top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Om te oordeel oor oordeel…

Het jy al dié woorde gehoor: “Ons mag nie oordeel nie” of “Wie is ons om te oordeel?” of “Net God kan oordeel!” Meestal word dit die terugval-uitspraak sodra ’n persoon nie lus is vir stry nie, óf daar nie saamgestem word met ’n bepaalde uiting nie, óf die gesprek in ’n doodloopstraat beland, óf iemand aangespreek voel. In baie gevalle is hierdie kritiese benadering tot die oordeel of mening van ander, niks anders nie as ’n oordeel sélf. Die oordeel word gevel oor die oordeel van ’n ander, en regter word gespeel oor diegene wat volgens die ander party regter speel, sonder die noodwendige besef dat dit ‘n selfweerleggende stelling en ‘n selfweersprekende houding is.

Hierdie reaksie hou dikwels verband met die hedendaagse kanselleer-kultuur, waar mense diegene wat anders dink of optree, probeer muilband of inperk. Dit sluit aan by die verskynsel van dekonstruksie, waar mense onder meer geloof of ’n bepaalde moraliteit krities benader, sonder om ooit kritiek op hulle eie kritiek te lewer. Die kritiese ingesteldheid teen alles en almal, word nooit aan dieselfde kritiese beoordeling onderwerp nie. Só byvoorbeeld word die relativering van waarheid, deur voor te hou dat wat vir jou waar is, nie noodwendig vir my waar is nie, óf dat die absolute waarheid van God ’n blote onbereikbare illusie is, nooit aan die vraag getoets nie: hoe weet ons dít is die waarheid, en hoe kan ons hiérdie uitspraak vertrou?

Op dieselfde trant kan ons die vraag stel: hoe weet ons dat die stelling dat ons nie mag oordeel nie, korrek is? Jesus sélf het immers hierdie uitspraak in Matteus 7:1 gemaak: moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Daar word selfs vandag in sommige kringe aanvaar, dat hierdie vers Johannes 3:16 vervang het as dié vers in die Bybel wat die algemene persoon op straat ken, sonder om die volle omvang daarvan te begryp. Wat ons moet onthou, is dat die teks van die Bybel nie van die begin af in verse opgedeel was nie, maar dat dit ’n latere toevoeging was om tekste meer toeganklik te maak. Om dus een enkele vers buite die groter konteks aan te haal, doen geen reg aan enige teks nie.

Die opeenvolgende verse help ons om hierdie woorde van Jesus beter te verstaan. Vers 2: met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal julle gemeet word. Vanaf vers 3 tot 5 word die uitspraak van vers 1, verder verhelder: voordat jy ’n oordeel uitspreek, haal eers die balk uit jou eie oog, sodat jy goed sal sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal. Kyk ons nog wyer na die konteks van Matteus 7:1, sien ons Jesus se waarskuwing teen die valse profete in Matteus 7:15-20, en sy verwysings na skynheiligheid en voorgee in Matteus 6:2, 5 en 16. Jesus se woorde in Matteus 7:1 moet dus verstaan word as ’n waarskuwing teen huigelary en regter speel.

Die Griekse woord wat Jesus hier vir oordeel gebruik, krínoo, het ’n verskeidenheid van gebruike, maar hoofsaaklik twee grondbetekenisse: om ’n oordeel uit te spreek (’n keuse uit te oefen, ’n konklusie te bereik, ’n besluit te neem, te evalueer of ’n wetlike beoordeling te maak) en iets of iemand te veroordeel (af te wys, te vonnis, skuldig te verklaar, te verdoem). Jesus waarsku waarskynlik, met inagneming van die groter konteks van die teksgedeelte, teen die tweede eerder as die eerste moontlikheid. Hierdie betekenis van die woord, naamlik om iemand te veroordeel, word dikwels in die Nuwe Testament met God in verband gebring wat alleen die finale oordeel as Regter oor mense kan uitspreek.    

Jesus se bedoeling is om te verseker dat wanneer ons oordeel oor goed en sleg of reg en verkeerd, ons die verantwoordelikheid daarvan sal besef, en dit nie ligtelik sal doen nie. Ons sal immers aan dieselfde standaard gehou word. Natuurlik mag ons nie ander se dade of opinies beoordeel sonder die nodige liefde, respek of nederigheid nie, en ook nie blind wees vir ons eie subjektiwiteit en foute nie. Natuurlik mag ons nie God se regterstoel inneem deur mense tot ewige verdoemenis te veroordeel nie, of ons eie standaard tot die hoogste gesag te verhef nie. Ons mag en moet wel irrasionaliteit ontbloot en ’n morele beoordeling doen na aanleiding van God se karakter en riglyne.

Jesus verbied ons nie om te oordeel nie, maar help ons met hóé om te oordeel! Sy uitspraak is dus nie ‘n algemene verbod op alle vorme van oordeel nie. Waarskynlik gee die Nuwe Nuwe Testament se vertaling die onderskeiding tussen beoordeel en veroordeel, die beste weer: “Moenie mense veroordeel nie, sodat God julle nie net so negatief beoordeel nie. Soos jy ander beoordeel, sal God jou ook beoordeel. Die reëls en maatstawwe waaraan jy ander se optrede meet, sal God ook gebruik om jou optrede aan te meet.”  

 




94 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários


bottom of page