top of page
Search
  • Dr Ben van Tonder

Vroue in die vroeë kerk

Van die begin af was vroue instrumenteel in die Nuwe Testament – Hand 22:4 en 5. Eerstens was die taak van rolmodellering en geloofsvorming van die jonger geslag aan hulle opgedra – Tit 2:3-5. Tweedens het hulle aan die samekoms van die gemeente deelgeneem deur te bid en profeteer – 1 Kor 11:5. Derdens het hulle leiersrolle in die gemeentes en bediening vervul. Van die apostels soos Jakobus en Petrus, se gelowige vroue het hulle op ampsreise vergesel – 1 Kor 9:5. 1 Tim 3:11 lig die besondere amp van die vrou as diaken uit, terwyl 1 Tim 5:2 aandui hoe vermaning onder ouer en jonger vroue geskied. 1 Tim 5:16 bevestig die merkwaardige taak van die gelowige vrou as versorger in die gemeente.

Alhoewel vroue nie in die openbare byeenkomste moes praat nie (1 Kor 14:34) en ook nie mans moes leer nie (1 Tim 2:11 en 12) kan hulle plek in die vroeë kerk nie onderskat word nie. In Luk 8:2 en 3 vertel Lukas van ‘n aantal sterk vroue wat deel van Jesus se dissipelgroep was: Maria Magdalena, Johanna, ‘n vooraanstaande vrou van ‘n hoë amptenaar in koning Herodus se paleis, en Susanna, was almal vermoënde vroue wat uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg het. Lukas dokumenteer die ontmoeting van Jesus met die twee Emmausgangers in Luk 24:13-35, wat na alle waarskynlikheid dieselfde egpaar was waarna Joh 19:25 verwys, naamlik Klopas of Kleopas en sy vrou Maria, wat saam met Jesus se Moeder en Maria Magdalena by die kruisiging teenwoordig was.

Volgens Joh 20:11-18 en Mark 16:9 en 10 was vroue die eerste getuies en mededelers van die die opstanding van Jesus: Maria Magdalena, Maria, die Moeder van Jesus en Jakobus, en Salome, het Jesus se opstanding die eerste keer aangekondig. In Hand 16:11-40 hoor ons van Lidia, ‘n besigheidsvrou wat met wolmateriaal handel gedryf het, en skynbaar ook ‘n huiskerk gelei het. Hand 9:36 noem Dorkas ‘n barmhartige vrou wat veral die armes met groot sorg gehelp het. In Hand 21:9 word van Agabus se vier ongetroude dogters vertel wat die gawe besit het om te profeteer en dus hoog gerespekteerde leiers was.

In Rom 16:1 en 2 vermeld Paulus die diaken Febe, wat hy as ‘n suster in die Here beskou, en beveel hy haar as medewerker by die gemeente aan. Rom 16:3 praat van Priscilla, wat as ‘n medewerker van Paulus opgetree het, en volgens Hand 18:26 ‘n groot rol in die onderrig van Apollos gespeel het. Rom 16:6 verwys na Maria, wat in die provinsie Asië ’n sterk ondersteuningsrol gespeel het. In Rom 16:12 stuur Paulus groete aan Trifena en Trifosa, wat hy as ywerige werkers vir die Here beskryf, asook aan Persis, vir wie hy groot waardering gehad het. Rufus se Moeder kry in Rom 16:13 besondere vermelding van Paulus, en in Rom 16:15 word Olimpas ook deur hom uitgesonder. Junias en Andronikas in Rom 16:7 was heel waarskynlik ‘n egpaar, en Junia was ‘n hoog aangeskrewe vrou by die apostels.

1 Kor 1:11 verwys na Chloë, wat heel waarskynlik ‘n geestelike leier onder die gelowiges in Korinte was. In Kol 4:15 dra Paulus sy groete oor aan Nimfa, wat haar huis beskikbaar gestel het vir die gemeente en moontlik geestelik leiding geneem het tydens byeenkomste. Volgens Fil 4:2 en 3 word die medewerkers, Euodia en Sintige, deur Paulus vermaan om in eengesindheid te leef. Timoteus het volgens 1 Tim 1:5 ‘n Christelike opvoeding by sy ouma Loïs en sy ma Eunice ontvang, wat waarskynlik ‘n direkte invloed op sy roeping as leraar uitgeoefen het. Jürgen Moltmann beaam die belangrikheid van vroue: sonder vroue sou ons geen kennis van die opstanding van Jesus gehad het nie.

40 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page