top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Ek koop sélf my daaglikse brood





Het jy al die uitdrukking gehoor: “God help dié wat hulleself help?” Hierdie woorde word dikwels aan die Bybel toegeskryf, maar dit was Benjamin Franklin wat dit populêr gemaak het, terwyl ’n ander politikus, Algeron Sidney, dit al twee eeue eerder gesê het. Die eintlike oorsprong gaan so ver terug as die Griekse mitologie: 400 jaar voor Christus het Euripides in een van die Griekse legendes gesê: “Probeer dit eers self, en as jy dit nie regkry nie, vra God.” Die god Hercules het ook later iets soortgelyks in een van die antieke Griekse mites opgemerk: “God help diegene wat hulleself help.”

George Barna, die groot Amerikaanse navorser onder kerke, het in 2017 hieroor ondersoek gedoen, en hy het bevind dat 52% van Amerikaanse gelowiges dink dat dit in die Bybel staan én dat dit waar is. Maar staan dit in die Bybel? Nee! Is dit waar? Nee! Jesus self het ons anders geleer in Matteus 7:7-11. Hy stel ons bekend aan ’n Vader wat goed is, en wat goed vir ons sorg. In die “Ons Vader” het Jesus ons geleer om God te vra vir wat ons elke dag nodig het: “Gee ons vandag se brood.”

Bill Hybels skryf in een van sy boeke: “Gebed is onnatuurlik.” Hy bedoel daarmee dat om te bid nie vir die mens normaal is nie. Gebed druis in teen die algemene reëls van selfvoorsiening en selfstandigheid. Van kleins af is ons geleer om op ons eie voete te staan. Ons hou nie daarvan om van iemand anders afhanklik te wees nie. Dit laat ons swak voel, en in die natuur sal die swakke nooit oorleef nie. As ons dan die Bybel hoor sê dat ons God moet vra vir ons versorging, het ons moeite daarmee. Waarom moet ons vir God dinge vra, as ons dit in elk geval sélf kan doen, of sélf daarvoor kan werk? Waarom moet ons aan God die erkenning gee, as ons vir onsself kan sorg, en in elk geval sien dat mense wat nié bid nie, en nié aan God die erkenning gee nie, ook goed en suksesvol leef?

Die meeste mense volg die benadering: ek is die eerste linie – ek doen dit self. Maar wanneer ek dit nie self kan doen nie, dán sal ek bid.

En juis hier lê die probleem! Sodra daar dan “groot” probleme oor my pad kom, dinge wat ek nie self kan doen of kan regmaak nie, byvoorbeeld ’n ongeneeslike siekte of ’n natuurramp, dan wil ek skielik begin bid, en dan moet God ingryp en help. En as Hy dit dan nie doen soos ek dink of verwag nie, dan is ek kwaad en hou ek sommer op glo! Dan dink ek gebed werk nie, en dat God in elk geval nie luister nie of nie kan of wil help nie. Maar dit is tog nie eerlik of realisties nie. Hoe kan ek God gebruik soos ’n spaarwiel? Niemand dink ooit aan die noodwiel nie, totdat daar ’n pap band is. Dan trek ons skielik die spaarwiel nader! Maar God is nie ons noodwiel vir daardie enkele dinge wat ons nie self kan doen nie.

Praat jy met die gemiddelde mens wat God nie erken nie, dan loop die gesprek gewoonlik as volg: Waar kry jy alles wat jy elke dag nodig het? Ek koop dit! En waar kry jy die geld? Ek werk daarvoor! En waar kry jy die werk? Ek het daarvoor gekwalifiseer! En waar kry jy die kwalifikasies? Ek het die vaardighede ontwikkel! En waar kry jy die vermoëns om dit te ontwikkel? Ek het goeie gesondheid! En waar kom jou gesondheid vandaan? Ek kyk goed na myself, ek eet en leef gesond! En waar kry jy jou motivering daarvoor vandaan? Ek het goeie gene geërf! En so kan die gesprek aangaan. Ons kan onsself flous om te dink dat ons dit alles op ons eie regkry en verwerf.

Vra maar vir ’n gemiddelde kind: Wie gee vir jou kos? My ma! Waar kry sy die kos? Sy maak dit! Waar kry sy die bestanddele? In die winkel! Hoe kry sy die bestanddele? Sy koop dit! Waarmee koop sy dit? Met geld! Waar kry sy die geld? Sy werk daarvoor! Waar kom haar werk vandaan? Van haar baas! Waarom gee haar baas vir haar die werk? Sy het die talent daarvoor! Waar kry sy haar talent? Sy het daarvoor geleer! Waar kom haar geleerdheid vandaan? Van die skool! Min vra ons die dieper vrae: wie het vir jou die gawes, talente en vermoëns gegee om jou werk te kan doen? Wie gee vir jou jou gesondheid sodat jy kan werk? Wie gee vir jou jou lewe waarmee jy kos kan verdien? Waar kom die basiese bestanddele vandaan waaruit ons voedsel bestaan?

Neem brood as voorbeeld: hoeveel wonderwerke vind plaas voordat ons ’n brood het om te eet? Die brood word gebak van meel en water en sout en gis, wat alles uit die natuur kom: dit is graan wat groei deur grond, water, voeding en sonlig. Maar kan die boer dit self laat groei? Nee, groei en lewe is ’n wonderwerk uit die natuur! Kan die bakker self die hitte maak vir die brood om te bak, sonder die wette van die natuur en die nodige suurstof en energie? Nee! Die hitte wat nodig is kom uit die aarde. En waar kom die aarde vandaan? Dit is ’n gawe van God! 

’n Gelowige se benadering is anders: ons sien God as die Een wat alles voorsien. Dit is juis wat Jesus ons leer. God is die Skepper en Onderhouer van die heelal – en ook van my eie lewe. Hy is Versorger en Voorsiener van alles! Natuurlik impliseer dit nie dat God se hulp beteken dat ons die verantwoordelikheid op Hom afskuif nie. God se sorg versaak nie ons aanspreeklikheid nie. Ons kan nie agteroor sit en wag dat Hy alles doen nie. Ons het ’n roeping en ’n taak! Dit het God al in Genesis 1 bevestig, toe Hy die mens die opdrag gegee het om oor alles in die skepping te heers.

Om hierdie bede te bid, gaan nie oor sukses of welvaart nie – dit kan ander mense kry sonder om te bid. Dit gaan ook nie oor God vra vir daardie dinge wat ons nié self kan regkry nie – dit sou immers van God ’n noodwiel maak. Dit gaan ook nie oor die naïewe fantasie dat God alles uit die lug laat val vir dié wat bid nie – dit sou ons van ons verantwoordelikheid ontneem. Dit gaan ten diepste oor ons belydenis: anders as mense wat nie glo nie, en alles aan toeval of hulleself of omstandighede toeskryf, aanvaar ons God as ons Skepper, Onderhouer en Vader. Om te bid vir jou daaglikse brood, is om die erkenning aan God te gee vir alles wat jy het en kan doen. Jy erken dat dit nie uit jouself kom nie, maar dat God die gunstige omstandighede gee waarin jy kan floreer: lewe, krag, gesondheid, vaardighede, kennis.

Maarten Luther het gesê: “Jy bid in hierdie gebed vir alles wat jy nodig het om jou daaglikse brood te geniet.” Die gebed gaan dus nie slegs oor kos om te eet nie, maar om alles rondom dit wat nodig is sodat jy brood kan hê om te eet, én dit boonop kán eet, én dit met vreugde en dankbaarheid kan eet. As jy hierdie gebed bid, erken jy jou afhanklikheid van God. As jy hierdie gebed bid, erken jy die goedheid van God. As jy hierdie gebed bid, erken jy dat Hy kán voorsien, dat Hy wíl voorsien, en dat Hy wél voorsien! Maar miskien die belangrikste van alles: as jy hierdie gebed bid, erken jy dat jy Hóm, en nie jouself nie, met jou hele lewe vertrou…

94 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page