top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Sal die regte “liefde” asseblief opstaan?




“Liefde” is moontlik een van die mees misverstane begrippe wat daar is. Wanneer die woord, veral die liefde van God vir mense of van mense onderling, in geestelike gesprekke aan die orde kom, kan mense maklik by mekaar verby praat, omdat elkeen mag aanneem dat almal die term op presies dieselfde wyse verstaan. Verwarring ontstaan gewoonlik sodra die begrip van liefde van die Bybelse konteks losgemaak word. In die Griekse taal, word daar minstens vier woorde gebruik om liefde te beskryf:

Agápe (ἀγάπη) is eerstens die liefde van God vir die mens, of die mens vir God: ’n daadwerklike onvoorwaardelike en selfopofferende liefde soos Jesus aan die kruis bewys het – Johannes 15:13. Dit is tweedens ook die liefde wat ons vir alle mense moet hê: ’n selflose sorgsame liefde waar in die beste belang van ’n ander opgetree word, gebaseer op ’n diepe waardering en hoë agting vir mekaar. In die Nuwe Testament word mense altyd die opdrag gegee om mekaar met agápe-liefde lief te hê.   

Philía (φιλία) is die vriendskaplike en affektiewe liefde tussen twee gelykwaardige persone: ’n broederlike of susterlike liefde tussen naby vriende, ’n platoniese toegeneentheid gebaseer op interpersoonlike assosiasie. Hierdie term word ook in die Nuwe Testament gebruik word om die liefdesverhoudings tussen God en Christus, of God en mense, te omskryf, maar nooit as opdrag vir mense onderling nie.  

Storgé (στοργή) is die natuurlike en teer affektiewe liefde tussen ouers en kinders, of tussen familielede onderling. Alhoewel hierdie term nie in die Nuwe Testament voorkom nie, kom die teenoorgestelde vorm wel twee keer in die briewe van Paulus voor.

 Éros (ἔρως) is die romantiese en erotiese liefde: ‘n passievolle seksuele liefde tussen twee mense. Hierdie woord kom nie in die Nuwe Testament voor nie, maar word wel in die Ou Testament geïmpliseer, en in die Septuagint – die Griekse vertaling van die Ou Testament – gebruik.

Die mees fundamentele ding wat oor liefde in verhouding tot God gesê kan word, is dat God liefde ís: 1 Johannes 4:8 en 16; 2 Korintiërs 13:11. Hiermee word nie bedoel dat God óns idee of definisie van liefde weerspieël nie, maar dat die beste menslike beskrywing vir God se karakter met die woord liefde uitgedruk kan word. God se diepste aard is liefde! Dit is wesenlik tot Wie Hy is. In die Drie-eenheid word die essensie van volmaakte liefde in die onderlinge verhouding tussen die drie Persone in die één Wese geopenbaar.

God se natuur is om lief te hê, en daarom vloei dit natuurlik uit sy wese voort – 1 Johannes 4:7. Sy liefde is ’n Goddelike liefde, ’n volmaakte liefde, ‘n heilige liefde, ’n beskermende liefde – Psalm 33:5; Jesaja 61:8. Sy liefde is nooit neutraal nie – dit is ’n Vaderlike liefde: onbegrensd, ongetemd en onverskrokke! Uit sy allesoorheersende liefde vir sowel mense as vir reg, het Hy sy Seun na die wêreld gestuur om redding vir verlorenes te bring: Johannes 3:16; 1 Korintiërs 15:3; 1 Petrus 2:24 en 3:18; 2 Tessalonisense 2:16; 1 Johannes 3:1 en Titus 3:4.

God se liefde is nie goedkoop nie, en ook nie ’n blote emosionele opwelling nie, nóg minder ’n lukraak omgang met die werklikheid, maar ’n daadwerklike liefdesbesluit wat sy hoogtepunt in Christus se versoening bereik – 1 Johannes 4:10. Omdat sy liefde so ondenkbaar groot is, en omdat Hy so onbeskryflik goed is, kan Hy nie die realiteit van sonde oorsien nie: 1 Johannes 4:10; Romeine 5:8 en 9; Efesiërs 2:3-5. Hy toon sy genade deur sy geregtigheid, en bewys sy liefde deur sy kruisoffer – Romeine 5:8.

Sodra teksverse waarin veral die woord agápe voorkom, soos Johannes 13:34 en 35, gebruik word om God se liefde vir mense of mense se liefde vir ander te beskryf, moet reg geskied aan die volle omvang van die liefde. Om lief te hê, vra immers gehoorsaamheid aan God se wil en opdragte: Johannes 14:15, 21, 23 en 24; Johannes 15:10 en 14; 1 Johannes 2:3; 1 Johannes 5:3; 2 Johannes vers 6. Liefde is om volgens God se gebooie te leef, en kan nooit strydig daarmee wees nie.

God se liefde vir mense of hulle liefde vir mekaar sluit nooit sy eis vir geregtigheid en heiligheid uit nie, maar sluit dit juis in. In hierdie sin sien die liefde van God nie net verkeerde dinge oor nie, maar bring dit ook verkeerde dinge aan die lig. God is gelyktydig liefde én regverdig. Liefde en oordeel staan nie teenoor mekaar nie, omdat die teenoorgestelde van liefde nie haat is nie, maar onverskilligheid. God staan inderdaad nié onverskillig teenoor ons nie. Sy geregtigheid bewys net soveel soos sy liefde dat ons waardevol is, en dat ons lewens saakmaak. God is goed omdat Hy liefde is, en Hy is goed omdat Hy regverdig is.  

Bybelse liefde is nie altyd populêr nie, en mag soms selfs aanstoot gee, omdat dit ook die waarheid liefhet. Liefde mik altyd na die waarheid en waarheid mik altyd na die liefde. Liefde vorm hoe ons waarheid leef, en waarheid vorm hoe ons liefde leef. Liefde soek na die waarheid ten koste van die onreg – 1 Korintiërs 13:6. Waarheid soek na die liefde wat uit ’n rein hart, goeie gewete en opregte geloof kom – 1 Timoteus 1:5. Met hierdie paradoksale spanning leef die Bybelskrywers saam. 2 Johannes vers 1 en 2 in die Nuwe Nuwe Testament: “Ek het hulle lief omdat ons in die waarheid leef. Nie net ek het hulle lief nie, maar almal wat die waarheid ken. Ons leef immers in die waarheid en die waarheid sal by ons bly tot in ewigheid.”

96 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page