top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Waarvoor kan ek vir Zuma bid?

Gebed is nie bedoel om allerlei dinge by God te kry of Hom by ons planne te laat inkoop nie – dit is die onderwerping aan sý wil. God se wil moet seëvier, en ons eie wil moet aan sy wil ondergeskik gestel word. Jesus het ons immers leer bid: “Laat u wil geskied.” Hy bid sélf ook in Luk 22:42 die heel belangrikste en mees ingrypende gebed in die hele geskiedenis: “Laat nie my wil nie maar u wil geskied.” Gebed is oorgawe aan God. Solank as wat ons bloot op ons eie behoeftes fokus, gaan Jak 4:3 ook vir ons geld: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle eie selfsugtige begeertes bevredig.”

Hoe kan ons dan “reg” bid? Gaan dit oor die regte tegniek of woorde? Nee, ‘n mens bid verkeerd wanneer jou motief nie suiwer is nie of jy vir die verkeerde dinge vra. Om reg te bid, is om binne God se wil te bid! God se wil is ook nie so moeilik om te vind nie – dit is duidelik en volledig in sy Woord opgeteken. Sou God byvoorbeeld ‘n gebed verhoor waar ons vra dat president Zuma ‘n hartaanval moet kry en sterf sodat ons hom met ‘n nuwe president kan vervang? Nee, want God maak nie dood en bring nie slegte dinge oor mense nie (Jak 1:17) en ‘n nuwe president is nie die oplossing solank die res van die land steeds dieselfde bly nie.

As ons egter ophou om téén president Zuma te bid, maar liewer vír hom te bid, sal ons ‘n beter kans hê op gebedsverhoring. Ons sal reg begin bid as ons eers vra vir ‘n hartsverandering by onsself. Dalk iets soos: “Here, wat moet by mý verander, sodat ek vir my president kan bid?” Natuurlik moet ons hard en duidelik sê as ons leiers dinge doen wat nie volgens God se wil is nie. Daar ís ruimtes en maniere om dit te doen, en ons moet vreesloos daarvan gebruik maak. Solank ons egter vernederende en beskuldigende boodskappe op sosiale media rondslinger, bewys ons aan almal dat daar nog niks by onsself verander het nie. Dan is ons nog deel van die probleem eerder as die oplossing.

17 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page