top of page
Search
  • Writer's pictureBen van Tonder

Wie is Jesus?

Jesus – noem sy Naam, en reaksies is uiteenlopend: positief sowel as negatief! Praat oor Boedha, Krishna of Brahma en almal is rustig; praat oor Jesus en almal reageer: “Wow, stadig oor die klippe, moenie daar gaan nie!” Hoekom is Hy so kontroversieel? Loshande sy unieke aanspraak: “Ek is God!” Nié Boedha, Krishna, Confusius, Mohammed of Ghandi het dit ooit gewaag nie – nét Jesus was só radikaal! Daar is egter diegene wat probeer voorgee dat Jesus nooit Homself as God beskou het nie, maar dat daardie Goddelike eienskappe later deur sy dissipels aan Hom toegeken is.

Is daar enige waarheid aan hierdie aanspraak?

(i) Sê die Bybel Jesus is God? Matt 1:23 – “Immanuel beteken God by ons!”

(ii) Sê Jesus sélf Hy is God? Matt 26:63 – Hoëpriester: “Is jy die X? Dit is soos u sê!”

(iii) Sê buitestaanders Jesus is God? Joh 10:33 – Die Jode kla Hom juis daarvan aan!

(iv) Sê die dissipels Jesus is God? Matt 16:16 – Petrus bely: “U is die Christus!”

(v) Is Jesus ooit in die Bybel aanbid as God? Luk 24:52 – By sy hemelvaart!


Kan ons die Nuwe Testament se beskrywing van Jesus glo? Ons het meer as 5 700 Griekse kopieë van die Nuwe Testament; vergelyk dit met énige ander Griekse geskrifte: skrywers met 2de meeste se manuskripte is ‘n halwe meter hoog teenoor Nuwe Testament se byna 2 kilometer hoog! Daniel Wallace: “The quantity and quality of the NT manuscripts are unequalled in the ancient Creco-Roman world.” Al 4 die Evangelies is geskryf bínne 30-40 jaar ná Jesus se kruisiging – baie van die ooggetuies leef nog, en kon die feite kontroleer.


Kan ons Jesus glo? Met respek gevra: het Hy dalk gejok? Was Hy dalk kranksinnig? Het sy volgelinge dit dalk opgemaak – was dit ‘n sameswering? Indien nié, bly slegs één verklaring oor: Jesus is presiés wie Hy gesê het Hy is. Wat is die grootste bewys daarvan? As Jesus gejok het of kranksinnig was, sou Hy gesterf het en dood gebly het! Die Bybel verklaar egter Hy het uit die dood opgestaan: 1 Kor 15:17-20. As Jesus se volgelinge dit opgemaak het, sou dit nooit geheim kon bly nie. Ons kán dus Jesus, die Nuwe Testament en die dissipels glo.

Jesus is uniek! Hy staan heeltemal alleen in ‘n kategorie van sy eie! Hy was nie bloot ‘n mens wat God geword het nie – Hy is Gód wat méns geword het! Ons sê dikwels: Niemand is perfek nie…” Jesus sê: “Ek is!” Daarom kan Hy sonde vergewe, daarom kan Hy in ons plek betaal vir ons sonde, daarom is Hy die vlekkelose Lam wie se bloed ons skoon was! Maar Hy is ook volledig mens – nie ‘n halfmens, demi-god of slegs metafories mens nie: Hy is wáre God én wáre mens!


In die Nuwe Testament word Jesus ‘n profeet (Luk 24:19) priester (Heb 9:11) en koning (Mat 27:11) genoem; nóóit in die Ou Testament was daar iemand wat al 3 ampte beklee het nie; dit sou onmoontlik wees weens die omvang van verantwoordelikhede. Jesus beklee al 3 ampte gelyktydig! In Hom is die Ou Testament in totaliteit vervul!


In Eks 3:14 stel God Hom aan Moses bekend: “Ek is wat Ek is.” Dit sluit aan by Eks 3:6: “Ek is die God van jou voorvaders.” Oral deur die Ou Testament is dit hoe God na Homself verwys, bv in Jes 41:4b: “Ek is die eerste!” en Jes 43:15: “Ek is die Here!” Jesus gebruik doelbewus hierdie bekendstellingswoorde van God in die Johannes-evangelie: “EK IS...”

Hy maak 7 Ek-is-uitsprake in Joh 6:35, Joh 8:12, Joh 10:7, Joh 10:14, Joh 11:25, Joh 14:6, Joh 15:1: “Ek is die brood, Ek is die lig, Ek is die ingang, Ek is die goeie herder, Ek is die weg, waarheid en lewe, Ek is die opstanding en lewe, Ek is die wingerdstok!”


Heeltyd hoor ons dieselfde Godsrefrein in Johannes: “Ek is, Ek is, Ek is!” In Joh 4:26 gebruik Jesus die Ek is-uitspraak in omgekeerde formaat as Hy die vrou antwoord oor Wie Hy is: “Dit is Ek,” in ander woorde, “Ek is die Messias!” In Joh 8:28 gebruik Jesus God se presiese woorde van Eks 3:14: “Ek is wat Ek is.” In Joh 8:58 gebruik Jesus die Ek-is-uitspraak om te bevestig dat Hy die “Ek is” van die Ou Testament is: “Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.” Letterlik staan daar in die Grieks: “Voor Abraham was, Ek is.” Hier sluit Hy aan by die beskrywing van Hom in Joh 1:1, wat op sy beurt weer aansluit by die eerste woorde van Gen 1:1: “In die begin... Ek is...” “Voordat daar nog ‘n begin was, Ek is...” Die argument dat Jesus nooit na Homself as God verwys het nie, maar dat sy volgelinge daardie Goddelike eienskappe aan Hom toegedig het, word in Joh 10:30 deur Jesus sélf weerlê: “Ek en die Vader is een!” Neem die ekstra woorde, “en die Vader, een” in hierdie verklaring weg, en “Ek is” bly oor! Jesus het Homself as God bekendgestel, en Hy is ook van die begin af so bely en aanbid!


Deur die jare het mense 2 tegnieke gebruik om Jesus in diskrediet te bring: deur Hom te verlaag tot ‘n gewone mens; deur hulself te verhoog tot op sy vlak: in beide gevalle het Jesus gelyk aan ons geword! Hy hoef nie aanbid te word of as Here erken te word nie. Máár hierdie is nié die ware Jesus nie: die wáre Jesus is God én mens tegelyk! Lee Strobel: “We are not his equals. We do not occupy the same stratum or possess the same status. He is God, and we’re not!” Om dit te erken, het egter ernstige gevolge: Jesus kan alles van ons eis – dáárom die weerstand! CS Lewis: “Christ says: Give me all. I do not want some of your time and some of your money and some of your work: I want you! I have come to kill your natural self. I will give you a new self… I will give you Myself!” Jesus maak steeds vandag ‘n appèl op ons lewens, want Hy kán! Hy is presiés wie Hy gesê het Hy is; Hy is presiés vir wie Hy bely en aanbid is.

71 views1 comment

Recent Posts

See All

1 Comment


Mariaan Fourie Du Preez
Mariaan Fourie Du Preez
Jun 07, 2021

Baie dankie Ds Ben, dit is pragtig en Baie insiggewend, ek het gelees en weer gelees. Ek het dit altyd geglo, maar nou verstaan ek dit Baie beter!!!!! 🙏🙏🙏

Like
bottom of page