top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Verassing - Ja of Nee?

1. Die Bybel en verassing

Een van die vraagstukke waarmee Christene vandag steeds worstel, is die kwessie van verassing: “Kan my of my geliefde se liggaam veras word, of is dit teen die wil van die Here?” Standpunte hieroor wissel uiteenlopend binne die Christelike tradisie: aan die een kant van die spektrum is daar die sterk afkeur van die teenstanders daarvan, weens die negatiewe beeld wat die Ou Testament aldus hulle daaroor het as gevolg van die heidense assosiasie met verbranding; aan die ander kant is daar die positiewe beoordeling van die voorstanders daarvan wat dit as ‘n goedkoper en veiliger alternatief tot begrawing beskou. Na beide kante toe bly die eintlike vraag: “Wat sê die Bybel oor verassing?”

Verassing kom van die Latynse woord “Crematus” wat “verbrand tot as” beteken. Tradisionele Jode word vandag steeds verbied om veras te word, terwyl dit binne die geloof van die Islam, wat ook op die Ou Testamentiese praktyke voortbou, ten strengste afgekeur word. Hindoeïsme beoefen steeds vandag verassing, alhoewel dit anders lyk as die verassingsgebruike waarmee Westerlinge bekend is. In die Christelike tradisie word dit deur die Oosters Ortodokse kerk en sekere fundamentalistiese kerkgroeperinge verbied, terwyl vele kerklike tradisies verassing beoefen en selfs mure van herinnering voorsien ter wille van die plasing van die as van afgestorwe geliefdes.

Interessant genoeg, maak die Bybel geen uitsprake vir of teen verassing óf begrawing nie. In die Skrif is daar nie voorskrifte oor hoe gelowiges van afgestorwenes se liggame moet afskeid neem nie. Selfs die konkrete wyse waarop die liggaam ná die dood hanteer moet word, is iets waaroor die Bybel geen direkte opdragte gee of algemeen-geldende maatreëls neerlê nie. Alhoewel daar vele argumente vir of teen verassing ingebring kan word, het weinig daarvan werklik met ‘n Bybelse verstaan te doen, maar fokus dit eerder op individue se persoonlike ervaringe of bepaalde interpretasies van die Skrif.


Groot omsigtigheid moet dus aan die dag gelê word wanneer die Bybel aangewend word om na een van die twee kante ondersteuning vir argumente rondom verassing of begrawing te verleen. Só byvoorbeeld is Deut 21:22 en 23 se verwysing na teraardebestelling nié ‘n afwysing van verassing of ‘n voorskrif vir begrawing nie, maar eerder ‘n aansluiting by die kultuurhistoriese konteks van daardie tyd, en ‘n spesifieke riglyn vir die hantering van die liggaam van iemand wat ter dood veroordeel is. In 1 Kor 13:3 wat soms teen verassing aangewend word, praat Paulus eerder van martelaarskap sónder om verassing enigsins af te wys.

In Luk 9:60 is Jesus se verwysing nie na die ondersteuning van begrawing nie, maar handel dit eerder oor die prys van dissipelskap, terwyl Hy bloot aansluit by die praktyke van sy dag. 1 Tess 5:23 veronderstel nie ‘n gepreserveerde liggaam wat nodig is vir ‘n liggaamlike opstanding uit die dood nie, want anders sou begrawing ook nie kon kwalifiseer nie, maar sou die liggaam soos in die Egiptiese konteks eerder gebalsem moes word. In Gen 15:15 is God se verwysing na Abram wat begrawe moet word nie ‘n algemeen-geldende opdrag vir begrawing nie, maar ‘n kontekstuele aansluiting by die aanvaarbare kulturele gebruike van daardie tyd. 2 Pet 2:6 se vervloeking van God deur vuur en verbranding handel oor die straf op die sonde en nié oor die ritualistiese afskeid van ‘n gestorwe liggaam nie.

Uiteindelik kom die keuse tussen verassing of begrawing neer op ‘n persoonlike oortuiging, en gee die Woord van God nie spesifieke voorskrifte na enige van die twee kante nie. Belangriker as die fisiese wyse waarop van die aardse liggaam afskeid geneem word, is die kerklike liturgiese proses van rou en bemoediging wat daarmee vergesel word, die Woordverkondiging in al sy gestaltes van troos en oproep wat daarvan deel moet wees, asook die eer en erkenning aan die Here oor lewe en dood wat by beide hierdie praktyke teenwoordig moet wees.


2. Sieninge rondom verassing in die Ou Testament

In die antieke wêreld was verassing van liggame algemeen bekend onder kulture soos dié van die Grieke en die Romeine. Verassing soos dit vandag bekend is, is egter iets heeltemal anders as die verbranding waarmee spesifiek in die Ou Testament te make gekry word. Verbranding van liggame en objekte in die Ou Testament is meestal gereserveer vir afgode, misdadigers en vyande, byvoorbeeld in Gen 38:24, Eks 32:20, Num 16:35, Deut 7:25, Jos 7:15, 25 en 26 sowel as 2 Kon 23:16-20.

Binne die Joodse tradisie is verbranding dus in ‘n baie negatiewe lig gesien, as ‘n heidense praktyk beskou en met die straf van God op sonde geassosieer. Verwysings soos Deut 12:31 sentreer egter rondom die offerrituele bekend aan die afgodediens van die heidennasies van daardie tyd wat nié op die aanbidding van die lewende God gerig was nie, en dus op daardie gronde spesifiek deur Hom verafsku is. Bykans al die voorbeelde van verbranding in die Ou Testament is egter nié verassing soos dit vandag geken en bedryf word nie.

In die Ou Testament is die meeste mense dus uit die aard van die saak begrawe, byvoorbeeld in Gen 23:19 en 20, Gen 25:7-10, Gen 35:8, 2 Kon 23:30 en 2 Kron 16:14. Gevalle waar daar wél van ‘n vorm van “verassing” sprake sou kon wees, byvoorbeeld in 1 Sam 31:12 en 13, Amos 2:1 en Amos 6:10, word meestal in ‘n negatiewe lig beskou en soms selfs met God se wraak op sonde in verband gebring. In vele gevalle het Ou Testamentiese verbranding ook met reinigingsrituele te doen gehad, wat geheel en al ‘n ander bedoeling veronderstel het as die verassing binne die Christelike konteks vandag.

Alhoewel talle verwysings in die Ou Testament afwysend oor verbranding oordeel, moet die spesifieke konteks daarvan egter in gedagte gehou word: hierdie was telkens God se reaksie téén die heidense praktyke wat teenstrydig met die geloof in die enigste lewende God was. Hierdie heidense assosiasie het die liggaam ondermeer verstaan as ‘n leë dop met geen intrinsieke waarde nie, terwyl die heidennasies weens hulle gebrek aan ‘n begrip van ‘n ewige dimensie of lewe ná die dood, verbranding as ‘n goeie uitweg gesien het om van die gestorwe liggaam ontslae te raak. Onder die heidennasies van die Ou Testamentiese tyd is verbranding ook geassosieer met offerrituele wat aan die afgode gewy is. Verbranding het dus histories ‘n heidense oorsprong gehad, maar moet duidelik van vandag se verassing onderskei word, aangesien dit nuwe inhoud verkry het vanuit die Christelike perspektief en gelowiges se geloof in Christus wat transformerend op élke konteks inwerk.


3. Sieninge rondom verassing in die Nuwe Testament

Die vroeë Christelike siening van die afskeid neem van ‘n afgestorwene se liggaam het sterk by die Ou Testamentiese Joodse kultuur aangesluit. Begrawing was daarom dan die algemene wyse waarop in die Nuwe Testament van oorledenes se liggame afskeid geneem is, byvoorbeeld in Matt 8:22, Luk 16:22 en Joh 11:33. Van die belangrikste redes waarom liggame steeds in die Nuwe Testamentiese tyd begrawe is, het te make gehad met die sterk Joodse invloed, ‘n bepaalde verstaan van die fisiese opstanding van die vleeslike liggaam, die siening van die liggaam as deel van die beeld van God en die tempel van die Heilige Gees, die feit dat Jesus sélf begrawe is en die beskouing dat verbranding ‘n heidense gebruik is of met die Here se straf op sonde verband hou.

Wat die opstanding van die liggaam betref, help 1 Kor 15:35-55 egter met die verstaan dat dit nie die vernietigde liggaam is wat presies in dieselfde staat waarin dit gesterf het weer moet opstaan uit die dood nie, maar eerder die nuutgemaakte liggaam waaraan God alleen deur sý almag gestalte kan gee – vers 36. Paulus stel dit duidelik in 1 Kor 15:37-44 dat die gestalte wat God aan die nuwe liggaam sal gee, ánders sal wees as die een wat gesterf het – hy gebruik hier die beeld van saad wat in die grond sterf as ‘n saadkorrel maar opgewek word as ‘n totaal nuwe entiteit, naamlik dié van ‘n plant. Hierdie dramatiese metamorfose veronderstel ‘n skeppende vernuwingskrag wat alleen God as Skepper kan openbaar.

Verassing kan nooit die almagtige God verhoed om dooies tot lewe op te wek nie. Hy wat aanvanklik geskep het, kan ook hérskep – Fil 3:21. God as Skepper van hemel en aarde skep immers “ex nihilo” – met ander woorde uit niks – en kan dit weer doen. Die staat van die ou liggaam is dus nie van soveel belang as die staat waartoe God dit sal herskep nie; die verganklike sal in elk geval met die onverganklike beklee moet word – 1 Kor 15:50-53. In 1 Tess 4:13-17 word verklaar dat hulle wat in Christus gesterf het, uit die dood opgewek sal word desondanks die staat van hulle aardse gestorwe liggame.

Alhoewel die liggaam in die Nuwe Testament nooit gedegradeer word nie, maar gesien word as die tempel van God waardeur Hy verheerlik moet word (1 Kor 6:15-20) beteken dit nie dat die gestorwe liggaam opsigself enige geestelike waarde ná die dood meer inhou nie. Paulus praat hier in besonder van hoe gelowiges God ook op seksuele gebied in hulle liggame moet verheerlik. Sy verwysing na die tempel in 1 Kor 3:16 en 17 wat nie beskadig moet word nie, impliseer nié eerstens die fisiese liggaam nie, maar die geestelike gebou van God wat uit die gelowiges bestaan van wie hier ter sprake is.

Die inwoning van die Heilige Gees in die menslike liggaam as tempel het eerder ‘n geestelike as fisieke betekenis – 1 Kor 6:17 – terwyl die feit dat die mens God ook in die liggaam moet verheerlik spesifiek na seksuele reinheid eerder as die goedbewaarde staat van die gestorwe liggaam verwys. Selfs die liggaam in ‘n lewende staat is tog ook alreeds as deel van die gevalle skepping aan die verganklikheid onderworpe – Rom 8:20-23. In 2 Kor 5:1-5 word die liggaam juis deur Paulus as ‘n tydelike aardse tentwoning beskryf. Van die begin af ly die menslike liggaam immers aan die gebrokenheid van siekte en veroudering – dus sterflikheid. Die waardigheid van die liggaam word deur sonde en die dood sélf vernietig, nie deur vuur of grond nie.

Christus se begrafnis kan nie as motivering gebruik word vir waarom mense vandag ook eerder begrawe as veras moet word nie, aangesien Jesus nie soos die gebruik van vandag binne-in die grond self begrawe is nie. Begrawing van destyds het gewoonlik in ‘n grot plaasgevind en die plasing van die liggaam was horisontaal eerder as vertikaal: Jesus se liggaam is nie letterlik begrawe nie maar neergelê – Luk 23:55. Christus se begrafnis het dus reeds drasties verskil van die teraardebestellings wat vandag bekend is en dien as geen verwysing van hoe vandag van gestorwe liggame afskeid geneem moet word nie. ‘n Kultuur-historiese aansluiting by die tradisies van Jesus se tyd – byvoorbeeld die gebruike van Luk 23:53 en 56 – kan immers nie as altyd-geldende voorskrifte dien nie.

Ook in die Nuwe Testament is verbranding beskou as die totnietmaking van sondige objekte of mense, byvoorbeeld in Hand 19:19 en Op 20:14 en 15. Verbranding as heidense gebruik van destyds kan egter nie summier net so van toepassing gemaak word op die praktyk van verassing wat vandag bekend is nie, aangesien die bedoeling van die gevalle van verbranding in die Bybel eerder suiwering van ‘n sondige gebeurtenis veronderstel het, terwyl verassing vandag met dieselfde bedoeling as begrawing geassosieer word. Paulus se beginsel in 1 Korintiërs 8 rondom die eet van vleis wat aan afgode geoffer is geld ook in hierdie geval, naamlik dat heidense gebruike of assosiasies van watter aard ookal géén invloed op die gelowige se lewe behoort te hê nie, alhoewel die swakker gelowige nog altyd in ag geneem moet word.


4. ‘n Verantwoordbare Christelike verstaan van verassing

Wat die Bybelse uitsprake betref, is daar geen verwysing na verassing as sonde nie. Alhoewel begrawing wél baie meer algemeen in die Bybel voorkom, word dit nooit as die énigste wyse aangedui waarop van geliefdes se liggame afskeid geneem kan word nie. In 1 Kor 13:3 is Paulus se verwysing na die prysgawe van die liggaam om verbrand te word ‘n aanduiding van hoe Christene destyds ter wille van hulle geloof doodgemaak is, en alhoewel dit nie insigself ‘n goedkeuring van verassing is nie, dui dit tog daarop dat hy nie in beginsel afkeurend oor die vernietiging van die liggaam deur vuur oordeel nie.

Of die menslike liggaam deur vuur of deur grond afgebreek word, bly die eindresultaat in beide gevalle steeds dieselfde: verwering tot stof (Gen 3:19). In die geval van begrawing neem die aftakeling heelwat langer as in die geval van verassing, maar die uiteinde kom op dieselfde neer. Indien liggaamlike vernietiging deur vuur vir die Here ‘n kwessie was, sou dit immers ook ernstige implikasies moes inhou vir gelowiges wat op brandstapels gesterf het. Indien die behoud van die fisieke liggaam vir God enigsins van belang sou wees, sou dit ook ernstige gevolge inhou vir diegene wat deur wilde diere opgeëet is of op see verlore geraak het – om nie eens te praat van die oorgrote meerderheid afgestorwenes wat begrawe is en wie se liggame reeds geheel en al ontbind het nie.

Verbranding het wel oorspronklik heidense wortels en assosiasies gehad, maar kan nie vandag net so direk met verassing in verband gebring word nie. Verassing verkry ‘n nuwe inhoud vir die gelowige wat in Christus is. Indien die heidense assosiasie steeds in die Nuwe Testament direk van toepassing sou wees, sou daar duidelike uitsprake daaroor gewees het. Die feit dat die Nuwe Testament egter géén uitspraak daaroor lewer nie, en die Ou Testament hoofsaaklik na die heidense verbrandingsrituele van die ongelowige nasies van daardie tyd verwys, bevestig dat die verassing van vandag iets anders kan beteken.

Dit mag wél waar wees dat begrawing die Bybelse perspektief op die waardigheid van lewe, die liggaam en die dood beter as verassing reflekteer omdat verbranding vir baie ‘n groter negatiewe emosionele assosiasie mag hê, maar dit beteken egter nié dat verassing geensins met die Christelike geloof in verband gebring kan word nie. In die Bybel is daar talle voorbeelde van gelowiges se begrafnisse wat die kultuur van daardie spesifieke konteks en tyd gereflekteer het, byvoorbeeld Jakob en Josef wat op tradisionele Egiptiese wyse gebalsem is volgens Gen 50:2 en Gen 50:26. Op dieselfde wyse kan gelowiges vandag ook hulle kultuur weerspieël sonder om aan Christus ontrou te wees.

Verassing beteken nie outomaties ‘n onbehoorlike begrafnis nie – dit kan nog steeds met volle eerbiedigheid en waardigheid die geestelike inhoud van die Christelike geloof reflekteer. Geen gelowige wat verassing toepas doen dit sekerlik met die bedoeling om aan afgodediens deel te neem of die afgestorwene se liggaam te onteer nie. Die aard en bedoeling van die verassing is dus hier van die uiterste belang: dit moenie gaan om die disrespekvolle beskadiging of uitwissing van die liggaam nie, maar om die finale handeling van respek en eer wat aan die oorledene se liggaam betoon word. Indien hierdie die gesindheid is van die persoon wat veras wil word of van die familie wat ‘n geliefde wil veras, kan verassing op dieselfde vlak van waardigheid as begrawing beskou word, en dus ook volledig binne die wil van God val.

513 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page