top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Liefde is om nóú te gebruik




Liefde het ‘n gebruik-teen-datum: dit kan nie gebêre, opgegaar of gebottel word nie! Dit werk altyd in die teenwoordige tyd. Ons kan nie in die verlede tyd liefhê nie: ja, ons kan met deernis onthou, ons kan mooi herinneringe koester, maar ons kan nooit terugwerkend liefhê nie. Liefde is ‘n werkwoord, en kan slegs ín die oomblik geleef word. Ons kan nie in die toekomstige tyd liefhê nie: ja, ons kan onderneem om lief te hê, ons kan ‘n belofte teenoor iemand maak, maar daardie belofte kan slegs in die hede gemaak en ontvang word. Liefde is vir hier en nou!

Daarom moet ons teen twee versoekings waak:

(i)                  Pasop om op die liefde van die verlede te ry:

Grappie van die oom en tannie – sy het elke dag gekla dat die oom nie meer vir haar sê hy is lief vir haar nie, tot hy hom op ‘n dag vererg het en geantwoord het: “Vrou, die dag toe ons getroud is, het ek gesê ek is lief vir jou, en as dit ooit verander, sal jy dit eerste hoor!” Sy het ‘n behoefte aan gereelde liefdesbetuiging gehad; nóú was vir haar belangrik; nie wat vroeër gesê of gedoen is nie. Ons kan nie in die verlede leef nie: “Ek weet ek is nie nou meer so liefdevol as voorheen nie, maar onthou my soos ek was.” Liefde van die verlede kan nooit opmaak vir liefdeloosheid in die hede nie.

(ii)                Pasop om op die liefde van die toekoms te ry:

Grappie van die sendeling – “Here, ek sou ‘n beter sendeling gewees het, as dit nie vir my sendingveld was nie…” Dit laat my dink aan die persoon wat so tong-in-die-kies gesê het: “As dit nie vir ander rasse was nie, sou ek nooit ‘n rassis gewees het nie!” Ons moet kies téén reaktiewe gedrag: “As dinge eers beter is, sodra omstandighede verander het, wanneer dinge makliker raak, sal ek meer liefhê.” Reaktiewe mense maak graag verskonings: “As jy nie sus of so was nie, sou ek jou beter kon liefhê. As dit nie vir my werksdruk, my finansies, my gesondheid was nie, sou ek jou liewer kon hê.” Reaktiewe mense blameer graag: “Dis jou skuld dat ek jou nie kan liefhê nie; jy maak my so; jy haal die slegte uit my uit.” Liefde kan nooit weerhou word omdat die omstandighede nie ideaal is nie.

Jesus het proaktief geleef: Hy het altyd in die oomblik liefgehad – Hy was teenswoordig in sy liefde! Jesus het nooit gesê: “Kom later terug, dán help Ek jou” nie. Wanneer mense na Hom toe gekom het, het Hy net daar en dan gehelp. Dink maar aan die genesings wat Hy in Matteus 8-10 doen – elke keer as iemand na Hom toe kom, het Hy onmiddelik met liefde gereageer: Hy steek dadelik sy hand uit; Hy bied onmiddelik aan om te gaan help; Hy vat dadelik die hand van ‘n sieke; Hy sê onmiddelik: staan op; Hy stop dadelik as iemand Hom voorkeer; Hy hoor onmiddelik as iemand na Hom roep. Jesus het geweet die verlede is verby en die toekoms lê nog voor – Hy het ons leer leef in die oomblik, want dís waar liefde tel.

84 views0 comments

Recent Posts

See All

Коментарі


bottom of page