top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Vrede in die perfekte storm

In Okt 1991 vind ‘n geskiedkundige storm plaas, toe die Halloween Nordeaster die Atlantiese kus van Kanada tref – ‘n ekstratropiese sikloon, wat later sou bekend staan as “Die perfekte storm.” Dit was ‘n kombinasie van hoogs uitsonderlike meteorologiese verskynsels, wat deur 3 faktore veroorsaak is: warm lug van ‘n laagdrukstelsel van een rigting, koue lug van hoogdrukstelsel van ‘n ander rigting, en tropiese vog van ‘n orkaan uit ‘n derde rigting. Junger skryf in 1997 ‘n boek oor hierdie storm, met die titel “The perfect storm,” en in 2

000 stel Hollywood ‘n fliek vry met diesélfde titel, wat die tragiese einde beskryf van die bemanning van die vissersboot “Andrea Gail.” Die perfekte storm is simbolies van ‘n sameloop van slegte gebeure: een katastrofe plus ‘n volgende plus ‘n volgende, en jy het die perfekte storm!

2020 sal moontlik in die geskiedenis bekend staan as die perfekte storm: in SA was dit eers die 6-jaar-droogte wat groot dele van die land geteister het en sy toppunt in 2019 bereik het, tóé die ekonomiese krisis toe SA begin 2020 tot rommelstatus afgegradeer is, en tóé, Covid-19. Vlgs Piet Naude was Korona ‘n saamvloei van ‘n gelyktydige krisis in kerk, ekonomie én politiek. Ek en jy het ook van tyd-tot-tyd ons eie perfekte storms: onverwagse beproewings wat een na die ander soos vloedgolwe oor ons lewens spoel. Vraag: kan ons stééds vrede hê te midde van perfekte storms?

In Fil 4:7 verwys Paulus na die vrede van God. In Afrikaans is dit ietwat onduidelik: hy bedoel nie bloot vrede wat God gee nie: “Fróm God;” hy bedoel Gód se vrede: “Óf God.” Jesus beloof daardie Goddelike vrede in Joh 14:27: “My vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie.” Jesus gee Godsvrede! Dis dieselfde vrede wat Hy in Matt 8:24 gehad het, toe Hy op die skuit geslaap het terwyl ‘n hewige storm op die see losgebars het. Hy kalmeer nie net die storm nie, maar ook die mense wat saam met Hom in die storm is! Hy kalmeer die storm op die see én in hulle harte. Want Jesus het permanente vrede! En dit is daardie sélfde vrede wat Hy vir ons beloof: sy Goddelike vrede. Ons kan nie sélf daardie vrede verkry nie – net Hy kan dit gee, want dis Syne.

Godsvrede staan teenoor kommer: kommer kom uit die gedagtes en hart van die mens; dis as ons met ons eie verstand probeer om sélf orde uit die chaos van ons denke te skep. Ons kry egter nie orde en vrede op ons eie nie. Ons kan nié storms stilmaak nie – verál nie in ons harte nie. Ons kommer veroorsaak net angs. Godsvrede kan nié deur die menslike verstand begryp word nie – dit gaan alle verstand te bowe. Dis bomenslike vrede wat net God waarborg. Dis soos ‘n veiligheidswag wat die gelowige se gedagtes en emosies bewaak teen skielike vlae van angs. “Froeréoo” is die Griekse woord vir ‘n antieke idioom wat beteken om wag te staan: God se vrede beskerm ons harte en gedagtes teen angs, nes ‘n sekuriteitswag ‘n plek beskerm teen indringers! Godsvrede is aktief – dis nie bloot ‘n gevoel van rustigheid nie, dis ‘n daadwerklike aksie van wagstaan teen angs tydens storms. God is die Bewaarder van ons vrede! Hy is die Bewaker van ons kalmte! Sodra angs wil oorneem, tree Hy met sy Godsvrede in.

28 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page