top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Soms is vrees goed...

“Moenie bang wees nie.” Hierdie woorde hoor ons dikwels in die Bybel. Eerder as ’n opdrag, is dit ’n uitnodiging om God se genadekring te betree. Soms word dit gebruik in ‘n konteks waar mense hulle omstandighede vrees (Jes 41:10; Jes 43:1 en 5) en soms waar mense deur God se magtige teenwoordigheid oorweldig word (Matt 17:7; Matt 28:5).

In die sielkunde is daar ’n term vir ongesonde religieuse vrees: Teofobie – angs weens God of godsdiens, gewoonlik geassosieer met die beeld van ’n wraaksugtige God, of die ervaring van toksiese sisteme binne religieuse groepe wat irrasionele druk op mense plaas.

Gelowiges ken ook ’n soort “gesonde vrees” vir God, wat ons met eerbied en ontsag vir sy grootheid en heerlikheid vertaal – Spr 1:7; Heb 12:28 en 29. Dit is nie om bang te wees vir die hemelse Vader nie, maar om Hom met diep respek en agting te dien. Hierdie is anders as die vrees wat ongelowiges vir God se geregtigheid sou hê – Luk 12:4 en 5; Heb 10:31.

Daar is egter nóg ’n vrees waarmee gelowiges soms worstel: die vrees dat God mense bang sal maak! Vandaar die poging om Hom “sagter” en “vriendeliker” aan te bied. Natuurlik is dit goed as God meer toeganklik vir mense word – Jesus se vleeswording is sekerlik die beste voorbeeld daarvan! Of dit egter ménse se taak is om God “veiliger” te maak, sodat Hy meer verteerbaar en hanteerbaar kan word, is ’n perd van ’n ander kleur. Gelowiges se taak is om Hom te volg – vir Wie Hy is, en op sý terme!

Gelowiges kan nie verbeter op God se toeganklikheid wat Jesus en die Heilige Gees reeds bewerk het nie! In Christus het God volkome bereikbaar geword, deur ons éérste te bereik – Joh 14:6-11. En tog het Jesus se toeganklikheid nooit beteken dat Hy die eise van dissipelskap afgewater het nie. Inteendeel, het sy oproep om Hom te volg, dikwels tot groot ongemak aanleiding gegee – Luk 9:57-62. Selfs sy bediening het by tye vrees by mense ingeboesem – Luk 8:36 en 37. Jesus het gewaarsku hoe ’n keuse vir Hom tot onderlinge konflik sou kon lei – Matt 10:34-39. Sy beeld van kruis opneem, het selfopoffering en selfverloëning veronderstel – Matt 16:24-26. Dit het neergekom op ’n sterwe in jouself (Joh 12:24-26) en ’n opstanding van Jesus ín jou – Gal 2:20. Vandaar dat Hy mense aangeraai het om eers die koste van dissipelskap te bereken – Luk 14:26-33. Nie almal was daartoe bereid nie – Matt 19:21-30.

Daar is ook “goeie vrees” in ons gehoorsaamheid aan Christus: ’n soort gemak met ongemak. Dit is die spanning tussen veiligheid en geborgenheid in Christus, en die onvoorspelbaarheid en onsekerheid van ’n lewe oorgegee aan Hom. In die woorde van Erwin McManus: “Jesus understood His purpose was not to save us from pain and suffering, but from meaninglessness. We are called to a path filled with uncertainty, mystery and risk. God would never choose for us safety at the cost of significance” – Joh 15:18-20; 1 Pet 4:12-16.

Moet ons dus bang wees dat God mense bang maak? Die vraag is eerder of dit OK is as die pad saam met Jesus soms ook vreesaanjaend is. Daar is twee soorte vrees: natuurlike ingebore vrees, en gekondisioneerde aangeleerde vrees. Nie alle vrees is sleg nie, en vrees is nie altyd sleg nie. Dit kan verlammend óf motiverend op ons inwerk, afhangende van die omstandighede. Dit kan ons beweeg tot groter dinge. In die Kronieke van Narnia, wanneer gekonfronteer met die leeu Aslan, vra Lucy: "Is He safe?" waarop mr Beaver antwoord: "Safe? Who said anything about safe? Course he isn't safe. But he's good. He's the King, I tell you. Aslan is not a tame lion…”


68 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page