top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Liggeraak en geaffronteer




Hierdie is die era van liggeraaktheid. Dit is die tyd van maklik aanstoot gee en aanstoot neem. Ons konteks is een waarin geaffronteerdheid nie net genormaliseer word nie, maar selfs aangemoedig en gevier word. Natuurlik word dit alles gedoen in die naam van geregtigheid, en dan gewoonlik ter wille van die ‘verontregte,’ maar dikwels binne die subjektiewe perspektief van die individu, wat ander graag in die kategorieë van onderdrukker of onderdrukte verdeel.

Mense voel gou beledig wanneer iets gebeur of gesê word wat teen hulle persoonlike mening, subjektiewe morele kompas of bevooroordeelde gevoel ingaan. Sodra dit gebeur, is die reaksie om beledig en geraak te voel, en dan daardie ‘oortreder’ te kanselleer en in die openbaar te beskaam of te straf. Veral in die sekulêre kader waar die Bybelse wêreldbeeld nie die norm is nie, word hierdie soort emosionele optrede van wraak en weerwraak klakkeloos geregverdig.

Gelowiges moet egter waak teen lang tone wat maklik raakgetrap kan word, veral wanneer dit gaan oor opbouende debat of persoonlike kritiek. Liggeraaktheid is teen God se wil, net soos ongevoeligheid en kwaadwilligheid teen sy wil is: 1 Korintiërs 13:5. Soms meen ons dat fyngevoeligheid en kleinserigheid ons reg is. Ons onttrek of ons val aan: ons raak krities en afbrekend, en glo dat ons geregtig is om so op te tree. Maar ons is nie – die liefde is nie liggeraak nie, en die liefde is God se wil.

Hoekom is ons dikwels so fyngevoelig? Ons ly soms aan ‘n slagoffermentaliteit: ons voel verontreg – ons kry nie wat ons meen ons verdien nie. Dit ly tot selfbejammering of woede: wanneer ons die slagoffer voel trek ons terug en vermy die ander persoon of situasie – ons vlug; wanneer ons kwaad word, reageer ons met wraak en wil ons die ander persoon terugkry of straf – ons veg. Ons voel tenagekom, beledig en verneder.

Wanneer iemand uit kleinserigheid optree, is dit belangrik om nie met wraak te reageer nie: ons moenie die persoon summier uitskakel of afkraak nie. Ons moet verstaan wat agter die reaksie sit – dalk is dit manipulasie of moedswilligheid, maar dalk is dit legitieme seer of vrees. Ons moet mekaar help om hierdeur te groei. Don Miguel Ruiz het gesê: “It is not what I am saying that is hurting you; it is that you have wounds that I touch by what I have said…”

Natuurlik moet ons kan onderskei tussen mense wat ons kwaadwillig seermaak, en mense wat eerlike legitieme kritiek in ons lewens inbou. In beide gevalle vra die Here van ons om nie met liggeraaktheid te reageer nie. Ons reaksie van kleinserigheid verander niks; ons kan nie noodwendig die onregverdigheid van die lewe systap nie; ons kan nie altyd ons omstandighede of interaksie kies nie, maar ons kan wel kies hoe ons daarop reageer:

(i)                  Kies om kritiek te sien as ‘n uitdaging om te groei

Indien dit legitieme kritiek is, stop, tel tot tien, moenie oorhaastig reageer nie, neem dit eerder na die Here en leer daaruit. Kyk hoe jy kan verbeter. Moenie bang wees vir mense se insette nie – dit kan jou net help. Groei is natuurlik en God se wil. Indien dit onregverdige kwaadwillige kritiek is, kies om nie te reageer deur te veg of te vlug nie, maar deur dit na die Here te neem vir genesing en vrede. Vergewe daardie persoon wat jou doelbewus seergemaak het, sodat jy kan aangaan met jou lewe en kan genees van daardie wonde.

(ii)                Vind jou identiteit in Christus

Matteüs 22 leer ons om ons naaste so lief te hê soos onsself. Ons moet dus onsself liefhê – nie met ‘n selfgesentreerde liefde wat net met die eie-ek behep is nie, maar deur te ontdek dat ek in Christus ‘n nuwe mens is wat nie meer die slaaf van ander mense se woorde of goedkeuring is nie. In Christus is ek geliefd en genoeg.

(iii)              Lê jou reg neer om beledig te voel

Ons voel dis geregverdig om ons te vererg of kleinserig te wees. Ons meen dat die ander persoon alleen skuldig is, en dat ons daarom so mag optree. Gee jou reg om so te voel en te reageer aan die Here weg. Onthou, dit gaan nie oor jou nie. In die NLV word Lukas 9:23 vertaal: “As julle My volgelinge wil wees, moet julle julle eie-ek prysgee…” Dit is nie die groot “Ek” wat in my lewe moet regeer nie, maar die groot “Ek is.”

 

89 views0 comments

Recent Posts

See All

Commenti


bottom of page