top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Lewe spreek en Woordverklarings – wat sê die Woord?

1. Inleiding

Lewe spreek en Woordverklarings is geen Bybelse praktyk nie, maar vind eerder oorsprong in die vroeë middeleeue toe heksery algemeen bekend was en wit magie (die gebruik van “positiewe” bonatuurlike kragte en towery) aangewend is om mense te beskerm en genesing, sukses of geluk te verseker. Hierdie gebruik grens aan waarsêery of fortuinvertellery gekombineer met suggestie wat voortspruit uit die mantiek en spiritisme, en is niks anders nie as positiewe vloeke of beswerings in samehang met teksgedeeltes wat as geestelike towerformules funksioneer en veronderstel dat daar magiese krag in woorde opgesluit lê. Binne die Hindoeïsme en Boedhisme was

hierdie nog altyd ‘n algemene verskynsel, terwyl New Age Ghurus dit verwesters het tot die praktyk van positiewe denke. In ‘n Christelike konteks is hierdie praktyk verder vergeestelik tot ‘n gebruik waarin Bybelverse en veral die beloftes van God niks anders nie as skriftelike gelukbringers met beskermingsmag geword het, waardeur die seën van God oor mense se lewens uitgespreek en verseker kon word.

Hieragter sit die foutiewe uitgangspunt dat gesproke woorde mense se lewens kan verander – wat hiervolgens positief of negatief gespreek word, word bewaarheid. God die Vader se versorgingskrag, Christus se verlossingskrag en die Heilige Gees se vernuwingskrag speel dus ‘n mindere rol in die uitspeel van gebeure. Mense se woorde het die beheer oor mense se lewens, en alhoewel God daarby betrek word, is dit die mens se wil en aksie wat uiteindelik die voordeel verseker. Sonder die aksie van die mens – die uitspreek van die goeie – sal die goeie nie plaasvind nie, maar die bose die oorhand verkry. Op hierdie wyse word die hef uit God se hand geneem en die mag in die hande van mense geplaas.

2. ‘n Bybelse verwarring

Lewe spreek en Woordverklarings is ‘n populêre gebruik onder sekere spiritualiteite wat as ‘n bepaalde bril funksioneer waardeur mense na die Bybel kyk en alle verse wat iets met spreek, woorde, geloof, die tong of seën te make mag hê daarvolgens herinterpreteer. Eerder as om op die verantwoordelike lees van die Woord te konsentreer, word hierdie gebruik gebaseer op die “getuienisse” van mense wat positief gespreek het en dit het gebeur – hierdie gebeurtenisse word nie as toeval beskou nie maar eerder as die resultaat van geloof wat waar geword het omdat dit positief uitgespreek is. Natuurlik word daar nié getuig oor die vele kere toe die goeie met dieselfde sekerheid en entoesiasme gespreek is en dit nié gebeur het nie…

Een van die sentrale tekste wat deur hierdie bril gelees word en vir die begronding van lewe spreek aangewend word, vind ons in Spr 18:21: “Die tong het mag oor dood en lewe.” Ongelukkig word vers 20 voor hierdie vers sowel as die tweede deel van vers 21 nooit daarmee saam gelees nie, waar die konteks van die uitspraak juis vir ons duidelik word: die krag van die tong word metafories en nie letterlik nie verstaan, en die bedoeling hiervan is die wyse gebruik van woorde wat tot goeie gevolge sal lei. Hier is geensins sprake van lewe spreek of seëninge uitspreek nie – eerder handel dit oor mense wat kwaadwillig praat.

‘n Ander populêre teks wat foutiewelik gebruik word om die lewe spreek praktyk te probeer begrond, is Jes 55:11 waar die Here sê dat die woord wat uit sy mond kom, nie onverrigter sake na Hom toe sal terugkeer nie maar sal doen wat Hy gedoen wil hê. Hier lê die misverstand egter daarin dat dit God is wat spreek – nié mense nie; hierdie uitspraak geld dus geensins vir die woorde van mense nie, maar uitsluitlik vir die woorde van God. Dieselfde kan gesê word van Rom 4:17-22 wat ook deur die lewe spreek voorstanders vir hierdie doel aangehaal word, waar dit uitsluitlik oor Abraham se geloof in Gód se woord gaan wat dinge wat nie bestaan nie in die lewe kan roep.

2 Kor 4:12 en 13 wat ook soms aangewend word om hierdie praktyk te bekragtig, word geheel en al verkeerd geïnterpreteer: hier gaan dit nié oor spreek of geloof nie, maar prediking of woordverkondiging. Mrk 11:22-24 en Mat 21:21 en 22 word ook dikwels ingespan om die lewe spreek praktyk te ondersteun, alhoewel die konteks hier met gelowige gebed te make het eerder as die kragtige uitwerking van die sprekinge van mense. Net soos in Jak 3:9-12 word die woorde van mense hier direk in verband gebring met hulle konkrete leefwyse en getuienis, wat alleen die resultaat van God se werking in hulle lewens is, en niks te make het met die inherente krag van die tong of menslike woorde nie.

‘n Teksgedeelte soos Ef 6:10-18 word ook gebruik om mense te wys op die beskerming wat hulle teen die bose moet opneem. Weereens moet egter gewys word daarop dat hierdie wapenrusting metafories bedoel word, terwyl vers 18 – die samevatting van hierdie gedeelte – dit duidelik stel dat alles deur gebed (en met smeking, nié opdragte gee of geloofseise stel nie) moet geskied. Ook vers 10 – die inleiding van hierdie perikoop – word misgelees, naamlik dat ons ons krag in God en sy groot mag moet soek, en nié in ander uiterlike dinge of praktyke nie. God sélf rus immers gelowiges met hierdie wapenrusting toe; dit kom nie uit onsself of deur onsself nie – Ef 6:11 en 13.

2 Kor 4:18 is een van die tekste wat verkeerdelik gebruik word om mense daarop attent te maak dat hulle nie in die sienlike moet vaskyk nie, maar met die geloofsoog reeds op die onsienlike – dit wat nog nie gebeur het nie maar wat ons wel in geloof kan sien en voorspel – moet fokus. Sodoende kan dit hiervolgens waargemaak word omdat ons daarin glo en dit reeds so in die geloof uitspreek. Binne die konteks van 2 Kor 4 en 5 word dit egter duidelik dat dit hier eerder gaan oor Paulus se vashou aan die Here ten spyte van swaarkry en vervolging – hy ontvlug of ontken dus nie sy omstandighede deur lewe daaroor te probeer spreek nie, maar verstaan wel dat dit van korte duur is, en daarin is sy hoop juis geleë. Rom 10:17 word ook foutiewelik en buite konteks aangewend om die giftige gedagte te plant dat dit wat ‘n mens hoor – dus wat jy in die geloof verbaal uitspreek en met jou eie ore sintuiglik waarneem – so sal gebeur. Weereens handel hierdie konteks egter oor prediking.

Ongelukkig word bykans elke teks wat vir die spreek van lewe of dood uitgelig word, totaal buite konteks aangehaal. Hierdie bril waarmee die Bybel gelees word, verblind die leser egter vir sy of haar eie blindekolle, terwyl op ‘n onverantwoordelike wyse met die Bybel self omgegaan word. Die Skrif word aangewend as ‘n kits-resepteboek of towerformuleboek wat ‘n vreemde praktyk moet ondersteun wat geen begronding binne die historiese Christelike of Joodse konteks vind nie, maar wél diep wortels binne heidense praktyke het.


3. Gebed en lewe spreek

Volgens die Bybel lê die krag van gebed nie in die gebed of tegniek of woorde sélf nie, maar in die Gees wat die gebed aanhoor. So byvoorbeeld moet Joh 14:13 en 14 nie foutiewelik verstaan word dat Jesus se Naam die towerformule word waardeur gebed verhoor word nie, maar eerder dat Jesus bedoel dat wat ookal in sy Naam (namens Hom en dus volgens sy wil – sien 1 Joh 5:14 en 15) gebid word ontvang sal word. Jesus het ons juis in Mat 6:5-8 gewaarsku teen die misbruik van gebed deur die omhaal van baie woorde of die uiterlike fanfare wat in die openbaar uitgespeel word. Ook Mat 21:21 en 22 waarna reeds hierbo verwys is, kan nie verstaan word as ‘n reseppie waarmee God se positiewe reaksie op geloof of gebed verseker kan word nie; veral moet geloof hier nie beskou word as ‘n waarborg dat God sal doen waarvoor Hy deur die individu se geloof vertrou word nie. Geloof geskied altyd steeds binne die konteks van God se wil en kan nooit ons wil op God afdwing nie, al word hóé geglo of vertrou. Selfs al word opreg geglo kan stééds verkeerd geglo word.

Vandaar word nié elke begeerte waarvoor gebid word, outomaties waar gemaak nie – Jak 4:2b en 3; op dieselfde wyse sal nié elke woord wat gespreek word soos ‘n wenresep lewe verseker nie. In Jak 4:13-17 waarsku Jakobus ons juis teen selfversekerde uitsprake wat lukraak oor die toekoms gemaak word. Lewe spreek voldoen dus geensins aan die vereistes wat die Bybel vir ons rondom gebed stel nie. Hier kom niks tot uiting nie van ‘n afhanklikheid aan God, ‘n berusting in sy wil of die geloofsvertroue dat Hy sal doen wat Hý goeddink en weet die beste is.

Die beginsel van die derde gebod van Eks 20:7 wat te make het met die misbruik van God se Naam as kragwoord om groter krag aan mense se woorde te verleen, en waarna Jesus ook indirek in Mat 5:33-37 verwys, sou sekerlik ook kon geld vir ander kragwoorde – selfs al is dit ook positief bedoel – wat kwansuis krag en gewig aan mense se spreke moet gee. In Mat 6:13 leer Jesus ons om vir beskerming teen die bose te bid – hierdie gebed is egter geen towerformule of beskermingspreuk nie, maar die eerlike erkenning van ons afhanklikheid aan God en sy mag wat oor ons heerskappy voer.

4. God se seën en lewe spreek

God se seën word nêrens in die Bybel verstaan as ‘n reg wat mense kan toe-eien nie – dit geskied altyd vanuit God se soewereiniteit en genade en beteken ook nie noodwendig materiële of fisieke welvaart nie. Ons kan dus geensins ‘n aanspraak op die goeie maak op grond van korrekte formules of tegnieke nie – God is vrymagtig en doen soos Hý wil. Wanneer Hy vir ons die goeie wíl, impliseer dit nié ons eie definisie van wat goed is nie. Selfs die Here se talle beloftes in die Bybel kan nooit buite hulle eie konteks verstaan word en summier net so op die leser daarvan se eie konteks of omstandighede oorgedra word nie.

Vanuit die lewe spreek teologie word die verkeerde aanname gemaak dat ‘n gelowige bevry word van armoede, siekte en lyding – alles nog tekens van ongeloof en die ou lewe sonder Christus. In die nuwe lewe, soos die lewe spreek se teologie dit verwoord, waarborg God se seëninge welvaart, sukses, gesondheid, veiligheid en geluk. Hierdie nuwe lewe moet nou in die geloof afgebid word deur lewe op elkeen van hierdie terreine van die gelowige se lewe te spreek. Wie dit nié so doen of ervaar nie, se geloof is eenvoudig nie “groot” genoeg nie.

Die aanvanklike simplistiese Ou Testamentiese teologie van oorsaak-en-gevolg (dit gaan goed met die regverdige en sleg met die onregverdige – byvoorbeeld Spr 12:21) waarop die lewe spreek praktyk ook valslik gegrond is, word alreeds in Job en Prediker weerspreek, en veral in die Nuwe Testament deur Jesus se eie prediking en Paulus en Petrus se briewe reggestel. Hier word God se seën in verband gebring met die geestelike eerder as die fisieke of materiële. Jesus waarsku sy volgelinge juis in Mat 8:19-22, Mat 9:15, Mat 10:16-39 sowel as in sy profetiese rede in Mat 24 en 25 dat daar wat die fisieke dimensie betref moeilike tye en swaarkry vir hulle sal voorlê.

In 1 Kor 1:18 tot 1 Kor 2:5, 2 Kor 4:7-11 en 2 Kor 11:21-33 hoor ons van die gebrokenheid van die gelowige in teenstelling met die oënskynlike suksesverhale van die Korinte-gemeente met hulle wanbegrip van wat dit beteken om ‘n gelowige te wees. In veral die Nuwe Testament word dit duidelik dat slegte dinge selfs met goeie mense kan gebeur; lyding en vervolging, pyn en swaarkry, vernedering en seerkry, word nie noodwendig beskou as iets sleg of boos nie, maar eerder as ‘n geleentheid om te groei of te getuig – 1 Pet 4:12-16. Jesus sélf bring die perspektief van swaarkry ter wille van sy Naam in Mat 10:34-39 en in Mat 16:24 en 25 sowel as Mat 10:38 en 39 roep Hy ons op om in onsself te sterf. Waar lewe spreek dui op selfgesentreerdheid en diens aan die wil van die eie ek, vra Christus ons om ons kruise op te neem, aan onsself te stérf en Hom onvoorwaardelik te volg – selfs al is dit tot ons eie nadeel en bring dit groot ongemak soos in die geval van Petrus (Joh 21:15-22).

Hiermee kom die agenda van lewe spreek duidelik na vore: dit gaan meestal oor sukses, welvaart en gemaksugtigheid. Ongelukkig het dit gewoonlik te make met die persoon wat die praktyk beoefen se eie verstaan van wat God se seën en goedheid behels: God word dus ingespan vir ‘n eie agenda binne ‘n beperkte menslike begrip van wat dit sou beteken om ‘n geseënde van God te wees. Wie met sy of haar eie woorde as gevolg van ‘n eie skeefgetrekte verstaan van die Woord aan God wil voorskryf, laat God nie langer toe om waarlik Gód te wees nie; dit begin al te veel lyk na die misbruik of manipulasie van God.

5. Geloof en lewe spreek

Lewe spreek word deur die meeste voorstanders daarvan verstaan as geloof wat in sterk vertroue uitgespreek word. Deur positiewe vertroue oor die toekoms, gesondheid of goeie dinge in geloof uit te spreek, glo hulle, bevestig dit hulle groot geloof in God wat waar gemaak sal word omdat God hulle geloof sal beloon. Geloof word dus gesien as ‘n subtiele hefboom waardeur God beweeg kan word en bepaalde uitkomste verseker kan word. Sodoende ontaard dit in ‘n addisionele aksie of teenprestasie waardeur God se heilsdade bewaarheid moet word terwyl die vertroue eerder in die geloof sélf as in God gestel word. Op hierdie wyse word meer op mense se geloofsprestasie as op God se beloftes staatgemaak. God se genade speel dus nie meer die sentrale rol nie. Die kernwaarheid van die evangelie, naamlik dat ons gered en geseën word op grond van genade en nié verdienste nie, word daarmee dramaties genegeer. Sodoende het geloof in bygeloof ontaard waar iets ánders in die plek van God en sy reddingsplan gestel word. Die krag lê nie meer in God in Wie geglo word nie, maar in die een wat glo of in sy of haar sterk geloof.

Geloof is egter nié ‘n reddingsaksie nie, maar ‘n positiewe reaksie op God se reddingsaksie. Geloof self red mens nie – nét God red. Geloof is bloot die reaksie op God se genade; ‘n gelowige aanvaarding van wat rééds deur God gedoen is en in Christus waar is. Geloof is juis om al jou hoop op Iemand anders as jouself te plaas: dis ook om nie jou hoop op geloof te plaas nie, maar op Christus. Indien dit anders verstaan word, word geloof ‘n instrument wat God kan beweeg – ‘n bo-en-behalwe aksie wat eerder op geloof as op God vertrou. Geloof word dan meer belangrik as God se beloftes of soewereiniteit. Verlossing hang egter nie af van ‘n mens se geloof nie, maar van God se genade. Geloof aanvaar slegs daardie verlossing op grond van wat die Heilige Gees rééds in mense se harte gewerk het. Geloof is vertroue in God en nie vertroue in geloof of in die mense wat glo nie; geloof is ‘n verhouding van liefde – dis nie ‘n hefboom of magspel waardeur mense God kan beweeg nie!

Rom 10:9 en 10 word soms verkeerdelik aangewend om die lewe spreek praktyk met geloof in God in verband te bring. In hierdie konteks gaan dit egter oor verlossing (vers 10) wat met ‘n geloofsbelydenis in Christus as Verlosser en Oorwinnaar gepaard gaan – nié om lewe spreek ter wille van die goeie resultate of seëninge wat dit moet oplewer nie. Gewoonlik word slegs die eerste deel van vers 9 aangehaal, terwyl die tweede deel, “en met jou hart glo…” misgelees word, wat juis op geloofsvertroue wég van die self dui eerder as op ‘n skeefgetrekte selfvertroue of veral ‘n valse vertroue in geloof sélf. Geloof kan egter nie op ’n animistiese wyse verstaan word nie, naamlik dat dit geloof sélf is wat krag besit nie – die krag lê alleen in die Een in Wie geglo word. Daardie krag word ook nie vrygestel ómdat daar geglo word nie, maar alleen omdat God binne sy vrymagtige wil besluit om op ’n bepaalde wyse te reageer.

Geloof word nooit in die Bybel beskou as ‘n selfstandige entiteit waarin “geglo” moet word nie – hetsy dit geloof is vir regverdiging óf seëninge. Geloof is in ander woorde nié ‘n prestasie of ‘n kwalifikasie soos wat die lewe spreek praktyk dit voorhou nie, nog minder ‘n bykomstige aksie wat Christus se heilsdade moet waarmaak, maar eerder ‘n afhanklike reaksie en gehoorsame antwoord op die vrymagtige Gees se werking in ‘n begenadigde mens se lewe. Geloof sélf is egter nie die verlossing nie, maar is alleen ‘n gawe van God: Ef 2:8 en Fil 1:29. Geloof is nie ‘n verlosser nie – Jesus is! Christus alléén bring die verlossing, en geloof bevestig slegs daardie verlossing in die lewe van die een wat glo.

Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 22 bevestig dat geloof nié ‘n verlosssingsaksie opsigself is nie: “Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n halwe Verlosser is.”

Volgens die Heidelbergse Kategismus vraag 21 is ware geloof nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees (en nie lewe spreek of positiewe denke nie) deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God my uit loutere genade slégs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Heb 11:1 word soms hier ingebring om aan te toon dat deur te spreek oor dinge wat ons nog nie sien nie, ons dit in die geloof kan waar maak. Vers 3 word verkeerdelik beklemtoon om te wys op die krag van woorde wat iets tot stand bring – weereens word die unieke skeppingswoord van God met die woorde van mense verwar. Binne die groter konteks handel dit hier egter oor geloofsvolharding (Heb 10:36) en nié die spreek van lewe nie – die lewe waarna hier verwys word is die ewige lewe wat aan diegene gegee word wat in Christus glo, en is geensins ‘n menslike weergawe van ‘n goeie of geseënde lewe nie.

Lewe spreek kan dus nie met geloof in God verwar word nie. Geloof is ‘n vaste vertroue op God self en nié op die tegniek van spreek of dink of glo nie. Geloof is vertroue in God en nie vertroue in geloof nie. Vandaar is geloof nie ‘n irrasionele sprong in die duister nie, maar ‘n vaste en berekende sekerheid dat God in alle opsigte betroubaar is, selfs wanneer dinge anders uitwerk as die ooglopende verwagting of menslike persepsie. Geloof is juis ‘n wegkyk van myself na Iemand groter as ek, terwyl lewe spreek die fokus terug op die potensiaal van die eie-ek plaas wat kwansuis die geloof of vermoë besit om dinge in eie guns te beweeg – die afhanklikheid van God en sy vrymagtigheid om te doen soos Hý wil speel dan ‘n sekondêre rol. In Jak 2:19 word ons juis gewaarsku teen geloof wat nie op ‘n intieme verhouding met die lewende God gebou is nie. Gelowiges het alleen ‘n sekerheid gebou op die vastigheid van die evangelie van Jesus Christus, en nié op die sekerheid van spreke of geloofsprestasie waardeur iets vermag kan word nie.

6. Die krag van die tong

Nêrens in die Bybel word die krag wat met die tong geassosieer word letterlik verstaan nie; die gesag agter woorde lê nié in die tong of die woorde self nie. Hierdie verkeerde verstaan daarvan is niks anders as bygeloof en animisme nie en word eerder binne die okkulte gevind. Bygeloof word juis gedefinieer as ‘n valse geloof met die klem op geheimsinnige invloede of magte buite God. Selfs wanneer Gód op hierdie wyse misbruik word, verander dit in afgodery omdat Hy valslik as vrymagtige God misken word. Soos die Heidelbergse Kategismus vraag 95 dit stel: “Afgodery is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.”

Al die teksgedeeltes wat handel oor die effek van die tong en woorde, en wat klakkeloos gebruik word om die lewe spreek teologie te onderskryf, soos byvoorbeeld Spr 12:18, Spr 15:4, Spr 18:20 en Ps 34:13, het alleenlik te make met die skadelike effek van die tong wanneer dit kwaadwillig spreek, maar nié met bonatuurlike krag wat kwansuis in die tong self of in die spreek van woorde sou lê nie. In die tong as natuurlike biologiese liggaamsdeel is daar géén bomenslike of supernatuurlike krag opgesluit nie, en so ook nie in die fisiese spreek van woorde nie. Alleen binne die spiritisme of in die wêreld van fantasie funksioneer die tong en woorde op hierdie vreemde wyse.

Indien die tong dan nie insigself krag het nie, waarin lê die gevaar van die tong volgens die Bybel? Volgens Jak 3:1-12 is die tong wél gevaarlik; let egter op die konteks van die uitsprake in vers 1 – dit gaan oor lering en prediking. Die mag wat die tong hier het, het egter niks met ‘n bonatuurlike krag in die bonatuurlike dimensie te make nie, maar liewer met die fisiese seer en skade wat die tong van ‘n kwaadwillige mens ander kan berokken. Daar lê géén bonatuurlike krag in die tong self nie; uitsprake van mense kan sonder twyfel seermaak en emosionele skade berokken, maar niemand hoef dit te glo of te aanvaar nie. Jesus waarsku ons in Mat 12:36 en 37 om te waak teen ligsinnige uitsprake; ook hier gaan dit oor die lewens van mense wat in lyn met hulle woorde moet wees. Alhoewel Jesus nie hier na die praktyk van lewe spreek verwys nie, is die bedoeling wel in die algemeen dat mense met groot omsigtigheid moet spreek.

7. Vrees vir vloeke en negatiewe woorde

In Luk 10:19 beloof Jesus dat Hy aan die twee en sewentig die mag gee om teen die bose vyand op te staan, sodat daardie magte hulle geen skade sal berokken nie. Weereens beteken dit nié dat die mag of beskerming in onsself opgesluit lê nie – Hý en Hy alleen gee dit aan ons volgens Ef 6:10. Christus is die hoof oor elke mag en gesag – Kol 2:10. Geen engele of magte of kragte kan ons van die liefde van God skei nie (Rom 8:38 en 39); as God vír ons is, kan niemand teen ons wees nie (Rom 8:31); omdat God gelowiges vrygespreek het kan niemand hulle aankla nie (Rom 8:33). Géén woorde van mense, vloeke, uitsprake, beledigings ensomeer kan dus énigiets teen ons vermag nie. Indien vleis wat aan afgode geoffer is geen mag oor gelowiges uitoefen nie (1 Kor 8:1-13) geld die beginsel in dieselfde mate ook vir beswerings of vloeke in die naam van afgode of bonatuurlike kragte.

Wie hierdie dinge vrees, glo in die krag van die okkulte eerder as die oorwinning van Christus. Satan se mag is gebreek en volgens Kol 2:15 is elke mag en gesag ontwapen. Alle mag in die hemel en op die aarde behoort volgens Mat 28:18 aan Christus. Volgens 1 Joh 3:8 het die seun van God juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. Jesus self vertel in Mat 12:28-30 hoe die koninkryk van God inderdaad tot by ons gekom het omdat Hy die sterk man oorweldig het, vasgebind het en sy eiendom teruggeneem het. ‘n Valse vrees word egter gekweek wanneer mense begin glo dat dood oor mense gespreek kan word en lewe spreek as teenvoeter gebruik moet word om hulle te beveilig of te bevoordeel. Sodoende verkry vrees opnuut ‘n houvas op mense, wat hulle deurlopend onder die spanning laat leef dat iemand die mag sou hê om dood oor hulle te spreek en hulle elke doodspreking met ‘n lewespreking moet weerlê. Hierdie valse leerstelling maak ‘n bespotting van God se oorwinning oor die bose.

In Christus het daar nie alleen oorwinning oor die bose en sy praktyke gekom nie, maar ook oor die vrees vir die bose en sy praktyke. Volgens Joh 10:28 en 29 kan niks of niemand ons immers uit die hand van die Here ruk nie. Indien gelowiges nie deur bose magte gebind kan word nie (2 Kor 6:16 na aanleiding van 1 Kor 3:16 en 1 Kor 6:19) geld dit sekerlik in dieselfde asem vir die bindinge van woorde. Wie enigsins nog aan die oppermag van God twyfel, kan groot baat by Kol 1:15-20 vind. Jesus het immers self gewaarsku dat ons nie vrees moet hê vir diegene wat die liggaam – die aarde dimensie – kan doodmaak of bedreig nie (Mat 10:26-31 en Luk 12:4-7) maar eerder Hóm moet vrees wat mag het oor die hiernamaals en die geestelike dimensie.

8. Wie is werklik in beheer van die toekoms?

Kan ons waarlik ons lewens met ons monde beheer? Ons krag lê immers nie in die tong nie, maar in God – ons kan enersyds nooit deur woorde beskerm word of andersyds daardeur aan Hom voorskryf nie. Volgens Spr 16:9, Spr 16:33, Spr 19:21, Spr 20:24, Spr 27:1 en Klaagl 3:37 en 38 is dit alleen die Here wat die toekoms bepaal. Pred 10:14 bevestig dat die dwaas aanmekaar praat, maar géén mens weet wat kom of sal gebeur nie – selfs nie eers wanneer iemand in geloof spreek is dit ‘n waarborg dat die uitspraak bewaarheid sal word nie. Lewe spreek plaas die beheer van die mens se lewe terug in sy of haar eie hande. God se krag word sodoende vir die mens self toegeëien – woorde, spesifieke tegnieke en menslike aksies kan nou volgens hierdie valse begrip bepaalde uitkomste verseker.

Die unieke Goddelike eienskap van woorde wat dinge in die lewe roep soos Genesis 1 ons leer, eien mense op hierdie wyse vir hulleself toe. Volgens Num 23:8 kan alleen die Here seën en vervloek. Sodra die uitgangspunt ingeneem word dat mense hulle eie toekoms met positiewe woorde kan beïnvloed, trek dit ‘n soliede streep deur die waarheid van die genade-evangelie sowel as Christus se soenverdienste aan die kruis. Indien mense met hulle eie woorde beheer van hulle lewens kan neem, is God nie meer nodig nie. In Jak 4:15 gee Jakobus goeie leiding aan elkeen wat in valse selfvertroue uitsprake oor die toekoms maak: dit word beskou as grootpratery en sonde.

9. Ontduiking van verantwoordelikheid

Die praktyk van lewe spreek is niks anders as ‘n ernstige ontduiking van verantwoordelikheid nie. Dit skep die valse persepsie dat woorde alles sal regmaak. Hoe jy leef en optree teenoor ander mense maak nie soveel saak nie solank jy net op God fokus en lewe oor jouself uitspreek (Jak 3:9 en 10). Lewe spreek maak alles bonatuurlik en magies reg. Geen aanspreeklikheid is nodig nie omdat dinge maklik op God afgeskuif kan word en Hy alles met ‘n towerstokkie moet herstel.

Sodoende word die verantwoordelikheid wat die Here op ons plaas genegeer, terwyl aan mense “mag” toegeskryf word wat die Bybel nié aan hulle gee nie. Lewe spreek is ‘n maklike uitweg om moeilikheid van die voorstoep af te hou, maar word ongelukkig ook ‘n ketting waardeur mense opnuut onder die wet geplaas word. Dit gebeur wanneer mense begin glo dat indien hulle nie elke dag oor letterlik elke situasie lewe spreek nie, slegte dinge oor hulle sal kom. Ook gebeur dit wanneer mense so in vrees begin leef vir die moontlike uitspreek van dood of negatiwiteit dat hulle met alle geweld daarvan wegskram. Tragies is die feit dat Christus se oorwinning betekenisloos word en mense van vooraf onder die mag van die bose begin leef.

10. ‘n Bybelse alternatief vir lewe spreek

Alhoewel die Bybel ons nooit oproep om lewe te spreek nie, word ons wel gereeld en duidelik opgeroep om vanuit God se oorvloed te lewe. Hierdie oorvloed het egter níks met materiële welvaart of sukses of gesondheid te doen nie, en beteken ook nie noodwendig ‘n gemaklike of veilige lewe nie. Telkens hoor ons die oproep tot ‘n lewe van vreugde en dankbaarheid. Hierdie vreugde en dankbaarheid word egter nié gevind binne onsself of die ideale omstandighede wat ons vir onsself in die vooruitsig stel nie. Inteendeel, vind ons vreugde en oorvloed in Christus desondanks wat in ons lewens gebeur.

So is die oproep in Fil 4:4 byvoorbeeld dat gelowiges met vreugde moet lewe ten spyte van moeilike omstandighede – hierdie vreugde word in die Here self gevind en nié in goeie of die regte omstandighede nie. Fil 4:6 se gebedsoproep tot smeking weerspreek die lewe spreek gedagte, terwyl die opdrag om met danksegging te bid bedoel is om gelowiges daaraan te herinner dat hulle in geloof en dankbaarheid moet lewe – hulle moet dus raaksien wat rééds in Christus ‘n werklikheid is en nie hulle eie weergawe van die werklikheid wil skep deur lewe daaroor te spreek nie. In Kol 4:2 is die oproep tot gebedsvolharding weereens aan ‘n dankbaarheidslewe gekoppel.

Wanneer Paulus in Kol 4:3 en 4 vra dat daar vir hulle gebid moet word, lê die klem op God wat die deur vir die evangelie moet oopmaak en nié op die gelowiges wat God moet beveel om op te tree bloot omdat hulle lewe spreek of vestings met woorde afbreek nie. In hierdie selfde trant kom die oproep in 1 Tess 5:16 tot 18 waar blydskap, gereelde gebed en dankbaarheid as ‘n bepaalde leefwyse wat Christus van ons verwag met mekaar in verband gebring word. Gelowiges leef dus vanuit Christus se nuwe lewe wat Hy reeds in sy volheid aan ons geskenk het en wat deur die Heilige Gees gewaarborg word sonder dat ons daaroor hoef te spreek. God het alreeds finaal en volkome deur sy Woord gespreek.

983 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page