top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Vloeke en die Bybel

1. Inleiding

Deesdae is daar ‘n hernieude belangstelling in die sogenaamde bonatuurlike houvas wat die bose oor mense se lewens kan verkry deur die uitspreek van vloeke. Sodra omstandighede aanhoudend in ‘n individu of gesin se lewe verkeerd loop, is een van die verklarings wat daarvoor aangebied word dat dit ‘n vloek mag wees wat iemand met kwade bedoelings op daardie persoon of persone geplaas het. In die geval waar aaneenlopende moeilikhede ‘n spesifieke familie oor geslagte heen teister, word verwys na ‘n generasievloek wat iewers in die verre verlede deur die voorouers se vyande oor daardie betrokkenes uitgespreek is. Onder sommige gelowiges bestaan die tendens selfs om elke sonde of probleem in hulle eie lewe of in die mense rondom hulle se lewens te blameer op generasievloeke. ‘n Reaksie soos hierdie kan natuurlik moeilik Bybels verantwoord word, omdat dit bloot die blaam verskuif en die verantwoordelikheid van keuses en sonde ontduik – Gen 3:12 en 13.

Vloeke word gewoonlik met bose magte geassosieer wat dan klaarblyklik deur middel van die uitspreek van slegte of negatiewe wense oor mense en hulle welsyn of welvaart, die mag verkry om dit te bewaarheid en sodoende kwaad of ongeluk oor daardie mense te bring. So word die bose glo ingespan deur mense met kwaadwillige agendas om skade aan ander te berokken. Volgens Christene wat generasievloeke of ander vloeke ernstig opneem, moet dit in die Naam van Christus verbreek word sodat daardie stroom van slegte of ongelukkige gebeurtenisse tot ‘n einde kan kom. Hierdie vloeke bly aldus hulle wat dit onderskryf egter voortbestaan solank dit nie geopenbaar en bestraf word nie, met die gevolg dat die slegte gebeurtenisse of ongelukkige omstandighede in daardie geval sal voortduur.

Verkondigers van die leerstelling oor vloeke is onder die oortuiging dat God die spesifieke vloek deur die betrokkene se gebed sal openbaar, en dat die Heilige Gees aan daardie individu sal toon watter gebeurtenis of aksie uit die verlede tot die vloek aanleiding gegee het. Eers wanneer die betrokke vloek op ‘n bonatuurlike wyse geïdentifiseer is, word geglo dat dit bely en gebreek kan word. Onder die aanname dat God ‘n praktyk van vloeke uitspreek en verbreek ondersteun, word Hy net soos die bose daarby betrek sonder dat daar oortuigende Skriftuurlike bewyse daarvoor aangevoer word. Uiteraard ontstaan die vraag of die Heilige Gees iets aan ons sal openbaar wat nié deur die vleesgeworde of skrifgeworde Woord van God geleer word nie – Joh 14:26; Joh 16:13 en 14.

Voordat daar dus met ‘n saak soos hierdie op hol geloop word, moet eers bepaal word of dit énige Bybelse gronde of wortels het. In ander woorde, wat het die Here daaroor in sy Woord te sê? Was die uitspreek van vloeke ‘n bekende of erkende praktyk onder Bybelse gelowiges, en indien nie, waarom sou dit enigsins vandag ernstig opgeneem moet word? Wanneer ‘n bedenklike leerstelling soos hierdie gepropageer word, moet telkens eers gevra word of Christus en die apostels dit geken en geleer het. Indien dit veral in die Nuwe Testament nooit ‘n gebruik was nie, moet dit reeds ernstige vraagtekens plaas oor die herkoms of agtergrond van so ‘n teologie.

2. ‘n Teologie met ‘n twyfelagtige herkoms

Generasievloeke se sterkste begronding word gevind in Eks 20:5 en Deut 5:9 waar God die waarskuwing rig dat Hy kinders die sondes van hulle vaders toereken tot in die derde of vierde geslag van dié wat Hom haat. Alhoewel verkondigers van die leer van vloeke aanneem dat hierdie uitspraak van die Here op ‘n onheilsvervloeking dui wat van geslag tot geslag oorgedra word, het dit veel eerder te doen met die natuurlike effek van die gevolge van die sonde van voorouers wat ‘n langdurende invloed op daaropvolgende generasies sou kon uitoefen. Daarbenewens staan hierdie effek ook in direkte verband met God se verbondsbelofte, en Hy eien Homself die verbondsreg toe om die seën wat Hy volgens Gen 17:7 en 8 in Abraham aan die komende generasies beloof het, op te hef indien hulle die verbond verbreek deur in sonde teen die Here te volhard – Deut 29:18-21.

God se waarskuwing mag dus nie los van die oorspronklike verbondsbelofte verstaan word nie, omdat dit ‘n direkte verwysing is na die spesifieke gevolge van verbondsbreuk eerder as wat dit dui op ‘n onheilsvervloeking weens een of ander bose agenda. Sy oordeel is tegelykertyd ‘n terugskouing op sy aanvanklike belofte aan Abraham, sowel as ‘n vooruitskouing op die resultaat wat sou volg indien die volk die rug op Hom keer, naamlik die ballingskap as ‘n terugtrekking van die erfbelofte om Kanaän te besit – Gen 17:8. Die “vloek” waarvan dus hier sprake is, is God se stráf op verbondsbreuk – Lev 26:14-45.

Dat dit oor ‘n verbondsaangeleentheid gaan, word nog duideliker wanneer die straf op verbondsbreuk deur ‘n betrokke geslag oortreders, spesifiek geld tot in die derde of vierde geslag, aangesien dit die maksimum tydperk is wat die aanvanklike oortreders sou leef om die gevolge van hulle sonde teen God op hulle nageslagte te sien neerkom. Hierdie gevolge is egter nie ‘n skadelike vloek oor mense se welwese nie, maar die Here se opheffing van sy verbondsbeloftes soos Hy dit aan Abraham en sy nageslagte toegesê het. In beide gevalle word die waarskuwing juis gevolg deur ‘n hernieude verbondsverbintenis van genade wat geld tot in die duisendste geslag van dié wat God liefhet – ‘n volmaakte getal wat op God se oneindigende goedheid dui: Eks 20:6; Deut 5:10. Vorige generasies se strafgevolge wat implikasies vir die nageslagte sou hê, is dan ook opgehef die oomblik wanneer die volk tot inkeer gekom het en die geslagte wat volg daarvan gevrywaar is – Jer 31:29; Eseg 18:20.

‘n Teologie van vloeke se betroubaarheid word al hoe verder in twyfel getrek sodra daar na spesifieke omstandighede van swaarkry verwys word, en die valse leerstelling verkondig word dat dit nooit God se wil is vir mense om te ly nie – 2 Kor 1:4-9; 1 Pet 1:6 en 7; 1 Pet 2:20 en 21; 1 Pet 4:12-19. So byvoorbeeld word verkondig dat mense arm is omdat ‘n vloek in die verlede oor hulle finansies of besittings uitgespreek is. Indien armoede wel ‘n vloek is wat teen God se wil vir sy kinders is soos voorstanders van die welvaartsteologie verkondig, moes hierdie vloek sekerlik ook op Jesus en die apostels gelê het, aangesien hulle arm was – Luk 9:58; 1 Kor 4:11-13; Hand 3:6. Nooit is daar egter in die Nuwe Testament enige sprake daarvan dat armoede as ‘n vloek beskou is wat “gebreek” moes word nie. Inteendeel, volgens Jak 2:5-7, is armes wat ryk is in geloof vir God meer aanneemlik as rykes sonder geloof en dus nie onder een of ander vloek soos hierdie leerstelling beweer nie.

Vir gelowiges is en bly die Woord van God daarom steeds die énigste bron van waarheid waarvolgens ons enige leerstelling of praktyk kan beoordeel – 2 Tim 3:16; Heb 4:12. Alle ervarings of opinies van individue of groepe word altyd aan die Skrif gemeet, selfs al is dit ook hóé oortuigend of indrukwekkend en word mense in groot getalle daarby betrek. Ook in hierdie geval moet ons vra hoe die Bybel oor vloeke oordeel en op watter wyse ons dit vandag as kinders van God en navolgers van die Woord moet interpreteer. Om te begryp in watter mate vloeke vandag ‘n rol speel, moet ons eers probeer verstaan hoe vloeke in die Bybel gefunksioneer het.

3. Vloeke wat deur God uitgespreek word

In die Ou Testament het God die slang sowel as die aarde vervloek as gevolg van die sondeval en die mens se doelbewuste ongehoorsaamheid en opstandigheid aan sy wil – Gen 3:14 en 17; Gen 5:29. In Gen 4:11 word Kain deur God vervloek weens die moord op sy broer Abel. Later van tyd het dit duidelik geword dat die oortreding van die wet tot vervloeking lei terwyl gehoorsaamheid aan die wet tot seën aanleiding gee – Deut 27 en 28. Uit al hierdie voorbeelde blyk dit dat God in die Bybel die mag het om vloeke uit te spreek, maar dat hierdie vloeke direkte verband hou met sy regverdige oordeel oor die sonde van die mensdom. Die vloeke waarvan hier sprake is, is nie oorlewering in die hande van die bose om ‘n eie skadelike agenda uit te voer nie, maar die regstreekse straf op sonde soos God self dit al voor die sondeval bepaal en in sy verbond bekragtig het – Gen 2:16 en 17.

Ook die Nuwe Testament bevestig dat die enigste vloek wat geldig is en enige waarde in die Bybel besit, die vloek is wat God self uitgespreek het as gevolg van die sonde van mense – Gal 3:10. Hier word die vloek van die sonde weereens in teenstelling geplaas met die seën wat God uitdeel aan diegene wat glo – Gal 3:9. Volgens Gal 3:13 en 14 word mense egter selfs van hierdie legitieme vloek losgekoop deur die bloed van Christus wat in ons plek ‘n vervloekte geword het, omdat Hy ons sonde asook die oordeel daarop op Homself geneem het – Rom 8:1-3. Hierdie is dieselfde vloek wat alreeds in die Genesisverhaal deur die Here uitgespreek is en in besonder te make het met die oordeel wat Hy oor die sonde en ongehoorsaamheid gebring het. Dit is dan ook die einste vloek waarvan Jesus ons bevry.

Die enigste vervloektes wat nog in die Nuwe Testament geken word, is die ongereddenes – hulle wat in ongeloof teen God se verlossingsplan kies en dus steeds onder die vloek van die sonde en die wet staan – Mat 25:41; Rom 7:5 en 6; Gal 2:16. Let daarop dat dit hier gaan oor die spesifieke vloek van God se ewige oordeel, en nie oor algemene onheilsvloeke wat in hierdie bedeling een of ander heilseffek het nie. In Hebreërs 6:4-8 geld dieselfde onderskeid tussen die vloek en die seën van die Here, en lei die vrugteloosheid van die geloof tot vervloeking, terwyl 2 Pet 2:14 mense wat in hulle sonde volhard as vervloektes beskryf. In Op 22:3 word verklaar dat daar in die nuwe Jerusalem niks sal wees wat deur God vervloek is nie, omdat die gevolge op sonde nie meer sal bestaan nie.

God se vervloeking in die Bybel is nooit ‘n kwaadwillige uitspraak waardeur Hy mense wil benadeel of skade berokken nie. In die Skrif word God se hart van genade en liefde bykans op elke bladsy verwoord, sodat dit duidelik word dat Hy geen bose agenda met die mensdom en sy skepping het nie – Rom 2:4. Hy tree bloot vanuit sy regverdigheid en geregtigheid op wanneer Hy die mens aanspreeklik hou vir sonde en opstandigheid – Rom 2:1-11. Die Here se vloek het altyd slegs te doen met die Goddelike oordeel oor die mens se oortreding van die wet, en in besonder met die feit dat mense afgode in die plek van God stel en aanbid – Rom 1:18-25. Op hierdie sonde rus die vloek van die enigste en ware God wat alleenreg in aanbidding opeis en nie sy eer met enigiemand anders deel nie.

4. Vloeke wat deur mense uitgespreek word

In die Bybel is daar menige voorbeelde van mense wat vloeke uitgespreek het: Gen 9:24 en 25; Gen 27:29; Num 22:6 en 17; 2 Sam 19:21; Job 3:1; Ps 10:7; Pred 7:21 en 22; Jer 20:14 en 15. Dit mag aanvanklik voorkom asof mense net soos die Here ook die mag het om ander te kan vervloek. In al hierdie gevalle word die vervloeking egter in ‘n negatiewe lig beskou en deur God veroordeel – Deut 18:9-14. Hieruit blyk dit duidelik dat die vloeke wat mense in hulle sondigheid uitspreek deur God misken word en geen gewig dra nie – Spr 26:2. Volgens Num 23:23 kan geen vloeke, towery of waarseêry iets teen God se mense uitrig nie.

Om ‘n vloek in God se Naam uit te spreek, was slegs in die Ou Testament geoorloof wanneer reg en geregtigheid moes geskied of sonde gestraf moes word – 1 Kon 8:31 en 32; Num 5:20-31; Deut 29:18-21. Volgens die Nuwe Testament kon iemand alleenlik ‘n vloek uitspreek wanneer God se eer en sy waarheid op die spel was. So het Paulus byvoorbeeld in Gal 1:8 en 9 ‘n vloek uitgespreek oor mense wat die waarheid van die evangelie verdraai, maar stel hy dit pertinent dat dit God self is wat die vloek oor mense sal bring. In 1 Kor 16:22 bevestig Paulus bloot die bestaande vloek van God oor mense wat Hom nie liefhet nie. In beide gevalle lê die krag van die vloek nie in die mens se gesindheid of woorde nie, maar in die oordeel van God self. Geen mens kan homself of haarself dus die mag of reg van God toe-eien om vloeke uit te spreek nie.

‘n Vloek wat in eie krag of op eie meriete uitgespreek word, ken die Bybel geensins, behalwe wanneer dit streng veroordeel word as ‘n oortreding van God se wet, ondermeer in die geval van mense wat vloeke uitspreek in die name van ander gode. In al hierdie gevalle het dit egter geen waarde of effek nie, maar is dit geheel en al kragteloos – 1 Sam 17:43. Wie ander vervloek vir persoonlike redes of gewin en boonop God se Naam daarby betrek, is skuldig aan ‘n ernstige oortreding van die wet – Num 22:15-18. Om ‘n vloek in die Here se Naam uit te spreek word beskou as ‘n oortreding van die derde gebod omdat dit gruwelike misbruik van God se Naam veronderstel met die sondige bedoeling om kwaad te doen of skade te berokken – Eks 20:7.

In die Nuwe Testament word mense telkens opgeroep om eerder te seën as te vervloek – Rom 12:14. Jesus self bevestig in Luk 6:27 en 28 dat dit beter is om mense te seën as om hulle te vervloek. Hier gee Hy nie ‘n bonatuurlike antwoord op die vloeke wat mense uitspreek nie en beveel Hy geensins dat hierdie vloeke op een of ander wyse “gebreek” moet word nie. Jesus verskaf ‘n baie nugtere en praktiese oplossing: seën hulle wat jou vervloek. Seëninge soos Hy dit hier bedoel, het glad nie magiese krag veronderstel nie maar ‘n dienende gesindheid en aksie van liefde, soos die konteks waarin Jesus hierdie opdrag gee duidelik bevestig.

Slegs een keer het Jesus self ‘n vloek uitgespreek toe Hy die vyeboom vervloek het om as voorbeeld van geloof vir sy dissipels te dien – Mat 21:18-22. Hierdie vloek het uit die aard van die saak bloot as illustrasie gedien met ‘n heel ander bedoeling as die vloek wat God oor mense vanweë hulle sonde uitgespreek het, en kan nie as motivering vir die plaas van vloeke geld nie. Selfs die gebruik van vuil of kru taal – ‘n verwante vorm van vloeke uitspreek deur gebruik te maak van kragwoorde om uitsprake sterker te maak of aandag te trek, te skok of te verneder – word ten sterkste in die Bybel verbied: Ef 4:29; Kol 3:8.

Hieruit blyk dit duidelik dat dit geensins God se wil is dat mense vloeke oor mekaar moet uitspreek nie. Wie dit dus steeds doen ten spyte van God se afkeur daarin, tree op teen God se direkte wil en in eie krag. Selfs wanneer die krag van die bose daarvoor ingespan word om gewig aan die vloek te verleen, moet ons dit steeds in die lig van die Nuwe Testament beoordeel wat dit duidelik stel dat die bose oorwin is en alle mag en krag aan Christus behoort – Mark 1:27; Luk 4:36; Kol 1:13; Kol 2:15; Mat 28:18; 1 Joh 3:8; 1 Joh 4:4; 1 Pet 3:22. Die sogenaamde mag van die bose is bloot ‘n illusie wat geskep word deur die vader van die leuen – Joh 8:44 – waardeur die duiwel vrees wil inboesem en mense sodoende onder sy invloed probeer kry – Gen 3:1. Juis daarom word gelowiges in Ef 6:14 en 17 opgeroep om hulle met die waarheid en die Woord te omgord teen die listige aanslae van die satan, soos Jesus self ook in Mat 4:1-11 gedoen het. In gevalle waar hierdie leuens egter geglo word, word die almag van God ontken terwyl die oorwinning van Christus geïgnoreer word – Luk 11:21 en 22.

5. Het vloeke van mense enige krag?

Die enigste krag wat die kwaadwillige woorde van mense het, is die mag of invloed wat mense self daaraan toedig deur toe te laat dat dit hulle raak of ontstel. Woorde opsigself het egter geen krag nie, aangesien dit niks anders nie as bygelowigheid of animisme sou veronderstel wat glad nie ‘n Bybelse reaksie op die werklikheid is nie. Daar is geen magiese of bonatuurlike krag in woorde nie, en niemand kan deur die woorde van mense getoor of vervloek word nie. Hierdie krag om te vloek of te seën eien God alleen vir Homself in die Bybel toe. Num 23:8 stel dit onomwonde dat alleen God mense kan seën of vervloek – mense se aksies in hierdie verband het dus geen effek of plek nie.

Jakobus se pleidooi in Jak 3:1-12 vir die beheersing van die tong het bloot te make met die skade wat mense mekaar kan aandoen deur te skinder of mekaar met woorde seer te maak, maar hy heg nooit enige magiese krag aan die tong of die woorde wat die tong uitspreek nie. Teksgedeeltes soos Spr 18:21, naamlik dat die tong mag oor dood en lewe het, word soms foutiewelik geïnterpreteer om te beteken dat woorde opsigself krag het. Ongelukkig word vers 20 sowel as die tweede deel van vers 21 nooit daarmee saam gelees nie, waar die konteks van die uitspraak juis vir ons duidelik word: die krag van die tong word metafories verstaan, en die bedoeling hiervan is die wyse gebruik van woorde wat tot goeie gevolge sal lei. Hier is geensins sprake van lewe of dood uitspreek nie – eerder handel dit oor mense wat kwaadwillig praat en daarmee aan ander skade probeer berokken.

In 1 Kor 10:23-33 stel Paulus sy lesers gerus oor die eet van vleis wat aan afgode geoffer is, deur dit duidelik te maak dat sulke offers nutteloos is omdat die afgode immers nie bestaan nie. Dieselfde beginsel kan ook geld vir die uitspreek van vloeke in die naam van afgode – dit het geen waarde of effek nie aangesien daardie afgode glad nie werklik is nie en dus magteloos is om enige invloed uit te oefen. In 1 Kor 10:19 bevestig Paulus hierdie standpunt dat ‘n afgodsoffer of ‘n afgod geen betekenis het nie. Alhoewel hy die lesers in 1 Kor 10:20-22 aanmoedig om nie aan afgodsoffers deel te neem nie omdat dit deelname aan praktyke van die bose veronderstel en daarom nie by gelowiges tuishoort nie, eien hy nooit enige krag toe aan die bose magte waarvan hier sprake is nie. Hy waarsku hulle wel om nie die Here daardeur te tart nie, maar nooit moedig hy hulle aan om die bose magte te vrees of enige erkenning aan hulle te verleen nie.

Gelowiges hoef dus geensins oor die uitspreek van vloeke deur mense bekommerd te wees nie. God alleen eien Homself die reg toe om vloeke uit te spreek, en selfs Hy doen dit slegs waar daar van sonde en ongehoorsaamheid sprake is en Hy sy Goddelike oordeel daaroor uitspreek. Alhoewel mense mag glo dat hulle woorde krag besit of invloed op ander mense se lewens en welstand kan uitoefen, is dit niks anders nie as ‘n leuen wat geglo word – ‘n leuen wat uit die okkulte of fantasiewêreld gebore is en in beide gevalle niksseggend is. Hierdie leuen moet ten alle koste beveg word en dit kan slegs vanuit die Skrif gedoen word. Mense se persoonlike belewenisse of toevallighede wat met een of ander sogenaamde vloek mag sinkroniseer, moet steeds aan die Woord van God getoets word en alleen daarvolgens beoordeel word.

6. Samevatting

Van die enigste vloek wat in Bybel enigsins gewig dra of geldigheid het, naamlik die vloek wat die Here oor die mens uitgespreek het as gevolg van sonde, en wat dui op die regverdige oordeel van God met die implikasie van verlorenheid vir mense wat sonder Hom is, word duidelik in Gal 3:13 gesê: “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is.’” In Christus is die vloek van die sonde volgens Gal 3:14 (vergelyk ook met Kol 2:14) tot niet gemaak: “Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het.”

Wat alle ander vloeke betref, naamlik dié wat mense met die krag van ander magte of selfs in eie krag onder die Naam van God oor ander uitspreek, is daar geen rede tot vrees of kommer nie, aangesien dit geen erkenning in die Bybel geniet nie. Ons hoef dus self ook nie enige gewig daaraan te verleen, of onsself aan mense te steur wat dit wél probeer doen nie. Mense se verbeelding of persoonlike belewenisse en opinies kan nooit dieselfde gesagstatus as die Woord van God dra nie. Die enigste vloeke wat erkenning in die Bybel geniet het was gebou op die mag en oordeel van God – nooit op mense se idees en hulle invloed nie.

Voorstanders van vloeke vind hulle teologie en die meeste van hulle Bybelverwysings in die Ou Testament – die rede daarvoor is natuurlik dat die Nuwe Testament geensins sulke leerstellings regverdig nie, en geen gronde vir ‘n teologie van vloeke daar gevind kan word nie. Uit die aard van die saak is die Ou Testament vol voorbeelde van heidense praktyke wat onder die volk ingesypel het en groot skade in hulle aanbidding van die lewende God berokken het – hierdie heidense invloede beteken egter nié dat dit ooit ‘n aanvaarbare praktyk vir die mense van God geword het of deur die Here toegelaat is nie. Nêrens word daar boonop deur enige Nuwe Testamentiese skrywer gewaarsku teen generasievloeke of enige raad gegee oor hoe om sulke vloeke te “breek” nie. Indien daar enigsins waarheid in was, sou die Nuwe Testament nooit daaroor geswyg het nie. Bloot die feit dat die Nuwe Testament dit nie erken of verkondig nie, moet dus ‘n duidelike aanduiding wees dat dit nié ‘n Bybelse teologie is nie.


1,481 views1 comment

Recent Posts

See All
bottom of page