk God altyd heilsgesproke met gelowiges korporatief: nooit in isolasie as blote enkelinge nie, maar insluitend as deel van ‘n volk of ‘n stam of ‘n familie of ‘n gemeente of ‘n gesin of ‘n liggaam of ‘n gebou: bv Ef 5:1; Ef 4:6; Ef 2:19; Kol 1:24 – dus altyd as deel van ‘n geloofsgemeenskap. Op hierdie wyse kan God dus kinders by sy verbond insluit wanneer hulle gelowige ouers het wat reeds deel van sy verbond is. Die doop maak hulle nie outomaties gelowig nie, maar stempel hulle wél as kinders van gelowige verbondsouers wat nie minder as hulle ouers nie aan God se weldade en beloftes deel het.

420 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page