top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Begin op die régte plek!




Openbaring is die laaste boek van die Bybel, wat beskryf hoe die uiteinde van alles sal wees: God oorwin! Voordat die Here egter aan Johannes gesigte gee van hoe dit in die tyd tussen Jesus se eerste en tweede koms gaan wees, neem Hy hom eers aan die begin van Openbaring in hoofstuk vier, na die belangrikste plek binne en buite die kosmos: die troonsaal van die hemel! God begin sy bekendmaking oor die finale hoofstuk van die wêreldgeskiedenis met ‘n klein kykie in die hemelse troonkamer. Daarmee gee Hy die regte perspektief op die gebeure wat in Openbaring volg: die beginpunt van die uitkyk wat gelowiges op die wêreld rondom hulle moet hê, is God op die troon. Te midde van die chaos en die woedende storms, is daar kalmte, rus en vrede in die hemelse troonsaal…

Wie in die troonkamer begin, begin met die regte benadering tot die lewe. Dáár sien ons God regeer, met alle mag en gesag oor die uiteinde van die kosmos. Wat ookal daarná sal gebeur, en hoe moeilik die omstandighede en die uitdagings ookal in die tussentyd mag wees, dit alles lyk skielik heelwat minder bedreigend en oorweldigend, omdat ons weet Wie die troon beset. Dit is presies wat Paulus in 2 Korintiërs 4:16-18 vir die gelowiges sê: ons raak nie moedeloos nie, want ons weet daar wag ’n nuwe heerlikheid op ons wat alles by verre oortref, omdat ons oog nie op die tydelike sigbare dinge rondom ons gerig is nie, maar op die ewige onsigbare dinge. Ons moet rég begin: ons moet elke dag in die troonkamer begin…

95 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page