top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Verwyder die angel van toksiese sisteme en groepe


1. Wat is toksiese gedrag?

Toksisiteit in ‘n sisteem, ‘n groepering of ‘n individu, kan beskryf word as ongesonde gedrag of ‘n giftige omgewing waar mense negatief beïnvloed word, gemanipuleer word of oorheers word, sodat diegene in beheer hulle bepaalde agenda kan dryf, hulle sin kan kry of hulle magsposisie kan verseker. Toksiese sisteme of groepe, byvoorbeeld binne families of gemeentes, bestaan gewoonlik uit enkele sterk en invloedryke individue wat die leierskapposisies beset, en die res van die sisteem of groep in so ‘n mate oordonder dat dit begin blyk asof die groep in totaliteit as ‘n abnormale of siek stelsel funksioneer. Negatiewe gedrag, slegte gewoontes en skadelike verhoudings word in ‘n toksiese sisteem of groepering as aanvaarbaar en toelaatbaar geag, terwyl sondige optredes en nadelige gesindhede goedgepraat, aangemoedig en selfs genormaliseer word.

2. Watter reëls geld in toksiese groepe of sisteme?

Daar bestaan gewoonlik ongesonde – en dikwels ongeskrewe – reëls binne ‘n toksiese groepering of sisteem:

(i) Moenie praat nie – oneerlikheid, toesmeerdery, skyn, leuens, onttrekking, skinder en stilswye word direk of indirek aangehits; enige bevraagtekening of verskille word onderdruk en met drastiese optrede soos emosionele uitbarstings of beskaming teëgewerk.

(ii) Moenie vertrou nie – slegs dit wat die toksiese groep dink, glo en identiteit gee, word toegelaat, en alle invloede van buite word verdag gemaak of weggehou; die groep sê en besluit wie vertrou en ingelaat word.

(iii) Moenie voel nie – “negatiewe” of onaanvaarbare emosies, wat nie binne die groep of sisteem inpas nie, word sterk ontmoedig; slegs gevoelens wat die groter plan van die toksiese sisteem of groepering dien, word as aanneemlik beskou.

(iv) Moenie droom nie – eie behoeftes word ontken, en alleenlik die begeertes wat die sisteem of groep bevorder, is aanvaarbaar en normaal; die wense van die individu word ondergeskik gestel aan die wense van die sisteem of groep, maar op ‘n afdwingbare wyse wat die individu ontmoedig om eie behoeftes te verbaliseer.

(v) Moenie dink nie – individuele of kritiese denke word nie aangemoedig nie; die groep sal vir die individu dink en namens die individu praat; andersdenkendes word as ‘n bedreiging beskou wat ten alle koste afgeweer moet word.

(vi) Moenie selfstandig wees nie – siek sisteme of groepe hou individue afhanklik, en poog dat hulle nie op eie bene kan staan nie, nie oor hulle eie lot kan beslis nie en ook nie uit eie inisiatief kan handel nie.

3. Wie skakel by toksiese groepe of sisteme in?

Individue uit ‘n ongesonde gesinsopset of getraumatiseerde agtergrond, en wat moontlik meer vatbaar vir ‘n skadelike godsdienservaring mag wees, pas gewoonlik goed by ‘n toksiese sisteem of groepering in:

(i) ‘n Sterk godsdienstige huis: oordrewe en uitermatige godsdiensbeoefening in die ouerhuis – alhoewel moontlik goed bedoel – veroorsaak dikwels dat gesinslede dubbele lewens lei met twee stelle reëls wat onderskeidelik binne en buite die sisteem of groepering funksioneer; individue wat in die kinderjare hieraan blootgestel is, kan òf later daarna gaan soek in ‘n geloofsgroep of verhoudinge, òf drasties daarteen weerstand bied en rebelleer.

(ii) Dogmatiese hantering van die Bybel: ‘n letterlike interpretasie van álle tekste sonder die inagneming van die genre geld; ‘n sektariese fundamentalistiese beskouing heers wat tekste oppervlakkig en op sigwaarde buite konteks aanwend; die groep laat die Bybel buikspreek asof dit God is wat praat en presies sê wat hulle glo; ander word gemanipuleer deur spesifieke verse buite konteks uit te lig vir gedrag wat nie binne die toksiese sisteem of groepering toelaatbaar is nie.

(iii) Outokratiese leierskap: leiers tree afbrekend en afknouend op, krities, streng en rigied; sterk klem word op kontrole en beheer geplaas; leiers is swaar op grense, maar lig op liefde; géén bevraagtekening of gesprek word geduld nie; standpunte wat buite die aanvaarbare prentjie van die leierskap val, word verbied of onderdruk.

(iv) Perfeksionistiese verwagtinge: abnormale hoë standaarde en duidelike sondegrense heers; alles word op ‘n rigiede swart-en-wit wyse hanteer; mense word deur skuld, skaamte of vrees beheer; min ruimte word vir foute toegelaat.

(v) Giftige liefde: min genade en vergifnis word aangebied; die klem is op reëls eerder as verhoudinge; liefde moet verdien word; prestasie word beklemtoon; ander mense word tot eie voordeel gebruik, en is slegs aanvaarbaar terwyl hulle ‘n doel dien of saamspeel.

(vi) Emosionele honger: emosionele behoeftes word nie aangespreek nie – daar heers geen liefdesbetuiging, erkenning, aanvaarding, goedkeuring of ruimte vir individualisme of uniekheid nie; liefde, emosionele aandag en troos word gegee in ruil vir samewerking, gunste of stilswye, en word weggeneem of weerhou sodra daar nie binne die raamwerk ingepas word nie.

(vii) Slagoffermentaliteit: sodra grense vir toksiese gedrag of persone getrek word, en blamering, viktimisering of aggressie nie meer die gewensde uitwerking het nie, word selfbejammering, stilstuipe, ignorering of die slagoffertaktiek gebruik om steeds te poog om die eie wil af te dwing.

4. Wat is kenmerke van ‘n toksiese sisteem of groep?

(i) Bring spanning of verdeeldheid tussen individue of groepe deur giftige saadjies te plant waar jaloesie, aggressie, woede of wrewel kan floreer.

(ii) Loods smeerveldtogte en verbale aanslae teen diegene wat die toksiese sisteem of groepering bedreig, deur lasterlike, skadelike en valse stories te versprei wat die teenparty se karakter en reputasie aantas.

(iii) Gebruik indirekte konfrontasie deur ‘n derde party op te sweep om die geteikende individu of groepering aan te vat, eerder as om in direkte en eerlike konfrontasie met die persoon of groep te gaan.

(iv) Wend die taktiek van verdagmakery aan om individue of groepe teen mekaar af te speel, deur oneerlikhede of halwe waarhede te versprei wat konflik kan veroorsaak of opinies en gesindhede kan beïnvloed.

(v) Skep ‘n kroniese atmosfeer van disrespek en ontevredenheid deur middel van voortdurende klagtes en negatiwiteit, met die doel om die teenparty verdag te maak of te ontsenu.

(vi) Poog om ten alle koste beheer uit te oefen en in die posisie van mag en invloed te bly, deur enige kompetisie of teenmag teë te staan of uit te wis.

(vii) Weier om verantwoordelikheid vir eie aandeel of gedrag te neem, en kies om eerder die blaam na ander te verskuif.

(viii) Speel ‘n aanhoudende emosionele teisterspel met die doel om die geteikende individu of groep af te mat en uiteindelik tot oorgawe te dwing, konfrontasie uit te lok of foute te laat begaan sodat die invloed beperk kan word.

(ix) Weier om verskoning te vra of verkeerde gedrag te erken en reg te stel, en aanvaar ook nie die verskoning van die teenparty of bied vergifnis daarvoor aan nie.

(x) Reageer met woede, opstandigheid en protes sodra daar grense vir die toksiese optrede of persoon getrek word, en die ongesonde gedrag geopenbaar word.

(xi) Wend die tegniek van projektering en viktimisering aan deur die fokus op eie foute en wangedrag te verdoesel en die negatiewe klem te plaas op die individu of groep wat die toksiese gedrag aanspreek of aan die lig probeer bring.

(xii) Reageer met liggeraaktheid; skep gewoonlik spanning in enige groep of verhouding deur ander te dwing om op eiers rondom hulle te loop en oormatig sensitief vir hulle oorsensitiwiteit te wees.

(xiii) Dreig met uitsluiting of verwerping; skuif die geteikende individu of groep uit en isoleer hulle as ‘n vorm van straf, wraak of manipulasie.

(xiv) Boesem vrees in om ander in lyn te bring en in toom te hou; skep ‘n omgewing van intimidasie en viktimisering.

(xv) Maak van alle konflik en geskille ‘n persoonlike vendetta en neem ook enige bevraagtekening of verskille persoonlik op.

5. Hoe het Jesus toksiese sisteme of groepe beoordeel?

Jesus spreek Hom in Matt 6:5-18, Matt 15:1-20 en Matt 23:1-36 uit teen die toksiese sisteem van die Fariseërs en Skrifgeleerdes:

*Hulle hou reëls aan mense voor asof dit van God self kom – manipulasie

*Hulle lê swaar laste op ander maar doen dit sélf nie – dubbele standaarde

*Hulle wil ander lei maar is blind vir eie tekortkominge – ontkenning

*Hulle leef voorgeelewens om belangrik te voel en raakgesien te word – grootheidswaan

*Hulle vertoon ‘n geestelike vroomheid wat aan hoogmoed grens – skynheiligheid

*Hulle godsdienstige beoefening is uiterlik en kosmeties – ritualisme

*Hulle godsdiens word ‘n dwelm; hulle raak verslaaf aan die adrenalien en poog ook om ander daardeur te bedwelm en te verslaaf – status- en magsbeheptheid.

6. Hoe lyk gesonde godsdienstige sisteme en groeperinge?

(i) Dit bou vertroue

Moedig vertroue in God, ander en die self aan; skep nie wantroue in ander nie; maak nie die strukture of gesag sleg nie; dryf nie ‘n wig in tussen mense nie; isoleer nie mense van ander nie.

(ii) Dit beskerm die individu

Wek nie skuld, skaamte of vrees op om ander in lyn te hou nie; beheer nie mense met versies en reëls nie – “God sal jou straf;” “Hy sien jou;” onderdruk nie mense se vryheid of individualiteit nie.

(iii) Dit fokus op verhoudinge

Reëls is nie belangriker as mense se behoeftes nie; beskerm nie die sonde of geheime van die groep nie; maak mense nie bang vir verwerping en uitsluiting nie.

(iv) Dit skep ruimte vir gesprek

Ontmoedig nie moeilike vrae en gesprek nie; vermy nie sekulêre praktyke en sien alles daarbuite as boos nie; stel nie die groep aan net sekere musiek, boeke, mense of standpunte bloot nie.

(v) Dit leef eerlik

Hoef nie voor te gee nie; kan kwesbaar wees; moedig egtheid aan; kan sonder maskers leef; is OK om nie OK te wees nie; is gemaklik met eie menslikheid en foute.

(vi) Dit is in voeling met die realiteit

Vergeestelik nie alles nie; soek nie na magiese en bonatuurlike oplossings vir alle probleme nie; gryp nie na kortpaaie vir pyn nie soos lang opswepende gebede, kompulsiewe aanhaling van teksverse, uiterlike bygelowige rituele, klem op bonatuurlike gawes, tekens of animisme – krag wat aan voorwerpe, woorde of rituele toegeken word; kan probleme in die oë kyk en gesonde oplossings vind; kan eie verantwoordelikheid aanvaar en sit nie terug en wag dat God alles bonatuurlik moet doen of regmaak nie.

171 views0 comments

Recent Posts

See All

Kommentare


bottom of page