top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Vrae oor selfdood

1. Inleiding

Selfdood is een van die mees tragiese en hartverskeurende gebeurtenisse, moeilik verklaarbaar en kontroversieel. Uit die aard hiervan lei dit tot gemengde emosies en uiteenlopende reaksies, wat verhoogde konflik en pyn tot gevolg het. Omdat die Bybel nie direkte uitsprake daaroor maak nie, bly dit vir gelowiges ‘n uiters delikate saak wat met groot omsigtigheid en sensitiwiteit hanteer moet word. ‘n Mens moet liewer te min as te veel sê. In die volgende paragrawe word kortliks gepoog om die mees algemene vrae rondom selfdood en die Woord te hanteer:

2. Wat sê die Bybel oor selfdood?

Alhoewel die kwessie van selfdood min in die Bybel ter sprake kom, en daar nie duidelike voorskrifte gevind word nie, is daar enkele beginsels in die Skrif wat toegepas kan word:

Vanuit die Ou Testament, vind ons riglyne wat ook vir selfdood mag geld: in die sesde gebod van die tien gebooie word verklaar: “Jy mag nie moord pleeg nie” (Eks 20:13; Deut 5:17). By hierdie gebod is selfdood natuurlik nooit uitgesluit nie, omdat dit ‘n lewe is wat geneem word – selfs al is dit ‘n mens se eie lewe. Iemand wat sy of haar lewe neem, net soos iemand wat die lewe van ‘n ander persoon neem, pleeg in dieselfde mate ‘n noodlottige daad van geweld teen homself of haarself.

Vanuit die Nuwe Testament, kan die volgende afleidings oor selfdood gemaak word: Jesus veronderstel in die samevatting van die wet, dat ons onsself sal liefhê: “Jy moet jou naaste so liefhê soos jouself” (Mat 22:39). Om jouself lief te hê, sluit in om jou eie lewe lief te hê. Selfdood verkeer in direkte konflik met hierdie liefdesbeginsel van Christus.

In ‘n hele aantal gevalle van selfdood wat in die Bybel opgeteken is, en meestal in ‘n negatiewe lig gestel word, word die hartseer en die hopeloosheid van die daad beklemtoon – in sommige gevalle word die selfdood selfs as ‘n gevolg van sonde beskryf. Natuurlik sluit dit nie daardie insidente in waar selfdood as selfopofferende prysgawe gesien word nie, byvoorbeeld in Rig 9:54, Rig 16:30 en Hand 16:27 en 28. Nie in een van die ander opgetekende gevalle, blyk dit egter dat selfdood die bepaalde krisis opgelos het, of omstandighede daarmee verbeter het nie:

· 1 Sam 31:3-5: Saul pleeg selfdood uit vrees en vernedering

· 2 Sam 17:23: Agitofel pleeg selfdood vanweë teleurstelling en verwerping

· 1 Kon 16:18-19: Simri pleeg selfdood uit vrees en skaamte

· Mat 27:3-6: Judas pleeg selfdood uit berou en skuldgevoelens.

3. Het iemand die reg om selfdood te pleeg?

Lewe is God se kosbare geskenk aan die mens. Hý gee lewe, en niemand anders nie. Omdat ons nie self daarvoor verantwoordelik is nie, mag ons ook nie ons eie lewe tot ‘n einde bring nie. Lewe

blý God se eiendom, wat Hy bloot aan ons toevertrou. Ons én ons liggame behoort nie aan onsself nie – 1 Kor 6:19 en 20. Ons verkry ons waarde alleen van Hom, en kan daarom nooit self daaroor besluit of dit prysgee nie. Dit is ons verantwoordelikheid om lewe met die grootste eerbied te respekteer. Iemand wat sy of haar eie lewe neem, vergryp hom of haar aan daardie lewe.

‘n Mens sal egter kan onderskei tussen “reg” en “mag.” Alhoewel die mens nie die reg het om sy of haar eie lewe te neem nie, het die mens wél die “mag” om die daad uit te voer. Die “vermoë” om sekere keuses uit te oefen – selfs téén God se wil in – kan egter nooit misbruik of geregverdig word nie. Hierdie sogenaamde “mag” wat die mens het, kom alleen van God af. God se bedoeling hiermee is om ons in staat te stel om die regte besluite te kan neem. Ons is vry, maar kan nooit hierdie vryheid gebruik om te sondig nie (1 Pet 2:16). Al het die mens dan die “mag” om selfdood te pleeg, het hy of sy nie die reg daartoe nie.

4. Gaan iemand wat selfdood pleeg verlore?

Alle mense verdien om verlore te gaan as gevolg van hulle sonde – Rom 3:9-18. Jesus het gekom om ons te kom verlos sónder dat ons dit verdien – Rom 3:23-26; Rom 5:6-8. Mense kan nou gered word, nie oor wat hulself doen nie, maar oor wat Jesus reeds aan die kruis gedoen het. Dit gebeur deur God se genade, en daarom het ons niks om oor te spog of tot ons eie redding by te dra nie – Rom 3:27; Ef 2:8-10. Wie nié vir Jesus as Verlosser aanvaar en Hom met hart en siel liefhet en dien nie, gaan steeds verlore – Joh 3:16 en 18; Joh 6:47; Rom 5:1-2; 1 Joh 5:12-13.

Of iemand wat selfdood gepleeg het verlore gaan, sal daarvan afhang of daardie persoon aan Jesus behoort het of nie – Rom 5:9 en 10. Selfs in die geval waar so ‘n persoon nooit in Jesus geglo het nie, sal ons nie kan seker wees of daardie persoon verlore is nie, aangesien ons nie weet wat in die laaste oomblikke tussen daardie persoon en God gebeur het nie. Ons kan ook in daardie geval bloot vashou aan die feit dat ons weet dat God gelyktydig regverdig en genadig is. Hy alleen sal daarom met reg oor iemand kan oordeel.

5. Wat daarvan as die laaste ding wat iemand gedoen het, ‘n sonde was?

Selfdood is waarskynlik die heel laaste daad wat iemand wat sy of haar eie lewe neem, doen voordat hy of sy sterf. Dit beteken egter nie noodwendig dat indien jy met jou laaste asem sondig, jy outomaties verlore gaan nie. Daar is slegs één sonde wat ‘n mens verlore laat gaan, en dit is wanneer iemand tot die laaste oomblik weier om in Jesus te glo – Joh 12:47 en 48. So iemand kan nie gered word nie, omdat hy of sy die Verlosser en God se enigste reddingsplan verwerp – Hand 4:12. Jesus noem dit in Matt 12:31 en Mark 3:28 en 29 die sonde teen die Heilige Gees, wat verwys na mense wat die evangelie gehoor het, maar daarteen gekies het – Matt 10:14 en 15; Joh 1:9-11. Dit is ‘n konstante bewustelike weerstand teen die oortuigingswerk van die Gees – Joh 16:8; Hand 7:51.

Iemand wat egter in Jesus as Verlosser glo, word van álle sonde vrygespreek en met God versoen, al pleeg hy of sy daarna ‘n sonde met die heel laaste asemteug – 2 Kor 5:18 en 19. 1 Joh 1:9 bevestig dat ons van álle ongeregtigheid gereinig word, wat sonde in die verlede, hede en toekoms insluit – Rom 3:25, 26 en 28; Heb 10:11-18. Selfdood is nie ‘n onvergeefbare sonde nie – Hand 13:38 en 39; 1 Joh 1:9. As iemand ‘n keuse vir Jesus gemaak het, en tog daarna weer sondig, behoort daardie persoon nog steeds aan God – Rom 8:1. Alle gelowiges wat tot bekering gekom het, doen nog steeds daarna sonde, maar gaan nie as gevolg daarvan weer van vooraf verlore nie – Rom 7:17-25. Hulle is reeds gered omdat hulle in Christus glo – Rom 10:9-11. ‘n Mens hou nie op om God se kind te wees as jy sondig nie – Ef 1:13. Natuurlik wil die Here nie hê dat sy kinders sonde moet doen nie, juis omdat ons uit dankbaarheid vir wat Hy aan die kruis gedoen het, nuwe lewens moet leef, máár Hy skryf jou beslis nie af wanneer dit wél gebeur nie. Niks, nie eens die dood, kan ons van God se liefde skei nie (Rom 8:38-39) en niemand kan gelowiges uit sy hand ruk nie (Joh 10:27-29). Selfs al was ‘n kind van God se laaste oomblikke vol sonde, trek dit nie ‘n streep deur God se genade nie.

6. Wat gebeur as iemand wat selfdood pleeg, nie daardie sonde betyds kon bely nie?

Sondebelydenis is nie net terugwerkend nie – in ander woorde dat jy nét vir sonde wat jy reeds gedoen het, vergifnis kan vra nie. Dit is ook vorentoewerkend, wat beteken dat wanneer jy God se kind word, sy vergifnis nie eers ‘n realiteit is sodra jy élke liewe sonde spesifiek by name bely het nie, maar dat dit reeds waar is wanneer jy in geloof op sy genade reageer, omdat dit slegs afhang van Jesus se volledige betaling vir al jou sonde – Kol 2:13 en 14. God vergewe daarom nie eers ‘n spesifieke sonde wanneer jy dit klaar bely het nie. As dit wél so gewerk het, was alle gelowiges in groot moeilikheid, want sê nou net jy vergeet dalk om ‘n spesifieke sonde voor jou dood te bely, of jy kry dalk nie die geleentheid om dit te doen voordat jy sterf nie? Jesus het tog reeds vir elke sonde van sy kinders gesterf en betaal – dit sluit in dié wat reeds gedoen is sowel as dié wat nog gaan kom.

Selfs al het iemand wat reeds aan Jesus behoort dan selfdood gepleeg, en nie ‘n kans gehad om daardie sonde te bely nie, beteken dit nie dat God hom of haar nooit daarvoor sal vergewe nie. God vergewe sonde op grond van ons geloof in Jesus – nie omdat ons onthou het (of selfs die geleentheid gehad het) om elke liewe sonde een vir een te bely nie. Indien dit wél so was, sou daar geen verskil wees tussen ‘n gelowige wat selfdood pleeg, en ‘n gelowige wat nét voordat hy of sy aan die slaap raak, enige ander sonde pleeg en daarna in sy of haar slaap sterf nie.

Die moordenaar aan die kruis is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat gered is deur sy geloof in Christus, alhoewel hy nooit die geleentheid gehad het om al sy sonde een vir een te bely nie – Luk 23:40-43. Slegs sy geloofsbelydenis in Jesus was voldoende om gered te word, want dit het ook die erkenning ingesluit dat hy sonder Jesus verlore is. Tog het hy nooit die kans gehad om vir een sonde na die ander verskoning en vergifnis te vra nie, maar is steeds oombliklik deur Jesus die paradys beloof.

7. As ‘n kind van die Here selfdood pleeg, beteken dit dat hy of sy ophou glo het?

Niemand kan regtig weet wat in die laaste oomblikke tussen ‘n sterwende persoon en God gebeur nie. Selfdood van ‘n gelowige beteken egter nie noodwendig dat iemand aan die einde van sy lewe vir Jesus verwerp het, en summier ophou glo het nie. Dikwels vind selfdood plaas in ‘n oomblik van irrasionaliteit, vrees en wanhoop: mense ervaar gevoelens van oorweldiging, en poog om uit hulle onmiddelike omstandighede te ontsnap. In baie gevalle is dit ‘n impulsiewe en emosionele daad, wat in ‘n verboureerde of wanhopige oomblik geskied, wanneer selfs ‘n gelowige geheel en al perspektief verloor en sy of haar verhouding met Christus se lig verdof, of die Heilige Gees se stem deur paniek, angs of moedeloosheid oordonder word.

Alhoewel navorsers meen dat baie selfdoodgevalle nie impulsief is nie, maar beplan word, is die tydperk vooraf, waarin die selfdood beplan word en wat na die daad oploop, gewoonlik wél strydig met die werklikheid, geskied dit nie in nugterheid nie en is dit volgens die impuls van die oomblik. Dit is ook waar in gevalle waar iemand oor ‘n lang tydperk aan depressie gely het. Alhoewel dit nie vir ons sin maak dat iemand in sekere omstandighede sy of haar eie lewe neem nie, bly dit vir ons moeilik om onsself in daardie persoon se situasie in te dink.

Ons sal nooit weet of iemand wat selfdood gepleeg het, dalk nie met die daad sou voortgaan nie, of dalk spyt sou kry, sou hulle moontlik weer perspektief kon verkry en die oomblik van oënskynlike irrasionaliteit en impulsiwiteit verby gegaan het. Ons kan wel glo dat die Here hiervoor genade het en dat selfdood nie noodwendig beteken dat iemand weens hierdie optrede‘n ongelowige geword het nie. Selfdood is sonde, maar dit is nie ‘n groter of erger sonde as enige ander nie. Die enigste verskil tussen dit en ander sonde is wél dat, wanneer die daad deurgevoer word, dit onomkeerbaar is. Dit kan nie reggestel of uitgevee word nie – dit is permanent omdat dit ‘n einde aan die mens se aardse bestaan soos ons dit ken, beteken. Miskien daarom reageer ons gewoonlik anders daarop – dit lyk aan die een kant so sinneloos en onnodig, maar aan die ander kant so finaal.

8. Kan ‘n wáre Christen selfdood pleeg?

‘n Christen is mos veronderstel om te glo, en moet hoop, vrede en vreugde hê, of hoe? Jesus bly tog binne ‘n gelowige, en die Heilige Gees is mos bý ‘n kind van die Here, nie waar nie? Ja, natuurlik is dit alles waar, máár ‘n Christen is ook nog steeds ‘n gebroke en feilbare mens. ‘n Gelowige behoort wél aan Jesus, en is daarom gered, maar maak steeds foute. Christene worstel ook met versoekings en sonde – Rom 7:15; 19-21. Ook gelowiges het nog glad nie gearriveer nie – Fil 3:12-14.

‘n Christen kan daarom beslis nog sonde doen – ook selfdood pleeg. In die Bybel is daar selfs gevalle waar gelowiges se lewens so moeilik geword het dat hulle gewens het hulle is dood: 1 Kon 19:2-4; Job 6:8-11; Jer 20:14-18; Jona 4:3-8. Christene is nie van enige sonde gevrywaar nie, juis omdat dit Christus is wat volmaak is, en nie die Christen self nie. Daarom bly dit baie belangrik om die Here só deel van ‘n mens se lewe te maak, en die Heilige Gees só te vertrou, dat ‘n mens al hoe meer teen sonde kan veg en versoekings kan weerstaan. ‘n Christen moet egter nooit met die houding rondloop dat hy of sy nié kan val nie – ‘n gelowige moet te alle tye afhanklik van die Here bly, anders kán hy of sy ook aan versoeking toegee en fouteer – 1 Kor 10:12 en 13.

9. Mag ‘n Christen selfdood pleeg omdat hy of sy in elk geval gered word?

Ons mag God nooit uittart of misbruik nie – Matt 4:5-7. Ons mag nie God se genade en liefde as verskoning gebruik om te sondig nie – Rom 6:1-14. Ons kan nie nou maar sonde doen omdat ons onder die genade staan nie – Rom 6:15. Ons is tog nie langer slawe van die sonde nie – Rom 6:6. Selfdood is in elk geval maar net ‘n tydelike “uitweg,” al voel dit op ‘n gegewe oomblik asof dit ‘n finale oplossing kan bied. Dit beteken nié noodwendig dat God jou gaan straf oor jou verkeerde besluit nie, máár sy liefde en genade gaan jou wel konfronteer en aanspreek oor wat jy gedoen het.

10. Hoe moet ek voel teenoor iemand wat selfdood gepleeg het?

Om kwaad te wees vir iemand wat selfdood gepleeg het, is glad nie ‘n onbekende emosie nie. Dikwels beskuldig hulle wat agterbly, die persoon wat selfdood gepleeg het van selfsug en kortsigtigheid. Onvergewensgesindheid teenoor so iemand, is ook ‘n heel menslike reaksie, veral weens die gevoel dat die persoon se optrede die liefde, waarde of gevoelens van sy of haar geliefdes misken het. Aan die ander kant kan hulle wat agterbly, moontlik kwaad voel vir hulself omdat hulle dalk meen dat hulle die tekens moes gesien het, of iets meer drasties moes doen om dit te voorkom. Skuldgevoelens oor die rol wat hulle wat agterbly miskien in die selfdood kon gespeel het, kom ook dikwels voor. Agterblywendes kan selfs vir die Here kwaad wees, omdat hulle van mening mag wees dat Hy dit kon verhoed het of nie moes toelaat dat dit gebeur nie.

Tipiese emosies wat aanvanklik deur die gemoedere van die agterblywendes spoel, is gevoelens van skok en ongeloof. Vrees is ook nie ‘n ongewone ervaring nie, omdat die wat agterbly dalk bang mag wees om weer te vertrou en lief te hê. Selfs ‘n gevoel van verligting kan by iemand wat agterbly voorkom, veral in ‘n geval waar die persoon al vir ‘n geruime tyd met selfdood worstel of dreig, en sodoende ‘n houvas of beheer oor só ‘n iemand se lewe verkry het, en die agterblywende heimlik dankbaar is dat die vrees en spanning uiteindelik verby is. Skaamtegevoelens is ook ‘n algemene belewenis, omdat dit sleg is om aan ander te moet erken dat iemand naby aan jou selfdood gepleeg het, weens die stigmatisering wat daarmee gepaard gaan.

11. Slot

Die Here het ons innig lief, en wil ons teen onnodige seer beskerm – ook dié soort pyn wat juis met selfdood gepaard gaan. Vir hiérdie rede, miskien meer as enige ander, is dit teen sy wil dat iemand sy of haar eie lewe neem. Alhoewel mense mag dink dat hulle seer deur selfdood kan ontvlug, sien die Here die groter prentjie van die geweldige pyn wat so ‘n daad voorafgaan én tot gevolg het.

In 1 Kor 4:5 hoor ons dat ons nooit te vinnig of te vroeg ‘n oordeel oor ‘n ander moet uitspreek nie. Die Here wil hê dat ons, sekerlik ook wat selfdood betref, die veroordeling liewer aan Hom sal oorlaat – Rom 12:19. Al wat ons kan doen, is om te bid dat God die persoon wat selfdood gepleeg het, genadig sal wees, en hulle wat agterbly en diep daardeur geraak word, sal troos en omvou. Ons kan maar net innig jammer voel vir ‘n persoon wat so ‘n tragiese uitweg gekies het, veral weens die worsteling wat hy of sy sekerlik moes deurmaak in die oploop na so ‘n drastiese en uitsiglose optrede.

142 views0 comments

Recent Posts

See All

Commentaires


bottom of page