top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

God in die gapings




Ons menslike psige smag na patrone, orde en struktuur – hierin vind ons sekerheid en stabiliteit. Ons het behoefte aan beheer en kontrole, en verkry dikwels ’n betekenisvolle greep op die lewe deur ’n kausale benadering van oorsaak-en-gevolg wat ons troos dat alles met ‘n doel gebeur, of dat ons “eendag” sal verstaan.

Binne ‘n geloofsperspektief is dit moeilik om hierdie menslike dryf met die onverwagse en die onvoorspelbare te versoen. Ons val graag terug op oorsaaklike verklarings waar God die outeur van slegte gebeure word, of waar die Skrif in die profetiese verklaarder van onheil ontaard.

In onvoorsiene tye word die spanning tussen sekerheid en onsekerheid tot die spits gedryf, en word ons opnuut van die teenstrydighede tussen die “is” en die “is nie” bewus: mense is kompleks en onvoorspelbaar; die lewe is vol misterie; die werklikheid is gebroke, die wêreld is dikwels chaoties, met spontane en onverwagse prosesse te midde van ooglopende orde en struktuur.

Alles is nie so wetmatig gedetermineerd soos ons sou wou dink nie. God beheer ons nie soos pionne op ‘n skaakbord nie, en werk nie elkeen se heil op ’n voorafgeprogrammeerde rekenaar volgens ’n stel gekodeerde instruksies uit nie, maar neem ons saam met Hom op reis in ‘n bedreigende wêreld waar gebrokenheid en weerloosheid binne ons menslikheid ‘n realiteit is. Op hierdie reis is ons slegs van die Reisgenoot en die eindbestemming seker.

God is nie net in die reëlmatigheid en orde nie, maar ook in die chaos en wanorde. Hy is ook die God van Job, wat te midde van tragedie Homself as troos aanbied; Hy is ook die God van Paulus, wat voldoende genade gee wanneer die doring in die vlees of tronkstraf nie opgehef word nie; Hy is ook die God van Johannes die Doper wat steeds tragies sterf terwyl die Messias naby is…

Hierdie God kan in onsekere tye vir ons troos en hoop bied: nie deur onheil van ons weg te hou nie, nie deur veilige en gemaklike lewens te verseker nie, nie deur slegte dinge alleen vir “slegte” mense te reserveer nie, nie deur pynlike prosesse as “strawwe” te verklaar nie, maar deur Homself aan ‘n kruis te offer sodat Hy ons enigste troos in lewe én sterwe kan word…

92 views0 comments

Recent Posts

See All

コメント


bottom of page